Lewis Nkosi. Mandela’s ego – a novel. Umuzi, 2006. ISBN 14152 0007 6.
Resensent: Joan
Hambidge
Lewis Nkosi het ‘n
aansienlike status binne die Suid-Afrikaanse letterkunde verwerf as ‘n
“struggle”- en “exile”-skrywer. Sy roman, Mandela’s ego geniet tans baie aandag
in die media en die response op die roman is besonder positief. Die roman, om
dit breedweg op te som, steun sterk rondom die mitiese aanwesigheid van Nelson
Mandela as simbool tydens die “struggle”-jare. Vir die jonge Dumisa Gumeda, ‘n
veewagter, is Mandela iemand wat hom aangryp soos wat jong kinders vandag deur
popsterre betower word. Mandela praat terug; hy aanvaar nie die wit regime se
outoriteit nie en wanneer hy na Robbeneiland gestuur word, word hy ‘n kragtige
simbool.
En vir Gumede word Mandela
ook gekoppel aan sy seksuele kragte. Nobuhle, die beeldskone een, moet oorwin
word...
Die roman stel sig ten doel
om die seksuele ontwaking van ‘n Zoeloe-jongman gelyk te stel aan politieke
agentskap, naamlik Mandela se optrede wat vir ander hoop gee in hul toestand
van politieke verdrukking. Die opposisie tussen stad en plaas, politieke
segginskap en die ou kulturele orde, word eweneens hier uitgewerk.
Op die agterplat is daar ook
verwysing na die teks as ‘n subtiele memoir wat vir die leser wat hou van die
fiksionele-outobiografie, dit eweneens ‘n leesplesier sal maak. Die verskeie
antroplogiese kwessies is leersaam, ofskoon die leser nogal moet kophou met al
die verwysings.
Die roman is volledig romdom
opposisies uitgewerk: Zoeloe-kultuur en Christelike geloof (verteenwoordig deur
die moeder), behoudenheid en opstand, seksuele viriliteit en impotensie. Sonder
om die leesplesier te ondermyn: die jonge man se seksuele fantasieë is rondom
Mandela gebou en wanneer hy gevange geneem word, het dit ‘n effek op hom.
Die roman werk dus met
etlike letterkundige beginsels soos die simbool, die allegorie en mite.
Wat Nelson Mandela egter
self van die roman sou sê, het hierdie leser deurgaans laat wonder:
“Fully dressed, they let
their limbs gyrate slowly against each other, the two of them chuckling like
two happy children, until Dumisa, lifting her skirt and allowing her to
experience full penetration at last, cried out, “Mandela, e-he-e-e!” “ (p. 182)
Of het die simboliese
posisie van Mandela tot gevolg dat hy hierdie soort simbolisering en
grappigheid moet verduur? Dit is wel goedig bedoel, maar nogtans.
Miskien word hierdie kwessie
opgelos in die roman self: dat dit nie alleen gaan om die werklike Nelson
Mandela nie, maar in wese om die voorgestelde, geïdealiseerde Mandela. Op
bladsy 150 verwys die verteller na die mites romdom die figuur en hoe hy onder
meer een keer, vermom as ‘n vrou met ‘n baba (amper) ontglip het. En vele ander
“urban legends” word ook hier ingespan.
Nkosi skryf baie helder oor
die lewe in die klein village en gee vir die leser baie besonderhede oor hoe
dit daar uitsien. Elke détail dra simboliese betekenis soos ‘n mens in die
gelykenis-verhaal sou verwag.
Binne die swart gemeenskap
het Mandela bykans ‘n Christelike dimensie ingeneem as die een wat mense
vrygemaak het van onderdrukking en aan hulle menswaardigheid besorg. Die jonge
Dumisa besoek immers ‘n sendelingskool waar Vader Ross sy onderwyser is en wat
‘n opsetlike verwysing na die Christelike aspek verder beklemtoon.
In die tipiese
gelykenis-verhaal word daar sekere karaktertrekke aan ‘n persoon toegedig ten
einde die spel tussen goed/boos dramaties te belig.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]