Heinrich Troost. Plot loss. Umuzi, 2007. ISBN 978 1 4152 0027 8.
Resensent: Joan
Hambidge
Plot loss van Heinrich
Troost is ‘n roman waarin ene Harry van As se waarnemings van Pretoria, toe en
nou, vertel word. Die roman is ‘’n moderne Tom Jones verpak
met aanhalings uit liedjies, gedigte en wat nog (die lang erkenningslys agterin
gee blyke hiervan, ofskoon ‘’n bladsyverwysing nuttig sou wees).
Elke keer
wanneer ‘n insig die hoofkarakter tref, maak hy ‘n verwysing, bykans soos in ‘n
musical waar karakters sonder waarskuwing begin sing. Vanselfsprekend word die
gegewe met betekenis gelaai, maar op die duur ondermyn dit die vertelling. Vir
wie was die boek geskryf? Vir ‘n (Suid)-Afrikaanse leser of ‘n buitelandse een?
Vir ‘n Engelse lesertal om die Afrikaner / Afrikaans te “verduidelik’”?
Omdat die
skrywer spring van die Briels, Min Shaw, Eugène N. Marais, Ingrid Jonker, selfs
Lina Spies, ensomeer, verloor die boek fokus. In-verwysings en –grappe werk nie
in vertaling nie. Dis soos om die “punch-line” van ‘n grap te moet verduidelik.
Vir semiotici – soos Umberto Eco – sal dit ‘n teks wees waar elke teken heenwys
na iets anders. Reg so, maar op die duur raak dit vir die leser vermoeiend,
sodat die onthulling van ‘n tragiese insident gewoon batos word (p. 86) Dis
asof alles wat gelees en waargeneem is, hier uitgestal word. Op ‘n plek word
daar na ‘n Engelse lesing verwys en ‘n
mens dink, ja.
Die leser moet
eindelose bekende staaltjies aanhoor, soos oor Helen Martins of die
butch-kultuur in Pretoria. In wese is die boek eg-postmodern: die plot is
verlore.
Die volgende
stuk belydenis som die roman waarskynlik ten beste op:
“I have sat in
the shadowy temples of Cambodia to take solace in the light of the Buddha,’ he
says,’I have read the Sufi poets in the lofty mosques of Iran. I have even read Christian mystics like
John of the Cross, Meister Eckhart and Plotinus”(p. 88).
So what?
Ly die verteller
aan trauma dalk?
‘n Mens wil
later saam met Henry James uitroep: don’t tell me, show me, as jy nogmaals ‘n
stukkie wysheid moet meemaak op die vlak van ‘n TV-vasvra-wedstryd.
Ai, there is
only one way and that is the railway, verneem ons selfs!
Jy beweeg tussen
soveel verwysings en aanhalings en vertellinge dat jy ‘n mise-en-abyme
binnegaan. Die opsomming van Die Tibetaanse Boek van Lewe en Dood oor illusies is Reader’s Digest op sy
ergste. (Ek wil nie die toegewyde leser se enigste plesier bederf oor die spel
met die dood en karakters nie.) Grappies oor Cry the Beloved Country is gewoon kamp
– soos wat Susan Sontag die begrip verstaan het. Selfbewuste kyk-hoe-slim-is-ek-verwysings wat op die
teks inbuig ad nauseam.
Op bladsy 187 is
daar ‘n belydenis dat daar n begeerte is m “popomo” te wees. Om alles as ‘n
post-postmodernistiese werkswyse te verskoon, oortuig helaas nie. John Barth (Lost in the Funhouse) kon speel met verwysings en boei.
Waarom is die
boek in Engels aangebied as die gegewe eg-Afrikaans is soos Brandewyn-en-Coke?
Dis die soort
boek wat plek-plek boei, maar dan deur pretensie ondermyn word.
Hierdie gegewe
is egter reeds deur Julian Barnes beskryf en uitgevoer en ek dink Adam
Thirlwell se Politics (Londen, 2003)
oor die politiek van verhoudings het my eindeloos beindruk.
Met ernstige
snoeiwerk en redigering kon dit ‘n beter roman gewees het.
Plot loss? Die titel kan
werklik negatief van toepassing gemaak word op die roman.
Oom Paul Kruger,
Café Riche selfs, gooi hier ‘n fasiele draai – met die geskiedenis van
Sunnyside. Haai, het jy geweet? Oor die uitbeelding van sy swart mede-karakters
sal ek liefs swyg. Ook hier skud ‘n mens net die kop….
Die roman is met
soveel geykthede verpak as daardie bekende Richelieu-advertensie oor Frankryk.
207 bladsye vir
R133 – het jy geld en tyd om te mors?
Ek het hierdie roman
gelees terwyl ek ter afwisseling Klaus Kinski se Nosferatu gekyk het. Daar is die verwysings vandag so lagwekkend dat ‘n
mens niks kan ernstig opneem nie. Ja-nee, Kobus en Hannelie sing nie verniet
nie “Kamma Kamma”.
And we are
marching to Pretoria is ook daar…
En….Dante.
En 1 Korinthiërs
13.
En muzak.
En Marais se
“Diep Rivier”
En “Apocalypse
now”.
En Four Jacks
& A Jill se “Haai Casanova” en die Pangaman.
Sontag meen
kamp-tekste is so oordrewe in die uitstalling van hulle tekens dat dit
opsigself die betekenis word.
Ik heb gezegd.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]