Gilbert Gibson. Kaplyn. Tafelberg
Uitgewers, 2007. ISBN 13 978 0
624 345 489.
Resensent: Joan
Hambidge
Gilbert Gibson
se Kaplyn is die tweede bundel van
die digter wat bekroon is met die Protea-prys vir sy debuut: Boomplaats. In sekere kringe word daar
gevoel dat hy die Ingrid Jonker-prys moes gewen het. Dis ‘n besondere digkuns
wat op ‘n sobere wyse die wêreld van die mediese wetenskap betrek in verse wat
intellektueel en intertekstueel werk. Maar ágter die sobere verse, is daar
hewige emosie, verlies en pyn sigbaar.
In ‘n woordelys
verduidelik die digter die kaplyn soos volg: “‘n (boomgesleepte) skoon stuk
grond tussen twee vegtende lande, spesifiek met die intensie om spore wat die
kaplyn kruis op patrollie raak te sien”. En dit is dan die digterlike aanslag:
die opstand wat in slaap woel; gevegte tussen mense wat onopgelos voortstu; ‘n
ouer persoon wat onthou hoe hy as kind getraumatiseer is deur sy pa se ongeluk,
terwyl hy deelneem aan ‘n skoolkonsert; ‘n man wat by die vader se kis staan,
‘n knipmes in sy yskoue hand plaas sodat hy – indien hy nie werklik dood sou
wees nie – sy pols kan oopsny ten einde werklik te kan sterf...
Dit is ‘n
komplekse bundel met ingewikkelde verwysings en verswygings. Tussen afdelings
is daar eksperimentele verse waarin die digter as’t ware assosiatief sy
onbewuste aan ons voorstel: hoe hy met woorde speel, assosiasies skep (p. 75).
Ons vind hier ‘n
geweldige sterk bemoeienis met die digterskap – ‘n soort skrynwerker van die
woord. In ‘n minimalistiese vers dig hy soos volg:
mynramp
ek stuur ‘n
kanarie
in jou hart af
om te kyk
of hy bly
leef
Die kanarie moet
waarsku dat daar gifgasse mag wees en die gedig word ironies (en ikonies) genoeg iets wat die digter aan die geliefde
stuur om uit te vind of húl liefde nog bestaan....
Met elke lees,
word nuwe verbintenisse tussen verse getrek. Die digter onthou ‘n halfgerookte
sigaret wat uitgeskiet word langs ‘n vuur en ‘n mens dink aan Wallace Stevens
se stelling dat die digkuns ‘n geweld van binne is wat jou beskerm teen ‘n
geweld van buite. Die digkuns van Theodore Roethke kom eweneens aan bod met die
ervaring van hoe die verhouding met die vader deur gedigte loop. Daar is dan
verwysings ook na die Vader, die Bybel (in verdraaiings tussen afdelings wat
die onbewuste van die digter voorstel as vlakkig en opstandig) en die gesprek
met vaderdigters: Van Wyk Louw en vele ouer digters. Daar is ‘n gesprek met
Ginsberg, ‘n prosavers en ongehoorde reëlbreuke (op die / ‘n / in / met ) wat
‘n intense bemoeienis met die digkuns verraai soos in die ars poetica (“die son
gaan onder”, p. 10) waar die duine dui op die betekenisse wat voortdurend
skuif. Of die ontginning van “hin” in ”ooie teen die rante”.
Die teks is “my
skip” en die katakombes van die dooies (‘n broer wie se geweer hy erf) of die
dooie digters via intertekste meld hul hier aan. Oorlog is eweneens ‘n metafoor
– reeds aangedui in die titel – met verwysings na die grensoorlog en die geweld
tussen mense, hul stiltes, hul verraad. “bataljon twee” (p. 37) is ‘n ars
poetica, maar eweneens ‘n lewensbeskouing waarin die “groute”van hierdie
menswees weergegee word. Pyn priem hier eentonig en opstandig, om Breytenbach
aan te haal.
Woorde word met
dubbelbetekenisse gelaai en die digter ontgin in “lupus”(p. 24) die twee
betekenisse van die begrip – met ander betekenisse wat die leser opspoor in die
voortdurende gesprek met die woordelys agterin of gesprekke met jou self.
Hy droom van
mites en mitoses; van ‘n slaap waarin ‘n kinderliedjie – ons hoor hoe Mimi
Coertse lamtietiedamtietie sing - die
weerloosheid van die spreker nogmaals weergee.
Die opstand teen
die politieke onreg is fel, maar indirek. Hy buikspreek via Allen Ginsberg se
“Howl” oor presies wat die onreg vir jong soldate ingehou het: hierom gedigte
van die slaaploosheid, herkennings van geskondenheid in die self en ander
(“delirium”, p. 58). In klein pynprikke word die kaplyn van ‘n psige ontbloot.
In “toemaar die
donker man” (p. 61) word die huidige politieke onrus en soeke na werk brandend
vertel in ‘n ontmoeting met ‘n swart jeugvriend en rondom voete word ‘n hele
verlede en hede saam-gedig (via Jonker, o.a.). Dit is Gibson-vintage hierdie –
die gedig tref jou by nabaat op sy felste, in sy oënskynlike beheer en afstand.
Iets hiervan bespeur
‘n mens in “finnegan’s wake”(p. 68) en in “margate”(p. 90). In “forensiese poësie”(p. 84) verklaar hy sy
manier-van-doen wat inspeel op ander verse se skepsis oor woorde en die
prosavorm.
Maar dit is juis
hierdie beheer wat ook op die lange duur dalk gevaar vir die digterskap kan
inhou: die digter moet sy emosies meer ontgin en vertrou. In navolging van
Wallace Stevens is daar dertien woorde teen subjektiewe nood en pyn – hier word
die pyn weer eens buite gehou deur die intellektuele skrynwerker wat o.a. met
Neruda en Seamus Heaney praat.
Dit is egter nie
‘n bundel met altyd maklik of toeganklike verse nie. Die gedigte is ingewikkeld
en word met elke lees ‘n komplekse refleksie op die digterskap.
Dit verdien om
gelees te word.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]