Hennie Aucamp. Dryfhout. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN 0 624 04362 2.
Resensent: Joan Hambidge
Hennie Aucamp
is veral as beoefenaar van die kortkuns bekend in Afrikaans. In hierdie genre
het hy ‘n paar uitmuntende en selfs klassieke verhale geskryf en sy bundel Volmink is waarskynlik sy mees
bevredigende bundel. As teoretikus oor die kortverhaal, het hy eweneens
belangwekkende tekste gelewer.
Die konvensie
dat skrywers net tot een genre mag behoort, word gelukkig deur Aucamp as digter
afgebreek. Op die hakke van sy vorige bundel Hittegolf verskyn die jongste bundel Dryfhout – met ‘n omslag wat die verliteratuurdheid van die bundel
wil beklemtoon.
Daar word
aangekondig dat dit veertig verse, d.w.s. nie gedigte nie, bevat waarmee Aucamp
dan die leser wil lei na die diskoers wat hy gaan aanbied. Die motto, ‘n
volksuitdrukking”, “As jy ‘n dreunvuur wil hê in jou ouderdom, moet jy vroeg al
begin sprokkel en brandhout vergader”.
Die digter dus
as sprokkelaar, as versamelaar, as opteller, as dief is die deurlopende tema in
hierdie bundel. Die digter ‘steel’ uit die kuns en maak daarvan lewe soos die
openingsgedig alreeds aandui:
Die roemer,
die wyn, die karaf
(by ‘n
sewentiende eeuse stillewe)
Uit watter
stofbedekte bottel
is dié karaf
gevul?
Karaf staan
buikig langs ‘n skottel:
sy oesjaar
ewiglik verhul.
Van Wyk Louw
se “Miskien sal ek die wingerd prys” word dan intertekstueel aangeraak. Die
digter wat skep uit die ‘reeds gevormde literatuur’ en daarvan iets nuuts kan
maak. By Aucamp is daar die insig dat ‘n mens se lewe kortstondig is. Dat dit
as’t ware al is wat jy het.
Hierom is daar
‘n verwondering aan die alledaagse (via ‘n stillewe van Chardin) en die
implisiete outeur waarsku ons na die vergeefse soeke van ‘n moraal of subteks.
In vele van hierdie gedigte hoor ‘n mens die kabarettis se stem, byvoorbeeld in
“T.V.-advertensie” se slot:
Elektronies
word ontbloot:
die ware nature morte is dood.
Slotte is
sleutels het ‘n groot digter ons gewaarsku en die teoretikus Barbara Herrnstein
–Smith maak groot gewag van wat die einde van ‘n gedig alles kan inhou vir die
leser.
Die eerste
afdeling “Dieper as stilte” word opgevolg met “In kleigeel gedroom” waar die
(mitologiese) plaaswêreld van Aucamp se jeug in ‘n gedig opgevang of gestulp
word:
In kwynende
kleure stap ‘n skemerstoet
hul mitologie
en trans tegemoet.
Die skrywer se
bewondering vir die San-kultuur word bely in “Holspruit”. Die wete “die son
trek water,/dis tyd om te ry” word ‘n metafisiese insig in die gedig “Die óú
possie”. Die mitologiese Matjiesfontein en Olive Schreiner se belewenis van
hierdie landskap, kom mooi bymekaar uit in ‘n duiwevlug wat op sy beurt Etienne
van Heerden se In stede van die liefde oproep. Langenhoven en
Meiringspoort ( met die insig dat die natuur die baanbreker is!) het sy pendant
in die semi-satiriese “Kolmanskop: ‘n shoot-out” waarin ‘n videoster se gaasrok
sleep:
Die son brand
ál feller, word ‘n beletsel:
sweet breek ‘n
baan deur haar dik blanketsel.
Die
“Richertsveld: ‘n bergskap” word raak beskryf as ‘n sandglas wat leeg loop,
maar weer gevul word. Die titelgedig “Dryfhout” som ‘n primordiale gegewe op,
‘n bekende aanslag in Aucamp se oeuvre, dat die grootste kuns juis uit die
tragiese en die visionêre ontspring. As’t ware die dwarsdradigheid van die lewe
soos “Vir vier stemme” dan illustreer.
“Die
terracotta krygers” word opgedra aan Hermien Dommisse, daardie voorste
teatervrou en in die derde afdeling “Ses eed’le here van weleer” begin met ‘n
gedig oor I.D. du Plessis wat die Bo-Kaap en verdringde homoseksuele liefde in
sy gedigte besing het. Die verswyging
van die “vreemde liefde” is juis dit wat Du Plessis se gedigte so ontroerend
maak en die vraag hier is:
het iemand
ooit dié doek brutaal gelig,
en jou winduit
gesoen, baldadig en boers?
Twee ander
figure wat saam met Du Plessis geplaas word, is Johannes Meintjes en Ernst van
Heerden. By Meintjes gaan dit om die enorme verbeelding, terwyl by Van Heerden
die “astrak van jou vrees” vooropgestel word.
Arnold Blumer,
Duitse vertaler en teaterman, Johan van Rooyen, kunskenner en voormalige
redakteur van De Kat, Jan Schutte, radioman, se lof word besing. Persoonlike
herinnering en ervaring word gekoppel aan die bydrae van die persoon wat onverwags
deur die dood oorval is.
In die
afdeling “Waar is die Styx, en waar die obool?”
word verskillende mitologiese figure beskryf soos onder andere Orpheus
wat in “Ganumedes (2)” tot die klinkende slot lei:
O waar is die
Styx, en waar die obool
wat ‘n
seunskind verlos van die Mitiese Skool?
“Die
pilaarheilige” – wat al in Tristia beskryf
is – word hier debunk, want wanneer hy op die grond staan, is hy nugter en sien hy net dolmades en stront. En hierom
waarskynlik dan die speelse vers “Die Oop gesprek” wat lekker gekskeer met Louw
se siening.
Dan werk die
verse oor Mishima met die beeld-toepassing-binding kenmerkend van die sonnet.
In “Die knepe
en grepe van jag-poëtiek” word die diskoers van seksualiteit ontleed. Die mens
as jagter, uitgelewer aan sy eie (wel)lus en die patrone waarvan hy helaas
nooit kan ontglip nie. Die verse is ironies genoeg juis nie nostalgies nie,
maar eerlik, selfs wreed in die beskrywing van die menslike begeertes wat
alleen met ironie getemper kan word.
In die
slotafdeling, “Ten besluite” is daar ‘n egte “Shakespeare-sonnet” wat die
dreuning van die voorafgaande verse verbreek.
Vir die
stipleser is daar vele plesiere te vind in die vorm van die verse. Soms
paarrym, soms omarmende rym; soms word die beeld en toepassing fyn uitgewerk
wat teruggaan op die teorie van ‘n Renaissance-kenner wat meen Petrarca se
sonnette het juis in die oktaaf/sekstet uitgeval ten einde die spanning tussen
droom en werklikheid uit te bou. Hierom dalk die spel met verhulling en
onthulling in die vers “Kleopatra en Ptolemeus die Veertiende?”
Veral die
behendige hantering van die Shakesperiaanse sonnet dwing oneindige bewondering
af. Hoekom sou hierdie vorm Aucamp interesseer? Is dit omdat hy – soos Louise
Viljoen argumenteer in Die Burger van 3 April (“Gesofistikeerde pret, ook ná
eerste lees”) ‘n soort les wil oordra?
Dis al hierdie
vrae wat die boek so ‘n leesplesier maak.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Fine Music Radio geplaas.]