Kobus Moolman.
Separating the seas. University of KwaZulu-Natal Press, 2007.
ISBN 978 1 86914
124 0.
Resensent: Joan
Hambidge
Vir sy bundel Time like stone (2000) word die digter bekroon
met die Ingrid Jonker-prys. Hy is onder andere redakteur van die tydskrif
Fidelities. Feet of the sky het in 2003 verskyn en ‘n drama, Full Circle het
die PANSA-prys in 2004 verower. Hierna het ‘n versameling radio-dramas gevolg
gebundel as Blind Voices (2007).
Sy jongste bundel heet Separating the seas en dit word tereg
beskou as verse wat dieselfde enigmatiese kwaliteit besit as abstrakte kuns.
Terselfdertyd is abstraksie(s) die grootste vyand van die digkuns wat juis met die konkrete beeld moet werk om ‘n stuk metafisika of insig oor te dra. Die gedigte hier wil dikwels epifanies wees, soos die aangrypende “Travelling shots” wat rondom die paradoks van stilte / non-beweging werk om uiteindelik iewers uit te kom. Daar is hierom vele verse rondom selfkonfrontasie en ‘n beskouing van die self soos “Self-portrait in a window”.
In die (amper) haikoe, “Dawn” lees ons:
Just past Newcastle,
the dark lifts slowly
to allow a small morning in.
(p. 17).
“New moon” bewys
waarskynlik dat die Engelse taal nie heeltemal die haikoe se fyn besnaarde aard
kan opvang nie:
Paper-thin pale
moon suspended in blue
enamel basin of sky.
(p. 30)
In “Road-side Memorial” word die aanwesigheid / afwesigheid
so bekend aan die grafsteen en monument beskryf.
Vir hierdie leser is die verse op hul beste wanneer daar ‘n
fyn balans tussen konkrete beeld en idee uitgewerk word soos in “Auto-da-fé’:
Hills are wan in the distance,
grass is dry and yellow.
Somewhere an old fire burns
a dead man’s dreams.
(p. 20)
In verse waar die sosiale gewete ter sprake kom, is die verse
vir my minder oortuigend. In “Cost of living” (p. 36) word die pryse van huishoudelike
benodighede weergegee, maar sonder enige spanning in die vers. Gaan kyk wat
doen Thérèse Bartman met hierdie gegewe in Nuwe stemme 3 waar die aankope van
‘n persoon in ‘n outehuis die pyn en ellende van ‘n bestaan registreer:
Inkopielys Kamer 21
Huis Avondrus
voëlsaad
sout
hawermout
Landbouweekblad
Boxer
2 X
Wilsons-perperment
Steradent
ingelegde
perskes (klein)
Stopain
Daar is by Moolman se vers egter geen progressie of verhaal
nie. Wat is die punt van die vers?, wil ‘n mens vra. ‘n Optelvers gemaak uit ‘n
koerantberig of plakkaat moet in ‘n digvorm herskryf word.
“Headline haikus” werk gewoon nie, omdat die basiese eise van
hierdie digvorm ignoreer. (‘n Spel tussen abstraksie en ‘n konkrete
vergestalting uitgestippel in sewentien sillabes, iets wat min Westerse digters
volmaak regkry. Eveleen Castelyn het ‘n handvol skitterende haikoes in
Afrikaans gelewer.)
Dit is ‘n bundel wat getuig van psigiese transformasies en
nuwe ontdekkings oor die self en die plek in die kosmos.
Vir die handvol bestes in die bundel, is hierdie bundel wel
vir die digkuns-leser van belang. Dit werk dikwels met stiltes, met dit wat
huiwer tussen een fase en ‘n volgende:
Transfiguration
Only a dark mouth
Pointing upwards.
Only a red eye
In the centre of his hand.
With one wave
of his wet tongue,
one jerk
of his old eye,
he drags the night
up the ladder behind him.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]