Sunday, February 17, 2013

Tom Dreyer - Equatoria (2006)



Tom Dreyer: Equatoria. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN 9780624044437.

Resensent: Joan Hambidge

Tom Dreyer is die skrywer van Erdvarkfontein (1998) en Stinkafrikaners (2000). Hy is ‘n begaafde digter wat al sy buiging gemaak het in Nuwe Stemme 1. Hy en sy tydgenoot, Jaco Botha, skryf romans waarin die pop-aanslag opvallend is. Die roman het plek-plek ‘n Tin-Tin-aanslag! Hulle is beduidende beoefenaars van ‘n nuwe styl waarin die visionêre en die komiekstrip versoen word. Die navolgelinge van Quinton Tarantino se Reservoir Dogs en Pulp fiction.

Die jongste roman heet Equatoria en die leser word voorsien van ‘n fragment van ‘n kaart waarop Brazzaville, Quesso, Leopoldville en ander bekende name staan. Die hoofstukindelings is Iringa, Ikelemba, Ituri, Liwe, Lethe met erkennings wat nie deel uitgemaak het van die bladsyproewe wat ek onder oog gehad het nie. Hierdie naskrif is vir die leser van waarde en uit die polemiek rondom die Afrika-skrywer, Yambo Ouloguem se Le devoir de Violence (Bound to Violence). Wat die skrywer ‘plunder’ binne ‘n postkoloniale diskoers, maak vir die leser die teks óóp en dikwels is hierdie soort ‘diefstal’ van ‘n kultuur of leefwyse, ‘n soort oorwinning wat die leser moet verreken in die leeservaring.

Boonop is die openingswoorde al ‘n direkte verwysing (of gesprek) met ‘n toneel in Etienne van Heerden se In stede van die liefde waar die blou okapi in ‘n toneel verewig word. Hier vind ons ‘n versoening van die (mitologiese) eenhoring en ‘n soektog na die blou okapi in die Kongo.Vir die psigoanalitiese leser is dit relevant om te weet dat Dreyer ‘n student was van Van Heerden in ‘n kreatiewe skryfkursus aan die UK en hierdie kniebuiging en intertekstuele spel gee ‘n verdere dimensie aan die twee romans.

Daar word in die teks definitiewe erkennings aan bekende reisjoernale gegee en die roman wil kennelik die mitiese Afrikaanse reisvertelling (à la Elsa Joubert) op ‘n nuwe wyse aanspreek – by Dreyer is daar egter ‘n ander, amper neo-romantiese blik op Afrika.

Ons het hier bykans ‘n moderne Uit oerwoud en vlakte. Lees hier:”Op sy bed is hy weerloos teen die stroom geluide uit die oerwoud: die getjir van insekte, die minnesang van paddas, af en toe ‘n gesteun van seekoeie hoër op in die rivier...”(p. 31). Lees maar die reisgidse en donker Afrika word nou geromantiseer; dit is nie meer ‘n ruimte van wreedheid of barbarisme nie.

Of is dit?

Hierdie roman aktiveer vele mitologiese opvattinge oor Afrika op ‘n subtiele manier; o.a. die mites rondom Vigs en aapbloed (p. 44); die soeke na oerdiere, jagtogte, voorvadergeeste se beskerming; die ontstaan van dialekte...

Die beskrywing vn die ekspedisie om die okapi te vind, word besonder konkreet vertel. Loflik is die mitiese hantering van die gegewe en die verbintenis met die soeke na die Heilige Graal. Die verliesmotief  sowel die binnetrede van drome as die hunkering na die dood, word behendig hanteer. Tom Dreyer skep hier ‘n fyn netwerk van motiewe wat op ‘n bewuste en onbewuste vlak saamspeel. Joseph Conrad se Heart of darkness word in die herinnering geroep wanneer die Equatoria verskyn (p. 158).

Eerste negatiewe punt: die toneel rondom die opgrawing van die okapi is vir my smaak té melodramaties en hooggestem beskryf (p. 154).  En op bladsy 152 vind ons hierdie sin: "Dit was asof ‘n vlies tussen hom en die wêreld geskeur het, sodat hy weer een was met al die lewens van die bos, die trillende, bloeiende, ontsettende koor”. Om die okapi te verbind aan die poel van naamlose dinge en aan die primordiale mag só wees vir Willis, maar ‘n subtieler suggestie sou beter gewerk het as ‘n uitsê van die ervaring.

Tweede negatiewe punt: hier teen die einde begin die roman bykans parodies raak. Is dit dalk omdat die skrywer se soeke na die okapi (heilige graal?) misluk het? Of dalk omdat die simboliese gegewe só kompleks is?

Derde negatiewe punt: slotte is sleutels, het ‘n groot digter vemaan. Luister hier: "‘Ahooi!’, roep hy. Sy stem dryf laag oor die water, slaan vas teen die oorkantste oewer, en kom weer oor die water na hom toe terug” (p. 158)

Of wou die skrywer opsetlik ‘n eggo-aspek inwerk? Die eggo met ander skrywers en diskoerse? Terloops: dit is onbewuste, nie onderbewussyn nie.

Dis ‘n hoogs leesbare roman wat getuig van goeie navorsing.

Boonop loop die storie vlot, die eerste en laaste toets vir ‘n geslaagde roman.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Insig geplaas.]