Vladimir Nabokof (1899-1977)
Vladimir Nabokof: Deel II
Joan Hambidge
Jorges Luis Borges en Vladimir Nabokof
besit van die mees fassinerende webruimtes. Op die fulmerlog webblad besoek word die mees
openbarende en opwindende insigte rondom Nabokof se werk bekendgemaak.
In die reeds vermelde Lectures on Literature word die leser
bekend gestel aan die skrywer as leser en dosent. Die boek bevat ‘n insigryke
inleiding deur John Updike waarin hy onder andere die belangrike rol mentorsrol
van mevrou Nabokof beklemtoon. Nie alleen het sy gehelp met die vertalings van
die romans nie, maar sy het ook gekeer dat Nabokof by ‘n geleentheid die verskillende mislukte
openingshoofstukke van Lolita verbrand het!
Nabokof was twee keer ‘n émigré-skrywer: die eerste keer toe hy die Bolsjevistiese Rusland moes verlaat het en die tweede keer toe hy voor Hitler moes uitvlug in Europa. Die VSA het toe ‘n belangrike herberg vir hom geword waar hy sy belangrikste idees oor die letterkunde kon ontwikkel.
In die VSA het hy dan ook van sy belangrikste kreatiewe werk gelewer waarvan Lolita (1956) die mees onthoubare en waterskeidende roman sou word.
Vanselfsprekend verraai sy leessmaak ‘n spesifieke voorkeur. Hy hou van Flaubert se Madame Bovary (1856) nie alleen om die nuwe wêreld wat geskep word nie, maar juis om die aanklagte van obseniteit wat Flaubert in ‘n hofsaak moes verduur.
Nabokof verwys na die geskokte reaksie van die “prudish philistine goverment of Napoleon III” en daar was ‘n hofsaak wat Flaubert gelukkig gewen het. Maar vra, Nabokof tereg: "As if the work of an artist could ever be obsene” (p. 125). Die leser weet dat hy hier sinspeel op die ellendes wat hy sou deurmaak met sý roman wat presies ‘n honderd jaar later sou verskyn!
Nabokof is ‘n uiters subjektiewe en
geopinieerde leser. Hy stel dit onomwonde dat hy geen geduld met Freud,
Faulkner of Thomas Mann het nie. Hy hou van romans met ‘n struktuur wat hy
uitmekaar kan haal: Madame Bovary, Mansfield Park, Swann’s Way, Ulysses...
Sekere skrywers bestaan gewoon nie vir hom nie; hulle name is gegraveer op leë grafte.
Natuurlik skryf hy sy essays binne die tyd van die New Criticism in die VSA dat alles opgesluit moes wees binne die nukleus van die roman, aldus Updike (p. xxv) en dit is waarskynlik ook ‘n teen-reaksie van ‘n skrywer hom verset teen die eise van betrokke literatuur.
Hoe ironies dan dat sy roman, Lolita, juis gelees sou word as meer as net ‘n roman met ‘n struktuur of storie.
“Style and structure are the essence of a book; great ideas are hogwash,” het hy glo in ‘n lesing opgmerk. En dat die goeie leser besig is met speurwerk ten einde die misterie van letterkundige strukture te kan verklaar.
Jy mag jou ook nie met ‘n karakter identifiseer nie; nee, jy moet eerder “objektief” bly en die verbeelding van die skrywer op ‘n afstand bewonder, merk hy op in die essay “Good readers and good writers”.
Hoe sterk Nabokof gevoel het oor die kwessie van fiksionalisering, kan afgelei word uit Lolita waar fiktiewe dorpe (Lepingville en Ramsdale) besoek word wanneer Humbert Humbert en Lolita op die vlug slaan. Hierdie reis kan die leser meemaak op een van vele webblaaie, soos Lolita, USA - Trip One en Lolita, USA - Trip Two.
Flaubert het opgemerk: “Madame Bovary
c’est moi” (“Ek is Mevrou Bovary”) en Nabokof meen: “Lolita is beroemd; nie ek
nie”.
Sommige webruimtes gee die publikasiedatum aan as 1955, ander 1956. Die boek is egter reeds in 1954 voltooi en Nabokof het gesukkel om ‘n uitgewer te vind. Dit is in Parys deur Olympia uitgewers uitgegee en danksy die positiewe resensie van Graham Greene, is dit deur ander kritici ernstig opgeneem.
In 1956 is die boek in Engeland en Frankryk verbied. Die verbod het vir twee jaar lank in Frankryk geduur!
Dit is terloops die eerste roman wat sedert Gone of the wind meer as ‘n 100 000 eksemplare in die eerste drie weke verkoop het en dit is in Amerika herdruk, danksy ‘n gekonfiskeerde kopie wat aan die regmatige eienaar teruggegee is deur die doeane-beamptes!
Een van sy studente, Hannah Green skryf inderdaad oor “Mister Nabokov” se uitsprake oor die Russiese letterkunde wat soos volg lui:
Tolstoi ‘n A-plus
Poesjkin en Tsjekof A
Toergenjef A-minus
Gogol B-minus
Dostojefski C-minus
En waarom vir Dostojefski so ‘n lae
punt?
Want hy het glo nie die essensie van die
Russiese leefwyse begryp nie!
Bibliografie:
Peter Quennel (red).: Vladimir Nabokov – A tribute. William
Morrow and Company, Inc. New York. 1980.
Nabokov se Lectures on Literature (Wedenfeld and Nicolson, New York. 1980).
Fredson Bowers het die teks versorg en die inleiding is behartig deur John
Updike.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger, “Kantlyn” geplaas.]