Ken Barris. African Easter. Protea
Boekehuis, 2005. ISBN 1 86919 123 4.
Resensent:
Joan Hambidge
Die mooi
klinkende titel African Easter van
die bekende romanskrywer Ken Barris roep vanselfsprekend T.S. Eliot se Four quartets (on)bewustelik op by die
leser.
Die voorblad
met skulpe – dalk ook ‘n heenwys na die ‘periwinkle’ (alikruik oftewel
maagdedeblom)van Wallace Stevens? – en die Afrika-masker, vrugte en ander
simbole en vrugte wys op die dubbelkantige aard van die bestaan hier in Afrika.
Time present
and time past
Are both perhaps present in time future.
And time future contained in time past, dig Eliot in “Burnt Norton”. In die
openings- of programgedig, p. 7 verwys Barris na die Amerikaanse en Britse
“Imagists” (“they were modern / men and women who knew exactly / how to write
poetry”). Digters soos H.D. en Marianne Moore het hiertoe beweeg, saam met die
grote Pound.
En soos hulle
dus in die omgangstaal sê: ‘n hoë afskop wat die presies-verliteratuurde aard
van die bundel wil beklemtoon of op die voorgrond plaas.
In hierdie
opsig is Barris dan ‘n Imagist. Sy gedigte is reguit en sonder fieterjasies.
Dit is ‘konkrete’ gedigte wat sterk emosies oordra en die leser aktief betrek.
Wat van
hierdie bundel ‘n besondere leeservaring maak, is die digter se vermoë om mense
raak op te som, hulle letterlik te teken: tantes wat teedrink, terwyl ‘n
eensame vroutjie op haar eie sit; herinnering aan sy ma se kos; skuldgevoelens
oor aborsie, ensomeer.
Die gedigte
verraai ‘n verwikkelde, ambivalente verhouding met woorde; ‘n mens dink hier
aan “Words” (p. 12) en die gedig oor Ezra Pound, ‘n digter bekend om sy
moeilike, modernistiese verse. Pound se siening van die digkuns was dat ‘n gedig suiwer en kompak moet wees,
sonder vreemde of poëties-klinkende woorde (Bron: www.Imagists on
Encyclopedia.com). Kyk ook na die gedig “Ideograms” (p. 36) in hierdie verband.
Pound weer op
sy beurt se lewe het egter weens sy politieke uitsprake ‘n ander loop geneem en
die digter vra tereg in die slot van “Ezra Pound” (p. 34) of die prys wat hy
hiervoor betaal het, die moeite werd was.
In “Words” (p.
12), ‘n klein ars poetica, word die skryfdaad gelyk gestel aan die verloop van
‘n liefdesverhouding. Die digter verbind dus die sogenaamde verwikkelde proses
aan iets wat vir die leser herkenbaar en eie is. “The prodigy” (p. 13) gee op
sy beurt ‘n skerp blik op die jong godinnetjie wat later juis in ‘n mislukking
verval vanweë die druk en verwagtinge van mense om haar.
By Barris is
die diguns ‘n dialoog met die self en die wete dat mense maskers dra en in
“What poetry is left” (p. 22) vra die post-post moderne digter vrae oor die
betekenis en funksie van die digkuns wat gekoppel word aan die alledaagse
herhalings, die verloopte liefde, die uitgebakte politieke posisies wat mense
inneem. Ironies genoeg staan hierdie gedig langs “Life must have a purpose” (p.
23) met sy Tsjekof-aanslag. Eenvoudig briljant!
“There is a
device” (p. 24) vra vir ‘n saamlees met Sklovsky, die bekende Russiese Formalis
en kenner van die digkuns, se uitsprake, maar wees asseblief gerus: vir die
speurende akademiese leser is hier die plesier van intertekste, gesprekke wat
nie beteken dat die gewone leser uitgesluit sal wees van die gedigte as
emosionele artefakte nie.
Juis hierom is
die bundel so geslaagd; dit funksioneer op albei vlakke van emosioneel en
‘slim’ wees.
Daar is verse
waarin die metafisika beskryf word: o.a. “Ghosts” (p. 60)– wat ‘n ‘poetry of
differences’ vergestalt” – die aangrypende “The angel visits” (p. 61) wat
saampraat met die Duitse filmmaker Wim Wenders se beroemde Wings of desire.
Of ‘n kind wat
vlugtig ‘n dooie sien en waar die ouers dit bloot as ‘n ooraktiewe verbeelding
afmaak in “A glimpse”(p. 27)...
Eweneens
onthoubaar is “The death of Glenn Miller” (p. 37) :
High above a
pewter sea
wrestling
forever with its own
agony of music
and silence,
he marks time
....
Dis
waarskynlik een van die grootste prestasies van hierdie bundel waarin hierdie
soort opposisies treffend beskryf word.
In “Township
air”(p. 30) word die maan ‘n vuil muntstuk, terwyl die indrukwekkende “Moles in
the pool”(p. 31) ‘n soort helderheid ten spyte van die verrotting of ondergang
probeer beskryf.
Agterin bely
die digter dat hy deelgeneem het aan die UCTPoetryWeb, ‘n e-pos-forum waarin
gedigte afgerond word. Wat bewys (opnuut) dat die skryf van gedigte ‘n harde en
veeleisende taak is. Mazeltov!
En daardie
geluk gaan aan sowel die uitgewer, Protea Boekhuis as die digter.
Om op te som:
dit is ‘n bundel van ‘n behendige digter wat ‘n veelheid van temas aanspreek,
maar in die eerste instansie sy gedigte aanbied as goed-afgewerk, poëtiese
artfefakte wat veral vir diegene wat dink ‘n gedig moet die “klip klipperiger
maak”, sal imponeer.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]