Pieter Wagener. Mantrakolie.
Protea Boekehuis, 2007. ISBN 1 86919 159 9.
Resensent: Joan
Hambidge
Mantrakolie dra
in sig die begrippe mantra en melankolie.
Die mantra (of spreuk) wat ons uiter om tot spirituele rus te kom
teenoor die melancholie wat bekend is aan die lewe met sy teleurstellings,
verydelinge en onverwagse insette. ‘n Opposisie dan tussen die spirituele en
die sekulêre dimensies kom in hierdie verhale na vore.
Die outeur,
Pieter Wagener, se vorige bundel heet Boereboeddhiste. Alreeds ‘n teenstelling
hier, want kán ‘n Boer ‘n Boeddhis wees? Dalk juis in die aanvaarding van die
lot.
Die jongste
bundel is deur Protea Boekehuis uitgegee en word op die agterplat geloof deur
‘n literator om die ‘besondere taalgevoeligheid’, ofskoon hierdie leser dikwels
vasgelees het teen die herhaling van dieselfde begrippe (pragtig byvoorbeeld)
op een bladsy. ‘n Ander literator meen die verhale spreek dikwels tot die
onbewuste. Is dit nie uiteindelik waar van alle sterk verhale nie? Die
identifikasie met die droom, pre-logiese of argetipe nie?
Die vertellinge is dikwels aweregs in aanbod en loop op ‘n oënskynlike ‘niks’ uit. Of sluit met ‘n soort ironie. Vele van die verhale laat die indruk van iets wat later tot klaarheid sal kom.
In “Iets
blywends” word ‘n bergpiek “Professorskop”, ‘n ironiese baken vir ‘n mens wat
in ‘n berggleuf verdwyn het. Van Wyk Louw se gedig oor die vallende man word
dus (onbewustelik) geaktiveer… Soos in die Louw-gedig is daar ‘n raaisel rondom
die vallende man. Was dit moord of selfmoord?
Die outeur gebruik dikwels die kleindorpse as vertrekpunt om ‘n dieper stelling oor die lewe te maak, maar nie altyd met sukses nie. Wel altans nie vir hierdie leser nie. ‘n Boerebasaar met sy Breughel-agtige aanslag waar kinders elke jaar verwek word en wat uitloop op ‘n swenk, is nie genoegsaam ontgin nie.
In “Genève” word die waarnemings van ‘n man gegee wat wag op ‘n trein. Op ‘n subtiele wyse word die homoseksuele ‘cruising’ rondom die fokalisator betrag. Hy baseer sy waarnemings op wat hy in Afrikaanse kortverhale gelees het. Dit is ‘n fyn analise van wát tydens ‘n reis gebeur en dat ‘n mens dikwels jou sin vir waardes en verantwoordelikheid verloor. Die verteller sit met ‘n Spaanse verhaleboek en ‘n wiskundeboek, wat opnuut ‘n soort opposisie in die vertelling aktiveer.
In “Die trok” word ‘n empatiese verhouding met ‘n motor uitgebeeld. Is hier sprake van ‘n geestesstoornis of ‘n ander kyk op die werklikheid? Die verhouding tussen Fransie en sy trok word op spannende wyse ondersoek en hierdie verhaal beweeg in die dimensie an die parapsigologie. Of is die verteller net onbetroubaar? Nietemin ‘n verhaal wat in versameling spookstories opgeneem moet word.
Die slotverhaal, “Qabalah” is werklik sterk in sy konkrete vergestalting van die kabbalisme wat op sy beurt weer inspeel op Etienne Leroux. Terloops, ons gebruik tog die Afrikaanse vertaling in tekste, nie waar nie?
Op die voorblad is daar ‘n venster wat oopmaak en ons na die landskap en ‘n kerkie laat kyk. Nie alle verhale het vir hierdie leser uit die verf gekom nie, maar die handvol sterk, oortuigende verhale sou wel in bloemlesings tot hul reg kom.
Vir my gevoel het vele verhale nog ‘n werkswinkel benodig. Maar dan bly ‘n verhaal soos “Ses grotes” nog lank in die geheue draal. ‘n Grimmige verhaal met ‘n swart slot.
Die verhaal
speel dikwels op ‘n outydse leefwyse in, soos “Die stoetteler”, met sy
mankoliekige goed wat eweneens nog ‘n betekenis van die titel aktiveer (p. 45).
In “Verkas” word die kwessie van uit die kas-klim via ‘n grap oor Diana en Elton John vertel. Gedronge en metafories.
Dit is nie verhale wat dadelik hul geheime prysgee nie. ‘n Mens lees dikwels weer, tob, dink na.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]