Friday, February 22, 2013

Rayda Jacobs - My father’s orchid (2006)



Rayda Jacobs. My father’s orchidUmuzi, 2006. ISBN 1 4152  0019 X.

Resensent: Joan Hambidge

Die waarneming van die kind is ‘n oeroue tegnieke in die letterkunde om politieke en sosiale vergrype aan die kaak te stel. Carson McCullers, Truman Capote en natuurlik, J.D. Salinger, het vernuftige tekste vir ons gelewer. In Rayda Jacobs se aangrypende My father’s orchid word Hüd se waarnemings en ‘n derdepersoonfokalisator se blik afgewissel in die eerste gedeelte van hierdie roman.

Sosiale kodes, soos ondere andere Moeslimgewoontes, armoede (helder en treffend beskryf hoe mense in eenvoud saamleef in ‘n beknopte ruimte) en veral: die aborsie wat die moeder ondergaan, kry sodoende juis groter trefkrag deur die oë van ‘n kind. Dis ‘n subtiele wyse om distansie en dus groter effek by die leser te weeg te bring wat as volwasse èn ingeligte leser dit begryp met die wete van die werking van sosiale kodes. Dit het ‘n soort dubbelspel tot gevolg.

Die eerste afdeling sluit dan ook met die seksuele ontwaking van die jong waarnemer wat weet: “a hard cock has no ethics”.  Die jong kind is gebore in 1977 – dus ná Soweto 1976 en net voor die opkoms van die groot ‘struggle’ - en ons beleef ‘n hand na die mond-bestaan op die Kaapse vlaktes waar die regmaak van ‘n motor en ‘n reis oor die ou Du Toitskloof-pas helder voor die geestesoog afspeel. (Ons leer ook meneer Johnson ken hier.)

In die tweede afdeling erken meneer Johnson sy vaderskap aan Hüd (met die beloftes van sy orgidee-kwekery’tjie) en Gladys, Hüd se ‘partner’, raak weer swanger. Die basiese spanninge van die eerste afdeling word nou verder ondersoek, met uiterse gevolge vir al die karakters. Nou kom Vigs en dwelms by, die erge vraagstukke van die moderne tyd. Op ‘n knap wyse word die afwisseling tussen perspektiewe hanteer en die leser besef in welke mate die karakters uitgelewer is aan hul sosiale opset.

Geweld, struwelinge rondom Gladys wat weer swanger raak en die hele huis kom verwoes; mense wat saamleef en geen geldelike bydrae maak nie; ‘n kind wat vermaak word op die vader se toesig-dag, word beskryf. Stilweg lewer die implisiete outeur kommentaar op die sosiale strukture soos werk wat verloor word en die optrede van die polisie. En ‘n klap deur die gesig, omdat jy bó jou kragte beproef word.

Klein kodes dui op ‘n moderne tyd: ‘n dra-rekenaar en selfoon.

Die karakters praat outentiek (“she is all poes and no class”) en daar word ‘n dwarsklap uitgedeel aan diegene wat die land verlaat, terugkeer en dan skielik nie meer Afrikaans kan praat nie.

Verhaalperspektiewe word eweneens goed afgewissel.

Op verskeie vlakke word vaderskap en bloedbande ondersoek: by Hüd en al die ander karakters se soeke na identiteit. Die roman lewer veral kommentaar op die belangrike vraag: wie is jy en waar kom jy vandaan? Die spanning tussen Moesliem en Christen wat draai rondom Hüd Vermaak (‘n buite-egtelike kind) se identiteit en dus sosiale outsiderskap as non-Moesliem in hierdie roman. Sy teenspeler, Mo, probeer dan ook die testament in terme van die Koran ongedaan maak sodat die roman ‘n ander kwessie aanraak: die spanning tussen geloof en die moderne wêreld. Rondom die testament word geheime openbaar...

Rayda Jacobs teken haar karakters en hul sosiale opset helder en aangrypend; net soos dit is. Dis ‘n roman geskryf met oortuiging.

Vir my was die verwysings na die Koran en ander gewoontes van die Moesliemmense uiters leersaam, net soos die korrekte gebruik van Afrikaans en Arabiese seggings. Soos die “toekamandies”.  En die wag by die kat’l.

Ons leer dat die lewe ‘n sirkel is soos die wandeling om die Kab’ah (p. 228). Die skrywer teken Athlone, die Bo-Kaap en ander plekke in Kaapstad baie helder.

Dit is een van daardie roman wat lekkerlees, ernstig in aanbod is, maar wat jou nie verswelg met uitsigloosheid nie. Dit val iewers tussen ‘n populêre en ernstige roman, omdat die kwessie rondom Aouda se identiteit darem net té “soap opera”-rig raak. Die roman verminder sy trefkrag met hierdie sub-verhaal.

Wat egter interessant is, wel altans vir my, is die gesprek tussen Rozena Maart se Rosa’s District 6 en Zoë Wicomb se voortreflike Playing in the light.
Lees die romans gerus.

Salaam alaikum! 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]