Tuesday, January 14, 2020

Rubriek | Poëtiese hoogtepunte vir 2019, 'n oorsig

Die afgelope jaar het daar verskeie en uitsonderlike digbundels in Afrikaans verskyn by NB-uitgewers, Protea en Naledi. Die onbekende Minimal Press het ook 'n bundel gelewer en daar was selfpublikasie.

Dit is goed om terug te kyk op die verskillende tendense in ons digkuns. Met 'n resensie lees 'n mens 'n bundel in isolasie en die volgende bundels is vir hierdie leser belangrike toevoegings tot ons poësie. Vir al die beswaardes, is hierdie bundels 'n bewys van 'n lewende digkuns.

Breytenbach se Op weg na kû (H&R) bevestig dat hierdie meester nie uitgeskryf is nie. Dis 'n hibridiese teks vol vertalings (vervellings), selfgesprekke, reisbeskrywings en besinnings oor die digkuns. Dit is 'n bundel wat leegheid ondersoek, maar paradoksaal juis die vol-heid van alles besê. Daar is uitveegedigte en leë gedigte, soos die titel al waarsku; maar ook woordoorloopsels (soos hy dit noem).

Ook die keuse uit sy liefdesverse Rooiborsduif (H&R) is 'n hoogtepunt – saamgestel deur Charl-Pierre Naudé – kan gelees word as verse oor die liefde en verse wat beskou kan word as 'n liefdesverklaring vir Afrikaans. "ein Fichtenbaum steht einsam" (126) is 'n eenvoudige, dog komplekse juweel van 'n vers.

'n pynboom staan eensaam
in die noorde op 'n kaal hoogte,
slaperig, slap met 'n wit kombers
omhul van ys en sneeu

hy droom van 'n palmboom
wat vér in die land van die môre
eensaam en swyend treur
op 'n brandende rotsmuur

wat 'n eenvoudige gedig!

Twee uitsonderlike vertalings het by Naledi verskyn: De Waal Venter se Vandag is boordensvol met pragvertalings van die Chileense digter Pablo Neruda, terwyl Daniel Hugo die kragtige Vlaamse digter,  Benno Barnard, vertaal in 'n bundel Die trouservies.

Vertalings verruim 'n digkuns en in die hande van behendige vertalers word die leser dikwels bekend gestel aan digters waarvan ons andersins nie sou kennis dra nie.

'n Heerlike verrassing is Thomas Deacon se Duifiedorings (Minimal Press).  Dit is volkspoësie – woordspeletjies, aardse verwysings en seksuele toespelings, die invloed van die natuur en die gesprek met God, is hier aanwesig.

die lewe is ‘n kaalvoetspoor

die lewe is ‘n kaalvoetspoor
een duin áf die anner duin óór
hoor jy’ie wind op sy doedelsak speel
weg issie spoor, net’ie sand bly oor

Twee debute wat beslis 'n tweede, derde lees werd is – en woeker met slim intertekste - is Pieter Hugo se Alchemie van my muse (Naledi) en Christo van der Westhuizen se Chrisalis (Naledi). 

By Hugo sou 'n mens kon besluit: 'n Sterk debuut met taaleksperimente, gesprekke (met Van Wyk Louw en gert vlok nel), besinnings, en ontginnings waar die gesprek oor Afrikaans voortduur.

Van der Westhuizen se verse werk met vervreemding en die raaisel van die digkuns via Sklovskij. Siekte, dood, familieskap en die funksie van die digkuns word ondersoek via literatuurteorie.

Hendrik J Botha lewer met Voorspraak (Naledi) 'n sterk tweede bundel soos Hennie Nortjé met Kryt (Queillerie). Beide spring flink oor hierdie hekkie.

By Botha is daar landskapverse en selfgesprekke:

My eie spieëlbeeld
versplinter in die water.

En wrang, swart humor:

Vasbeslote

Sedert die finale diagnose
verander jy jou lewenstyl:
hou op rook,
vermy alkohol,

begin stap en oefen,
eet drie porsies groente op ’n dag,
geen vet of suiker nie.

Jou doelwit nou waarskynlik
om voor Kersfees,
in ’n mediumgrootte
doodskleed te kan pas.

Die gesprek met Tom Waits en Leonard Cohen is besonder onthoubaar.

Nortjé se bundel aktiveer die kortstondigheid van alles (soos die verdwene Kryttydperk) en hoe broos die natuur is in die hande van argelose mense. Natuurhistoriese temas en digterlike besinnings kom aan bod.

Sowel Botha as Nortjé se verse is dikwels ironies in aanbod.

Loftus Marais se Jan, Piet, Koos en Jakob (H&R) gee beslag aan die gay-stem en is 'n behendige voortsetting van sy werk. 

Die digter wil hiermee die argetipiese wêreld van die cruiser aktiveer. Dis die Janalleman van die onderwêreld wat hier beskou word. Mans wat opgetel word in gyms (die Virgin Active), in donker stegies en op straat.

Hierom is daar 'n Jakob Engelstoeier, 'n Jantjie Skuinsdwars, Piet X, Jakobstaf, Piet Pixel, 'n Koos Merwe in die galery, 'n Geldpiet, Jan Bantam, Jan Balie, Bang Jan dooie Jan, 'n Ware Jakob ...

Daar is 'n mengsel van humor en melancholie aanwesig in hierdie bundel.

Pieter Fourie se Stof en ster (Naledi) is oënskynlik net volkse rympies, maar onder draai die duiwels rond. 

Skerfies gedigte, die optekening van 'n vervloë era, volksryme of -raaisels en die ontginning van ou woorde wat die wêreld van Louw se "Klipwerk" en Boerneef oproep.

Goljaartjie, poelpetaan, vrotpootjie, êprou, o.a. Die naamgewing is eweneens so bekend aan die landelike wêreld wat beskryf word soos kleinneef kosie harmansdrup, tant breggie koesisterkoningin, daantjie donnerpadda, dowe neef nathan waterfiskaal ...

Marlise Joubert in grondwater (Protea) ondersoek die afsterwe van 'n moeder. Die moeder – wat aan demensie ly – se lewe word karteer en die kind word nou die versorger en trooster in hierdie bundel. Haar eie kinders (en kleinkinders) kom ook aan bod in 'n bundel met selfrefleksiewe en meditatiewe verse.

Ronelda S. Kamfer in Chinatown (Kwela) beskou die lotgevalle van die afwesige vader, die dood van 'n moeder en bestaan van die bruinmens. So ook Clinton V. du Plessis se Verslag (Roepman uitgewers) waarin hierdie digter wat hom opsetlik buite die kanon hou, tog in gesprek tree met die tradisie (met fyn parodieë). Hy skryf oor sy lewe as boekhouer, siekte en die dood.

Hein Viljoen se Brisant ('n epiese gedig uitgegee deur Naledi) verdien ook vermelding. Dit is werklik uitsonderlik dat 'n digter so 'n analise maak van die politieke situasie en die lewe aan 'n universiteit van ene Jan wat in opstand kom teen 'n huwelik en die posisie van aanvalle teen wit mans. Postmodernisties in aanbod met intertekste van T.S. Eliot en D.J. Opperman, o.a.

Daar is iets vir almal dus. Van die Boeddhisme tot die volksvers; van die intellektuele studeerkamergedig tot die beskrywing van die genadelose, primordiale wêreld van die Noord-Kaap. Oor ouers en kinders word daar gedig. Oor politieke onreg en in verskillende vorme van Afrikaans: standaard tot Kaaps tot die Afrikaans by Kenhardt verby. Ongelowig tot 'n aktivering van Die Bybel.

In Neruda se woorde: daar is geen digters nie, net 'n digkuns met 'n tapisserie van onthoubare verse.

 © Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, January 11, 2020

Resensie | Anthea Pretorius – Haiku from the tip of Africa (2019)

Anthea Pretorius – Haiku from the tip of Africa. Naledi, 2019. ISBN 978 0620 7 1 3221

Resensent: Joan Hambidge

'n Haiku (haikoe / hokku) is 'n tradisionele Japanese gedig wat uit 3 reëls bestaan. Die eerste en laaste beslaan 5 sillabes en die middelste een 7. Dit is gewoonlik 'n gedig wat oor die natuur en die verganklikheid van alles handel.

Basho en Yosa Buson is die bekendste beoefenaars. So lui Kobayashi Issa se gedig (vertaal deur Jane Hirsfield):

On a branch
floating downriver
a cricket, singing.

In 1686 het Matsuo Bashō die volgende een geskryf wat ons almal ken:

Old pond
Frog jumps in
Sound of water

H.D., Ezra Pound, Jack Kerouac, onder andere, het haikoes gepleeg en in ons plaaslike Engelse letterkunde die digter Charl JF Cilliers en Marié Heese. In Afrikaans het Eveleen Castelyn pragtige haikoes en tankas gekomponeer:

Roosblare bêre
hartvormig in die laaie
die as van liefde

(uit: Minder as die engele, 1990).

Kortom, dis 'n uiters komplekse digvorm met die kira of snypunt tussen die abstraksie en konkrete beeld.

Die mono no aware, oftewel, die skoonheid in die verganklikheid of efemere is eweneens bekend aan hierdie digvorm.

Die kigo (seisoenale woord) is eweneens aanwesig in hierdie soort gedig.

Haiku from the tip of Africa deur Anthea Pretorius is dus aanpassings van hierdie vorm. 
Haar gedigte is dus eerder 'n gendai haiku eerder as die konvensionele een. (Gendai beteken modern of eksperimenteel.)

Pretorius ondersoek die opposisies van Afrika: geweld versus skoonheid; wreedhede en sagtheid. Sy transporteer dus hierdie vorm na Afrika soos die digters Charl JF Cilliers en Marié Heese.

Pretorius is in Botswana gebore en haar gedigte word telkens met verduidelikings begelei. Sy skryf oor olifante o.a.  bekend aan daardie landskap  en die gevare wat hierdie diere inhou.

So skryf sy oor 'n ronkedoor:

24

With ponderous bulk
the old bull sags in the swamp,
here to perish soon.  (26)

In sy bundel Karoo: Haiku Variations (2012) maak Cilliers die volgende sinryke opmerking: “In the postmodernist world of hyperactivity, the haikuesque experience is a refuge of outer- inner reflection, of acceptance of stillness, of the beauty of transient things…”

En dit is presies wat Pretorius regkry.

75

On the spine of the
mountain purple-blue, trees stand,
tall and defiant.   (65)

73

Majestic snowy
peaks persistently poke the
panoramic sky.   (64)

En ja daar is ook slange waaroor gedig word. Mamabas en kobras en rinkhalse. En leeus, 'n meerkat en voëls.

39

Fish Eagle, your cry
The essence of Africa!
Echo in my soul.     (40)

'n Klein, delikate bundel wat waarskynlik veral by reisigers uit vreemde lande sal aanklank vind. Dit het 'n plek ingeneem langs ander uitsonderlike beoefenaars van hierdie versvorm.

Neffens Hélène Kesting:

Huisie in die reën,
sy groen staandakkie laag
oor sy oë getrek

© Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Friday, January 10, 2020

Filmrubriek | Parasite (2019)

I


Gewoonlik wanneer films te veel applous en akkolades ontvang, staan ek tru. Wag totdat die geraas verby is, maar Parasite van Bong Joon-ho, 'n Suid-Koreaanse film van verlede jaar, verdien al die erkenning. Dit is sopas bekroon by die Golden Globes as die beste buitelandse film.

Die verhaal gegewe is oorbekend reeds: 'n down-and-out gesin betree 'n rykmanshuis met identiteite wat aangeneem word as tutor, kuns-juffrou, sjef en chauffeur.  

In 'n uiters realistiese toneel sien ons hoe hulle ondergronds leef. Daar is geen wifi nie en hulle "steel" van die inwoners bó hulle vir 'n verbintenis.

Vir 'n lewe vou hulle pizza-bokse. Maar dit werk nie uit nie, want hulle verbrou die fyn aanwysings. Voor hulle beskeie tuiste urineer 'n man gereeld.

En dan. Die boetie neem sy vriend se posisie in as tutor en skep (via die internet) vals grade. Die sussie is nog slimmer. Sy besef die jong kind wat sy moet leer het 'n kunsprobleem en via die internet leer sy van kunsterapie. Die ma word die sjef wanneer hulle leuens oor die huidige sjef vertel en haar verdag maak by Meneer en Mevrou Parks: dat sy tuberkulose het en die pa gaan selfs na die Mercedes garage om alles uit te vind van moderne motors.

Hierdie swendelaars plaas 'n broekie in die ryk man se motor sodat die chauffeur gefire word en alles loop flink. Hulle trek almal wol oor die oë.

Die kenner van plotlyne vermoed dat die jong kind (hy heet Da-song) wat buite alle grense leef, die leuens sal ontmasker. Hy word deur sy ouers op die hande gedra, slaap selfs op die gras in sy Rooihuid-tentjie en manipuleer die ouers vandaar met 'n walkie talkie. Sy sussie speel tweede viool.

Hy het selfs eenkeer 'n spook gesien ... (Die kyker weet egter wié hierdie spook is ...)

Die dénouement is onverwags - selfs vir hierdie ou filmkyker.

Die baas en sy gesin het gaan uitkamp.

Die huis is in chaos. Die parasiete lê weg aan die whiskeys en die tutor (Ki-woo) lees selfs sy student se dagboek.

Die voormalige sjef daag onverwags een nag op, lui die voordeurklokkie en die vier swendelaars moet die deur oopmaak. 

Sy het iets vergeet in die huis.

En dan?

Daar is 'n bunker in die huis. Heeltemal geloofwaardige binne daardie wêreld waar mense moes wegkruip tydens oorloë. 

As jy die film wil gaan kyk, moenie verder lees nie. Dit gaan 'n spoiler wees.

Die vier verneukers ontdek 'n man (die voormalige sjef se man) ondergronds wat via morsekodes met die buite-wêreld kommunikeer. (Hy skuil hier om van loan sharks weg te kom.)

'n Bloedige twis ontstaan. 

En dan keer die gesin onverwags terug want die kind het nie die kamp geniet nie ...

Die huis word blitsig opgeruim en die sjef moet ook 'n eksotiese dis maak vir die kind.

Soos in Hitchcock se Psycho is daar dan verskillende vlakke in die huis.

Gelukkig kan hulle wegvlug van die huis, maar helaas is hul tuiste deur vloedwaters verswelg.

Die nag slaap hulle - saam met ander huisloses - in 'n gimnasium.

Die volgende dag word hulle deur hul werkgewers, die Parks, vir 'n verjaarsdagparty van die jong kind genooi.

Hulle gaan.

En 'n orgie van geweld breek los. Ki-woo betree die bunker met 'n rots, maar Geun-sae uitoorlê hom. Waneer die kind Geun-sae weer sien, is hy getraumatiseer deur die besoek van die spook. Meneer Parks en sy dogter word vermoor in 'n pornografie van geweld.

Ki-woo word wakker nadat hy in 'n koma was en word skuldig bevind aan bedrog. Hy lag ook onvanpas - waarskynlik weens die breinbesering.

Die vader (Ki-taek) oorleef nou in die bunker - en met die besoek van sy seun, sien hy die morsekodes.

Die slot aktiveer verskillende lesings. Is die tutor nog in die tronk? Fantaseer hy dat hy eendag so 'n huis gaan besit? Gaan hy eendag wel sy vader uit die bunker kan red?

Die film lewer kommentaar op die verskillende klasse in hierdie land en hoe die rykes uitermate ryk is en die armes sukkel om kop bo water te hou.  Dalk hierom dat water en oorstromings so 'n belangrike kode is?

Daar is baie humor. Swart humor soos Meneer Parks wat kommentaar lewer op hoe die werkers in sy huis stink. En tydens die geweldorgie gril hy weer vir hoe hulle ruik. En dit lei dan tot die aanval op hom en sy dood. 

En tydens die oorstroming in die beskeie tuiste spuit vuil water uit die toilet.

II

Psycho (1960) van Hitchcock het ook verskillende vlakke en die bloedige aanval op die speurder, Milton Arbogast en Marion, word ook deur hierdie film geaktiveer. 

En die moeder wat in die kelder weggesteek word, maar ontdek word as 'n mummie, is ook 'n verdere interteks.

Marion wat geld steel en dan wegry en Norman (haar fata) ontmoet en vermoor word in die beroemde storttoneel.

Die Bates-motel met Norman wat vir Marion vertel sy ma is psigies siek, teenoor die ryk huis van die Parks. Ons weet egter hy is die siek een wat Marion vermoor en die gesteelde geld (met haar lyk) in die nabye moeras instoot. Die soektog na Marion vind plaas en die speurder word deur 'n donker figuur doodgemaak. (Žižek in The pervert's guide to the cinema wys op hoe skokkend hierdie toneel is weens die onverwagsheid daarvan.) Wanneer daar ook na die speurder gesoek word, plaas Norman sy moeder se lyk in die kelder. 

Lila en Sam se soektog na Marion en die speurder lewer niks op nie en Lila is geskok wanneer sy Mevrou Bates se lyk in die kelder vind. Norman - met 'n pruik en in vroueklere - probeer Lila doodmaak met 'n sjefmes, maar Sam keer hom gelukkig.

In die gedaante van sy moeder, maak hy mense dood. Hy het indertyd uit jaloesie sy moeder en haar minnaar vermoor. En die psigiater wat Norman moet verdedig verduidelik in die hof hoe sy gesplete persoonlikheid funksioneer. Uiteindelik word die motor - met Marion se lyk daarin - uit die moeras gehaal.

'n Duideliker simbool van die donker onbewuste kon sekerlik nie gevind word nie.

III

J. Hillis Miller verwys in sy bekende artikel oor die parasiet en die gasheer hoe tekste op mekaar teer in Deconstruction & Criticism (1980). Staan dit in hierdie teks of is die kritikus ook 'n soort parasiet wat op ander tekste teer?

Die regisseur van Parasite sou bepaald kennis geneem het Anthony Perkins en Janet Leigh se vertolkings.  Hier is eweneens 'n Lacaniaanse "Chinese whisper" aanwesig en die verwringing van die oorspronklike boodskap, soos dit oorvertel word.

Parasite is 'n uitsonderlike film wat kommentaar lewer op die konstruksie en nabootsing van die self, soos Lacan dit beskryf in sy Ėcrits (1966).

Alfred Hitchcock as Norman Bates se ma


Joan Hambidge

Monday, January 6, 2020

Filmrubriek | Otto e mezzo (1963) en Pain and Glory (2019)

I

Pain and Glory (Dolor y Gloria) van Pedro Almodóvar is bekroon by die Cannes-filmfees. Dit is genomineer vir twee Golden Globes vir Banderas as beste akteur en die prys vir beste buitelandse film. (Onelukkig het die beoordelaars anders besluit ...)

Antonia Banderas en Penélope Cruz is die twee hoofkarakters in 'n terugblik van die filmmaker vertolk deur Banderas. Hy herbesoek sy jeug in 'n semi-outobiografiese film met Cruz as die jonger moeder en die filmmaker se eie moeder as die ouer matriarg.

Dit is 'n fassinerende film wat eindig met Cruz en die jong kind onder kameraligte. Dit is dan ten slotte 'n metafilm. Dagboeke, herinneringe, gesprekke, 'n skildery wat later gevind word, aktiveer 'n naatlose spel tussen hede en verlede. 

Die film se ooglopende interteks is Fellini se Otto e mezzo (8 ½ van 1963). Vervaardig in die middel van sy loopbaan tydens 'n kreatiewe droogte. Soos wat Banderas 'n dubbel word vir Almodóvar, is Marcello Mastroianni (as Guido) 'n ewebeeld van Federico Fellini. Dit is 'n briljante film oor herinneringe aan 'n jeug en analises van die filmkuns.

Dit begin met 'n droomsekswens waar Guido vasgevang is in 'n motor. Sy minnares en haar man is in motor langs hom. (Later in die film kry sy 'n kamer in 'n spoorweghotelletjie en hy ervaar haar as 'n laspos.) Skielik vlieg Guido in die lug en twee mans – wat krities is oor sy werk – bring hom aarde toe en hy val in die see. Hy skrik skielik wakker.

Marcello Mastroianni & Eddra Gale

In gesprekke met sy kritikus en vervaardiger word die gebreke in sy films uitgewys. Hier die gesprekke tussen belewenis en vertelling word perfek weergegee met 'n herinnering aan sy jeug waar hy dans met 'n hoer (Eddra Gale).

Die film wat beoog, sal handel oor die liefde en die kerk. Hy word as kind gestraf vir hierdie grensoorskrydende dans. In 'n ander sekwens is daar 'n towenaar wat hom herinner aan die mantra van sy jeug: Asa nisi Masa. 

Al die vroue in sy lewe probeer hy met 'n sweep beheer. Ook hier is daar 'n spel tussen fantasie en werklikheid.

In die slottoneel stap al die karakters op die strand. 'n Ander slot plaas hulle almal in 'n trein – op 'n reis na die dood. (Daar is egter besluit op eersgenoemde einde wat meer positief sou wees.)

Soos by Almodóvar  skuif herinnering en werklikheid oormekaar in 'n kaleidoskopiese spel in 'n besinning oor die filmkuns.

II

Claudia Cardinale

Otto e mezzo is indertyd ook bekroon as 'n beste buitelandse film. Hierdie swart-en-wit-film bly gewoon 'n besonderse werk met Claudia Cardinale as die ideale vrou teenoor Anouk Aimée as sy huweliksmaat wat Guido verneuk met 'n plomp dommerd, Carla (vertolk deur Sandra Milo) wat seksuele speletjies met hom speel as 'n ligtekooi. Wanneer sy vrou opdaag op die filmstel, word die waarheid oor sy affaire openbaar. Hy kan net sy probleme in sy films – en dus in fantasie oplos – en hierom die harem-toneel waar hy die vroue probeer inperk.

In 'n gesprek met Rosella (Rosella Falk) praat hy oor wat hy in sy films wil regkry: die ongelooflike bagasie wat mens saamdra, wil hy begryp en agterlaat.

Die film se vervaardiger (vertolk deur Guido Alberti) neem hom ter take oor sy onvermoë om die film te voltooi. Sy onvermoë om lief te hê, blyk sy werklike  probleem te wees. Hy probeer die film stop en die joernaliste teister hom met vrae oor sy kuns. Hy skiet homself in die kop – nog 'n fantasietoneel? – en ten slotte is daar 'n perskonferensie: almal dans op die strand in 'n sirkustoneel ...

Die oorspronklike titel was La bella confusione, maar Otto e mezzo verwys na die aantal films wat Fellini alreeds geproduseer het. Woody Allen se Stardust Memories (1980) en The Great Beauty van Paolo Sorrentino in 2013, is waarskynlik die bekendste gesprekke met hierdie film voor Almodóvar se puik huldeblyk.

En in hierdie dae van politieke korrektheid, skroom onse Pedro ook nie om die waarheid in die oog te kyk nie: naaktheid, seksuele begeerte, dwelms ...

© Joan Hambidge

Wednesday, January 1, 2020

Gedig | Aflegging (2020)

Jou verjaarsdag vier ek sonder jou vandag
daar waar jy nou vertoef in 'n hemelse tuin,
versend ek hierdie boodskap, moeder:
Elke oujaarsdag was daar vieringe
rondom jou geboortedag op die jaarend.
'n Piekniek toe ons kinders was in Kirstenbosch
en later so op die oujaar, het jy klavier gespeel
in jou huis met 'n tuin vol blomme en struike.
Later al reisende het ek uit vreemde ruimtes
 jou opgebel en uit 'n koue New Haven 'n gedig 
gepos,'n hartskrif, ons verskille ten spyt.
Langs die corniche, verby Koeëlbaai bely
jy oor dít wat van jou jeug ons vir altyd sal bybly.
Die skrander kind van 'n Wellingtonse vrugteboer.
Iewers, dit weet ek, word die kind trooster,
optekenaar, bemoediger in 'n diftong van ek/jy.
Vandag sou ek al ons misverstande wou herroep
soos 'n mens 'n e-pos delete, 'n brief opskeur ...
En ek wat my so eindeloos op stilte beroep,
die tweeklanke van verlies verken, berym,
pleit om jou vir oulaas weer op te roep.

© Joan Hambidge