Showing posts with label Penguin. Show all posts
Showing posts with label Penguin. Show all posts

Monday, January 22, 2024

Resensie | JM Coetzee - The Pole and other stories | Penguin, 2023

JM Coetzee - The Pole and other storiesPenguin: 2023. ISBN:9781787304062, Sagteband, R350.00, 250pp.

Resensent: Joan Hambidge

 

In Lucy Daniel, die redakteur van Defining Moments in Books (Cassell Books, 2007), word ‘n foto opgeneem van J.M. Coetzee: voor ‘n spieël. En dis hoe ‘n mens hierdie skrywer moet benader:  As dubbelganger. Agter én voor die spieël. (En ons weet watter simbole alles aan die spieël gekoppel word.)

 

Coetzee is ‘n fiksieskrywer, maar terselfdertyd ‘n besinnende, denkende, filosofiese outeur soos in The lives of animals (1999) wat ‘n hibriede teks is. Iets tussen essay, literêre teorie en fiksie. Daar is eweneens outobiografiese romans soos Boyhood (1997) en Youth (2002). En The Master of Petersburg (1994) op die spoor van Dostojefksi, maar ook ‘n terugkaatsing op sy eie bestaan as skrywer en mens.

 

Veral David Attwell het uitstekende essays geskryf oor hierdie spel in JM Coetzee and the Life of Writing (2015).

 

Die jongste heet The Pole and other stories. Dit het oorspronklik in Spaans verskyn as El Polaco. (Coetzee is Spaans magtig.)

 

The Pole vertel die verhaal van ene Witold Walczykiewicz, ‘n pianis en Beatriz, wat help om sy konsert in Barcelona te organiseer. Sy is getroud en aanvanklik nie geïmponeer met sy toenadering nie. Maar dan gebeur dit wél, maar op haar terme. (Of só dink sy verkeerdelik.) 

 

Die verhaal roep uiteraard Jorge Luis Borges se private mitologie op rondom Dante en Beatrice. Borges het sy eie moeilike liefdesverbintenisse afgekaats teen Dante. Ons dink hier aan die Vita nuova. Witold is 72 jaar oud en herinner aan Max von Sydow, die Sweedse akteur. Dit roep die verbintenis op met die filmmaker Ingmar Bergman en sy vertolking van Knut Hamsun in die film Hamsun (1996) deur Jan Troell. ‘n Politiek-gelade film oor verraad tydens die Nazi-tydperk. Hamsun het in 1920 die Nobelprys verower; Coetzee in 2003.

 

Hiermee word die sosiale gewete van die skrywer subtiel ingebed in hierdie vertelling. Ons onthou die ANC se kritiek op Disgrace (1999) en hoe die ingeboude ironieë in die teks misgelees is.

 

Die verhouding tussen man en vrou in The Pole aktiveer eweneens George Sand (1804 – 1876) en Frédéric Chopin (1810 – 1849) se verhouding. Sand, ‘n feminis en ouer as Chopin, speel eweneens ‘n rol in die leeservaring van hierdie teks. Die vrou as versorger en ewige moeder? 

 

Die novelle se paragrawe word genommer. Ons het hier ‘n besinnende ouktoriale verteller teenoor ‘n personale (hy/sy) verteller wat moontlikhede ondersoek saam met die leser. Die novelle word ‘n soort dramateks en die leser wag op die klimaks (29). Die konvensies van musiek teenoor storie word netjies teenoor mekaar geplaas. Die hande van pianiste wat groot is en grotesk sou lyk op ‘n vrou. Hoe ou mense lyk en ruik, word raak beskryf.


En die verskille tussen tale en wat alles in ‘n vertaling verlore raak, kom aan bod. Die onbeholpe gedigte van Witold verklap sy wond en haar briewe bewys watter houvas die kortstondige verbintenis op haar steeds het. Geheime in huwelike teenoor die soeke na vervulling en romantiese liefde, maak die novelle nog sterker. Begeerte geplaas teenoor onvervulde liefde.

 

Coetzee is bekend vir “doubling the point” met subtiele verwysings in sy tekste na ander skrywers. Met prosa wat tot op die been gesny is. Waarom ‘n boek wat in Pole afspeel? Sy moeder se grootvader was ‘n Pool en in sy werk sien ons belangrike besinnings oor Poolse en Russiese letterkunde.

 

“Where would the art of fiction be if there were no double meanings? What would life itself be if there were only heads or tails, with nothing in between?” lees ons in “As a woman grows older”. En dit kan op hierdie komplekse tekste van toepassing gemaak.

 

Telkens die “irony of fate”, soos Cleanth Brooks & Robert Penn Warren dit perfek tipeer in ‘n analise van O’Henry se “The furnished room” in The scope of fiction (1960). Coetzee neem jou terug na Frank O’Connor se “The drunkard” waarin Chopin ook voorkom. Larry Delaney is ‘n karakter wat herinner aan O’Connor se lewe. O’Connor het ‘n studie oor Toergenjef geskryf.

 

Ons keer ook terug na Coetzee se stories waarin hy dikwels oor transgressiewe begeerte skryf.

 

‘n Novelle en vyf kortverhale. Meerduidig én terugwerkend na Elizabeth Costello (‘n buikspreker vir Coetzee) en die skrywer se besinnings oor diereregte. ‘n Storie oor ‘n woedende hond laat jou sidder in “The dog”. Die vrees van die besoekende vrou laat jou wonder oor die hond se base. 

 

Het katte gesigte of nie?, word in “The old woman and the cats” gevra. Skokkende ervarings van ‘n ouerwordende moeder in “Hope”. En hoe die seun haar vertel van die hond, Demeter, wat aanhou veg het om sy lewe, pyn ten spyt. Ambivalensie dra die verhaal “As a woman grows older” in haar konfrontasie met haar kinders. “The glass abattoir” analiseer mense se ongevoeligheid oor diere rondom ‘n ingebedde vinjet in Djibouti. ‘n Bok wat geslag word, beskryf in grafiese besonderheid met ‘n analise oor die betekenis van pyn. ‘n Simboliese judasbok?

 

Coetzee is ‘n meester van sub-teks én implikasie. Hy het hierdie leser nogmaals verbyster met sy onverdrote kapasiteit om télkens nuwe moontlikhede in die skryfambag te ontgin. Van die vleiland tot die billabong. Politiek-bewuste tekste tot metafiksie soos in Summertime (2009). Kortverhale tot lang, uitgebreide stories soos die Jesus-trilogie. Essays oor ander skrywers is altyd leersaam wanneer ‘n mens Coetzee lees. Ons onthou hoe hy ‘n Engelse vertaling van ‘n Harry Mulisch roman stip uitmekaar gehaal het soos ‘n sjirurg met sy kennis van Nederlands. 

 

Musiek, films, geskiedenis, politiek, sosiale kwessies (o.a. die verlange na die telegram), die rol van private dokumente, maak alles deel van hierdie pakkende boek.

 

Hierdie leser het onlangs weer In the heart of the country (1977) gelees. ‘n Boek met 266 genommerde paragrawe eerder as hoofstukke. En sy 1974 debuut Dusklands, twee verhale, maar ook ‘n roman. O.a. ‘n reisverhaal in die 18e eeu. Die kritikus Jason Cowley wys op Coetzee se voorliefde vir die allegorie en simbool in Lucy Daniel se kompendium. En die isolasie van die meeste van sy stemlose karakters.

 

As Borges werk met die labirint, sien ons die spieël by Coetzee. Beide outeurs is sterk beïnvloed deur Franz Kafka. Al waarvoor ons nou wag, is ‘n roman in Afrikaans. Die prosa in hierdie puik boek is soos lug wat afgekaats word in ‘n poel water soos by MC Escher.


Met hierdie boek het hy sy tweemalige bekroning as Bookerprys- en Nobelpryswenner nogmaals en absoluut bevestig. Om op 80 plus so te kan skryf, is ‘n absolute segetog.

 

Joan Hambidge is ‘n Senior Navorsingsgenoot aan die UK. Haar jongste roman heet Stasies.

Tuesday, June 20, 2023

Resensie | Eben Venter – Decima | Penguin, 2023


Eben Venter – Decima.  Penguin, 2023. 
ISBN 9781415210017

Resensent: Joan Hambidge



I


Hierdie roman uit die pen van die veelbekroonde skrywer Eben Venter se pen is gewoon meesleurend. Outofiksie, fabel, ‘n speurverhaal, jeugherinneringe, reisverslag én wetenskap word saamgesnoer om te skryf oor bewaring. Die megaherbivoor, die renoster, word in hierdie boek beskryf vanuit verskillende invalshoeke met talle stemme en fokalisasies.

 

Veral op ‘n taalvlak is dit ‘n boeiende roman, omdat die outeur se Afrikaans ook ‘n soort bewaringsaksie word soos die benaming van bossies: bababoudjies en lammerlat, boesmankers en vêrpis, kwaaiman en ghaap en dawidjiewortel, skryf hy op bladsy 85.

 

Name in die Groot-Karoo en die taal van sy moeder kan nooit uitgeban word nie, net soos die benaming van daardie bossies nie vernietig kan word nie. Want die name is verewig in hulle wortels, hulle lattakke en saaddoppe. ‘n Besonder belangrike kwessie, juis in hierdie dae waar Standaard-Afrikaans opnuut gekritiseer word en variëteite beskou word as tale met ‘n gelyke status as die standaard. Politieke kwessies, inderdaad.

 

Tale transformeer en is gebed in die konteks van die tyd: un gros légume of petit poisson in Frans word vandag nie meer gebruik nie, omdat die indertydse boeremilieu van Frans verander het.


Maar daardie begrippe bestaan steeds.

 

 

II

 

Decima gaan oor renosterstroping op die eerste storievlak. Maar dit gaan uiteindelik oor meer as dit: stroping, tradisionele medisyne, bewaarders, veldwagters, kansvatters teenoor mense met integriteit.

 

Selfs die renoster word aan die woord gestel. So begin die teks:

Vandag moet ek die sangoma gaan spreek. Die lug is yl met vlokke bleikgoud – vroeglente in die Oos-Kaap. ’n Polohemp met helder, dik strepe en swart jeans voel reg. Gedurende die skraal oggenduur hierdie brokke in my droom: ’n “teken hier”-vorm wat aanhoudend vervaag, ’n hand winterwit en leweloos, en die kleur blou. Niks hiervan beteken iets totdat ek by die sangoma gaan sit nie.

My ma wag op my by die eetkamertafel. Sy het gedek met ’n outydse, gehekelde tafeldoek en ’n Noritake-bord. Daar is twee goudbruin beskuite op die bord, en bitterige Nescafé in een van haar blommetjieskoppies – in dié deel van die storie is ek in Paradys-aftreeoord. Nou glip my ma se hand om die bekertjie warm melk en vou myne toe vir die ontbytgebed. Dan sê sy: Jy kan my kar vat. Ek bedank haar, ook vir die gebed wat ek beskou as ’n seëning omdat ek nie meer bevoeg is om vir myself te bid nie.

Ek maak als bymekaar vir die konsultasie, my Leica-kamera, gelaaide iPhone, notaboek, potlood en water, toe my ma my vasgryp met haar benerige, skone hand: My kind, sê sy, ek wil nie hê jy moet doodgaan voor my nie, dis al wat ek vra.

*

 

Daar is verskillende stemme of sprekers aanwesig. 

 

Saamgesnoer deur ‘n slim gefiksonaliseerde outeur met besoeke aan museums (in België) en ‘n sangoma in die Oos-Kaap. Hongkong en ander buitelandse ruimtes. Jeugherinneringe op ‘n skaapplaas ruk aan die hart. Besoeke aan die moeder in die aftree-oord is pynlik en helder beskryf. Daar is Athule Bomvane en Frankie van der Merwe, en die lewensmaat. Ross en vele ander stemme wat help vertel in ‘n soort Faulkner-agtige aanbod. Dr Heinz Mödler, onder andere rubriekskrywer, is ook hier. Hy is veral bekend vir sy insigryke rubrieke oor historiese en mediese kwessies.

 

Skrywers soos Proust, Flaubert, George Orwell, J.M. Coetzee saam met Claude Lévi-Strauss begrond die verhaal verder. En uiteraard: Eugėne N. Marais se Dwaalstories.

 

En Lucretius se siening dat geslagte tot niet gaan. En so gaan dit altyd wees (114).

 

Die voorblad van Albrecht Dürer se ikoniese renoster is treffend en aktiveer ook die vele kunsgesprekke en beskouings van die diorama. Besoeke aan België en ontmoetings met kenners analiseer die impak van die Belgiese Kongo en Koning Leopold II se kolonisering van swart mense.

 

Die sieninge en beskrywings van Roosevelt se brutale jagekspedisies en sy verminderende uitsprake oor renosters is eweneens tersaaklik nes J.M. Coetzee se belangrike studie The lives of animals (1999).

 

 

III

 

Verskillende perspektiewe: Die stropers Athule, Frankie van der Merwe, die Chinese diplomaat en die Big Boss wat alles orkestreer teenoor die wildbewaarder, Ziyanda wat weet hoe hierdie stropers werk, maak van hierdie gegewe ‘n soort speurverhaal. Klinies beskryf hoe die stropers wil geldmaak anders as die simpatieke Ziyanda.

 

Teenoor die siening van die medisinale effek van renosterpoeier word die verteller gekonfronteer met sifilis en ‘n besoek aan ‘n Westerse dokter. Die navorsers Roslyn en Leigh-Ann wat in Hongkong moet meer te wete kom oor wat ágter die skerms alles gebeur met renosterhorings en al die mites daaromheen ontmasker.

 

Die taal van die dier (vertolk deur die verteller) in Afrikaans teenoor Kantonnees en Xhosa.

 

Die hele kwessie van navorsing en etiese kwessies word subtiel aangespreek. Wat mag die navorser in ‘n studie weergee?  Wat mag uit ander dagboeke of vertellings “oorgeneem” word in ‘n roman? Hierom dan die lang lys van erkennings deesdae so opvallend in die romankuns.

 

Uiteindelik word die moeder en dier teenspelers van mekaar. Dit word ten slotte ‘n portret van die moeder wat sterf. Hoe sy vertrek en van haar waardigheid gestroop word, is eweneens tersaaklik: die dood maak ons niks, on-waardig. Die dood dan as die groot stroper.

 

Ligte wat skyn in huisies in die Oos-Kaap om die dooies te gedenk.

 

Die boek word opgedra aan die werklike moeder, Maureen Venter en die roman is voortdurend besig om die grense tussen fiksie en werklikheid uit te daag.

 

Op ‘n eerste vlak is dit die storie van Decima, getraumatiseer deur haar moeder se dood in die Groot Visrivier-park en dat diere waarskynlik meer weet as wat ons besef.

 

Elegie en ekologiese studie. Fiksie en faksie. Die waarheid gelieg met die verteller wat telkemale die perspektief verander amper soos in ‘n dokumentêre rolprent.

 

Dis ‘n asemsnakkende mooi roman. Dit betower, sleur jou mee in bykans 200 bladsye. Daar is eweneens ‘n tersaaklike bibliografie en selfs een wat versin is.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

Tuesday, September 13, 2022

Resensie | Pieter Stoffberg – Tenk | Penguin, 2022

Pieter Stoffberg – Tenk. Penguin, 2022. ISBN 978 1 4859 0488 5 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Dit het vele films en boeke geneem om die impak van die Viëtnam-oorlog weer te gee. Van daardie wond sal die VSA waarskynlik nooit herstel nie. 

 

The Deer Hunter (1978 van Michael Cimino), Apocalypse Now (1979 van Francis Ford Coppola), Platoon (1986 van Oliver Stone), Hamburger Hill (1987 van John Irvin), Born on the Fourth of July (1989 van Oliver Stone)…

Op ‘n reis deur Viëtnam staan die vliegtuie nog as bakens. Om die oorlog te gedenk? Wanneer jy die landskap besoek, weet jy waarom die Yanks verloor het in hierdie meedoënlose landskap (Woorde Wat Weeg / Viëtnam – ‘n digterlike reisverslagBesoek 12 September 2022).

 

Ook hier te lande skryf roman- en kortverhaalskrywers al vir jare oor die impak van die grens- en Angola-oorloë

 

Koos Prinsloo, Victor Munnik, Etienne van Heerden, Alexander Strachan (‘n Wêreld sonder grense), om enkele name uit te sonder, het hierdie sinnelose oorlog beskryf.

 

Tenk van Pieter Stoffberg is ‘n roman wat die Angola-oorlog onder die oog neem. Dis ‘n roman wat ‘n mens meesleur. Daar is verskillende verhale wat saamgevleg word. ‘n Jong man wat sy vriend se motor leen om sy swanger meisie te besoek en die troue moet afstel weens die oorlog.

 

Vrese en verlangens huis toe. Emosies afgewissel met keiharde beskrywings van wat gebeur wanneer ‘n tenk ontplof. Hierom word tande ge-X-traal, want dit is as’t ware al wat oorbly ná die ontploffing. Die gedwonge oorlog het jong mans se lewens ontwrig. 

 

Die politieke en sosiale letsels is nog steeds waarneembaar.

 

So word die boek bemark:

1987. ’n Konvooi vegvoertuie is op pad na Angola om oorlog te maak. Vir die eerste keer is Suid-Afrikaanse tenks deel van die opmars om die Rooi Gevaar te stuit.

Kommandant Leon Marais dra nie net die las as bevelvoerder nie, maar bots ook met sy direkte hoof. Boonop word die indruk geskep dat hy nie by die reëls hou nie wanneer dit kom by krygsgevangenes.

 

Tenkbemanningslid Abrie Ahlers worstel met sy eie probleme. Sal hy sy belofte kan nakom om betyds terug te wees die om met sy sewentienjarige swanger meisie te trou? Sal hy enigsins terugkom? En hoekom lieg hy oor die dood van sy pa?

 

Die insypelaar, majoor Cassie van der Merwe, moet in gevaarlike omstandighede te voet op die vyand spioeneer, en Pietie de Villiers, die jong dokter sonder enige weermagopleiding, word getaak om ’n mediese pos in ’n vyandelike gebied te beman.

 

Sersant Pierre Wessels praat ’n beangste dienspligte moed in en dra ’n gewonde 32-makker na veiligheid onder swaar bombardement. Motorwerktuigkundige Lappies Labuschagne moet al sy vernuf as soldaat inspan om met ’n mankolieke Ratel ’n gedugte Russiese tenk aan te vat.

 

Dit is van die grootste veldslae met Suid-Afrikaanse tenks in Angola. Daar is soldate wat sterf en vermink word. Ander breek onder die spanning. Almal keer terug met wonde in hul gemoed.

 

Dit is Operasie Modulêr. Dit het alles gebeur.

Die roman is uiteraard gebaseer op die werklikheid, maar werk romanmatig soos Norman Mailer se bekende The Naked and the Dead (1948). By Mailer vind alles plaas op die fiktiewe eiland Anopopei (South Pacific), maar die leser lees die werklike oorlog in.

 

 

II

 

Een van die grootste oorlogfilms, wat fokus op die wonde van die oorlog, is uiteraard Born on the Fourth of July.  Ron se beserings in die oorlog lei tot ‘n lewe in ‘n rolstoel. Die persoonlike ellende (‘n aanval op inwoners wat per ongeluk as die vyand gesien word), word met die politieke dimensie gesinchroniseer: JFK (in Ron se jeug), later Nixon se toespraak teenoor Ron wat ‘n boodskap lewer oor die gevare van oorlog. Alles puik vertolk deur Tom Cruise en gebaseer op die lewe van Ron Kovic wie se outobiografie die basis vorm van hierdie rolprent.

 

Die werklike outeur Stoffberg verwys ook na films in sy teks (165).

 

In hierdie film is die werklikheid die uitgangspunt. In Tenk erken die skrywer in sy nawoord dat hy met verskillende mense onderhoude gevoer het. Ons word ook voorsien van ‘n literatuurlys. Met ‘n handige Woordelys agterin, enige taalkundige se droom.

 

Op die promosiebiljet word die werklike tenk beskryf en dat Majoor Dana Swanepoel van die Pantsermuseum in Bloemfontein die drie vooraansigfoto’s geneem het.

 

Tenk is ‘n vernuftige vervlegging van fiksie en feit. Die troostelose Angolese oorlog met Magnus Malan se erkenning op 11 November 1987 dat ons oorlog maak. Toe woonagtig in die Noorde van die land onthou hierdie leser hoe ‘n vader, ‘n prokureur in die dorp, sy jong seun begrawe het in ‘n uniform.

 

Private ellendes word afgewissel met die politieke en sosiale werklikhede van oorlog: jong mans wat teen hul sin of wil opgekommandeer word; vlieë; malaria; rusies; diarree; boeliebief as stapelvoedsel; verlange huis toe; ‘n kapelaan wat probeer raad gee; pynlike gesinsellendes wat in die tyd van konflik uitborrel.

 

Die Hubo- en Vimpulorivier. ‘n Jong soldaat, oormoeg, word per ongeluk deur sy eie manskappe doodgery, die voorste kanontrekker (188).

 

Daar is helder beskrywings soos dat die lawaai, die stank van diesel, kordiet en sweet; so surrealisties is soos ‘n Salvador Dali-skildery (180).

 

Die geweldige spanning van die oorlog word beskryf in ‘n toilettoneel, terwyl die mortiere om die soldate se koppe verbyvlieg (174).

 

Die militêre aspekte word met absolute presisie beskryf – kyk onder andere na bladsye 51, 66, 121 en 142. En tande wat ge-x-ray word sodat jy nadoods uitgeken kan word (23).

 

Hierteenoor ‘n liefdesbrief op bladsy 108 wat aan die hart ruk.

 

Jonas Savimbi. Katima Mulilo. 

 

Die inhoudsopgawe verskaf ‘n lys van prominente karakters en hiermee weet die leser dan die vertellende instansie ‘n ouktoriale verteller is soos die regisseur van ‘n komplekse film.

 

Dit is ‘n puik, afgeronde roman wat hierdie leser stadig en met etlike kanttekeninge gelees het.

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

 

Monday, December 7, 2020

Resensie | Anoeschka von Meck – Die heelal op my tong | Penguin, 2020

Anoeschka von Meck – Die heelal op my tong. Penguin, 2020. ISBN: 9781485904106


Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie meesleurende roman wat heet Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck word die hele kwessie van liggaamlikheid ondersoek. Haar vader haat vet vroue. Trouens, reeds met haar geboorte weier hy om die foto's te hou van haar en die moeder, omdat hulle oorgewig is. 

 

Hierdie boek gaan egter oor meer as liggaamlikheid, oorgewig en om vasgevang te wees in die norme van die gemeenskap. Dit word 'n besondere aweregse biografie van die werklike vader, Vloog Theron. Deur oor hóm te skryf, kom sy by haarself uit. Sy is inderdaad soos die Russiese matrioskas verskillende selwe in een liggaam vasgevang. 

 

Die beskrywings van die vader is ambivalent. Enersyds bewonderend vir hierdie larger-than-life-figuur, Vloog Theron; andersyds opstandig oor die skandes, verlatenheid en eindelose probleme waarin hy haar (en hul gesin) gedompel het. Hoe sou haar lewe daar uitgesien het as sy nie so 'n vaderfiguur gehad het nie?

 

Fat is a feminist issue, die bekende studie van die psigoterapeut Susie Orbach, het in 1978 verskyn. Vrouens en hul gewig. Dieetsiektes. Anoreksia tot vetsug. Body loneliness. En hierdie studie prut onderlangs in die vertellling nes die ander feministiese studie My mother/  my self  (1977) van Nancy Friday wat hier dalk met die woord vader vervang kan word. Ons word gevorm deur die wonde – onbewustelik of opsetlik – deur die ouers toegedien. 

 

Elke ongewenste kilogram verteenwoordig vir die verteller 'n kilogram smart (197).

 

In The talented Mr Ripley (1999) van die regisseur Anthony Minghella merk die vaderfiguur op dat ouers ook nie hul kinders kan kies nie. Hitchcock – self oorgewig – se The birds word ingebed in Von Meck se roman en so word die Unheimliche na vore gebring.

 

Ons bly nadink waarom daardie onheil geplaasgevind het.

 

Jane Gallop se psigoanalitiese studie, The daugher's seduction (1982) bring etlike perspektiewe na hierdie roman van amper 400 bladsye wat hierdie leser oorrompel het. Ons ken Freud se Dora en haar gevoelens oor haar vader.

 

Hierdie psigo-biografie word beskryf as bisarro-fiksie, daardie soort teks wat absurditeite, satire, die groteske inspan om 'n nuwe wêreld te skep. Die skreeusnaakse begeleidende titels van die verskillende hoofstukke soos Die onrondfokbare Tintin – met ikoon daarby van 'n raai wat ? – struktureer die gegewe.

 

Die roman werk met herkenbare gegewens, maar word omgetower in 'n roman wat boei, ontstel en laat lag. (In die nawoord word die sibbe wel gerus gestel dat hulle nie daar is nie.) Humor en satire word die wapens waarmee die verteller haar verweer teen pyn en verwerping.

 

Die titel aktiveer Spreuke: Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet. En alternatiewe idees kom ook aan bod: UFO's, samesweringsteorieë, spiritualiteit, New Age filosofie, Zen, psigiese waarnemings, besoeke aan klinieke, en die impak van dwelms op jou menswees. En die opnoem van die abjekte.

 

Dis meer as Willemien (Wilde Willemien!) se verhaal. Dis 'n skreiende ontmaskering van hoe perfeksie is waarna almal smag: jy moet ryk en mooi en slim en maer wees. As die vaderfiguur nie geskonde was nie, sou hy dalk minder verbete opgetree het teenoor hierdie kind?

 

Die binnelandskap word verken en telkens binne verskillende ruimtes en landskappe – werklik en verbeeld – geplaas: Namibië, Suid-Afrika, Bhoetan, die VSA, die Ooste, o.a. Die verskillende windstreke verklap telkemale iets van die binnelandskap en die verbete soeke na heling en begrip.

 

Herhaal kinders in hul volwasse verhoudings die onopgeloste konflik met die ouers? Waarskynlik waar, as ons kyk na die verhouding met Clifford, self 'n verwonde mens. En die ouer man versaak haar ...

 

Daar is beskrywings wat 'n mens altyd sal bybly: die jong dogtertjie wat afgeknou word in 'n Engelse skool; die soeke na kos in 'n leë huis; die afwesige, slapende moeder; die rol van die grootouers en hoe Namibië resoneer in die verteller se gemoed. 

 

Hier is 'n ouer verteller wat die kind oproep in haar gemoed en telkens hoofstukke aanbied met ironiese distansie. Daar is ingebedde kursiverings wat 'n ander perspektief gee. En júis omdat die vertellende instansie met soveel humor en ironie die gegewe aanbied, sluk hierdie Jona-verhaal jou in. Voorgee word verwerp. Dis sleg vir die siel ...

 

Ons ken almal A.G. Visser se beroemde satiriese gedig "Vet":

 

As ou tant Siena straat op loop

Om antipon of spek te koop,

Sê dié wat pad maak: Dank die Heer!

En sit hul sware stampers neer ...

 

Dit is leesplesier uit die boonste rakke. Geskryf met 'n vaste hand en met vreesloosheid. Hierdie leser kon dit eenvoudig nie neersit nie. Is dit toevallig dat boek self aan die oorgewig is? Oor die lyf wat 'n spens van smarte geword het, skryf sy sonder skroom.

 

Friday, November 15, 2019

Resensie | Marita van der Vyver – Grensgeval (2019)

Marita van der Vyver – Grensgeval. Penguin, 2019. ISBN: 978 1 4859 0379 6

Resensent: Joan Hambidge

Die verlede is ‘n land waarheen jy nooit kan terugkeer nie

I
Ruan Kemp se Gedeeltelik bewolk het vroeër vanjaar by Tafelberg verskyn met ‘n opdrag: vir D.B. Die roman het tot polemiek gelei oor wat behoort het aan die Dave Bishop en wat Kemp bygelas of herinterpreteer het? Dit bly ‘n komplekse gegewe waarop die antwoorde eers later gevind sal word (Woorde Wat Weeg | Resensie | Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk, 2019).

Nou kom Marita van der Vyver met Grensgeval (Penguin) en sy dra haar boek op aan Dave Bishop, haar voormalige eggenoot en ‘n karakter in Griet skryf ‘n sprokie.

Grensgeval is ‘n boek oor die grensoorlog (Angola) en verwys ook na die sogenaamde borderline personality disorder. Dit verwys eweneens na paranoïese skisofrenie en bipolariteit. In hierdie boek – ‘n onthouboek – beweeg die hoofkarakter Theresa Marais terug in haar verlede as ‘n bevoorregte wit kind. Sy besef as ouer persoon hoe min sy geweet het van die bestaan van minder bevoorregtes en nie-wit-mense in die ou-Suid-Afrika. Met die roman wil sy dan probeer bepaal hoé dit gebeur het dat sy so oningelig was. 

Haar man – eintlik eksman Theo – se ervarings wat in ‘n boks opgesluit word, is dan ‘n Pandorakis vol geheime. Die ontdekking van ‘n Kubaanse soldaat se brief aan sy kind neem haar na Kuba om die brief terug te gee. 

Sy oorhandig ook Theo se briewe aan sy moeder in ‘n verloopte Sunnyside. Hier ontdek sy in die rassistiese skoonmoeder se woonstel ‘n foto van haarself. Sy is die bruid op die foto, maar helaas uitgesny uit die kiekie (44).

Die besoek aan Havana is eg beskryf. Sy wil egter meer as ‘n toeris wees en besoekers aan Kuba, soos hierdie reisigerleser, weet hoe outentiek sy die kos, die hotel en die ambiance van hierdie verruklike wêreld beskryf word wat vir soveel jare in jong Afrikaners se gemoed gedemoniseer is.

In die beskrywings van ouer Afrikaners is die gebruik van die woord opneuk erger as die k-woord (94), wat weer eens bewys op watter vasteland ons geboer het.

Sommige ervarings word inderdaad nooit vergeet nie, net onderdruk (107). Hierdie goed geskrewe, hoogs leesbare roman navigeer die pynlike ontdekkingsreis van Theresa.

II
Die roman word onder verskillende titels ingedeel wat die verhaal konkreet begelei, soos “Hemingway se bed” en “'n Vuurwapen”. Hierdie twee hoofstukke wat ek uitsonder, is gelaai met subteks. Die skrywende Hemingway in die hotel Ambos Mundos, is ‘n belangrike kode vir die teks. Hemingway is ‘n toeristiese baken in Havana en sy vriendskap met Castro gee ‘n ander blik op die vertellende instansie wat grootgeword het met ‘n negatiewe indruk van hierdie staatshoof (Woorde Wat Weeg | Reisjoernaal/ Kuba & Mexiko, 2004Besoek 15 November 2019).

Sy het somervakansies beleef, terwyl haar man op die grens was. Hierdie ervaring het hom so verwond dat hy selfs ‘n vuurwapen op haar rig. In die beskrywing van ‘n ongelukkige huwelik wat gekenmerk word deur emosionele geweld, vind die leser ‘n hoogtepunt in Van der Vyver se oeuvre.

Die beskrywing van medespelers in Kuba – soos Ruben, Lazaro en Oreste – word eweneens goed gedoen. Newekarakters (soos die prokureur, Nini, die skoonmoeder en ouers word goed geteken. Die gesprek met die moeder en self is pynlik-eerlik. Ook die kwellinge rondom die lyf en seks, is eerlik.)

Die roman wentel om verskillende opposisies: haar man se troostelose weermagervaring teenoor haar onskuldige ervarings; haar vriendin in Pretoria se ervarings teenoor ‘n bestaan in die Kaap; hede teenoor verlede; die jeugdagboeke teenoor die man se “swart joernaal” (ook ‘n army boks) en die pa se brief.

Daar is oomblikke in hierdie roman wat so pynlik is dat ‘n mens eers die boek moet toemaak.

Dit is ‘n roman van boetedoening (‘n brief wat gevind word en vergifnis wat begeer word) en ‘n ondersoek na die letsels wat oorlog op ‘n mens laat.

Die toneel waar ‘n Munch-koppie uit Theresa se hand geklap word en die “preek” in die kerk, is eweneens dwingend beskryf. (Per ongeluk ‘n dubbelsinnige taaipou: tikland in plaas van Stikland op bladsy 258.)

Metabletika is die konsep van J.H.H. van den Berg: die ontoevallige samehang van gebeure (Metabletica - WikipediaBesoek 15 November 2019).

Twee romans ondersoek Dave Bishop, een vanuit ‘n meer gedistansieerde manlike perspektief; die ander vanuit ‘n vroulike, intiemer hoek.

En ‘n mens kan nie die verlede regmaak of regdokter nie.’n Mens kan alleen dit in die herinnering en in ‘n roman of nie-fiksie besoek. Die brief aan die geliefde dogter (Mi Querida Hija) is ‘n pynlike analise van wat oorlog aan mense doen en die hoop dat ons dit kan vermy.

Die afwesige teenwoordigheid wat altyd sou bly spook.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)


Monday, April 22, 2019

Resensie | Theo Kemp – Strafjaart (2019)

Theo Kemp – Strafjaart. Penguin, 2019. ISBN: 978 48590 388 8

Strafjaart is die tweede publikasie van die skrywer Theo Kemp wat indertyd 'n sterk debuut met Skool gelewer het. Die jongste teks is egter nie 'n konvensionele roman nie. Dit wil meer wees as dit. Dit het 'n verteller-as-navorser as hooffiguur wat besig is met 'n skripsie oor die verdwene skeepswrakke aan die Suid-Afrikaanse kus. Dit plaas die teks dan ook in die ruimte van die faksionele. Sy lewe word onverwags ontspoor deur 'n oproep uit Pollsmoor waar sy tante, Lizette, sy pa se laatlamsuster, haar bevind. Die verteller is veertig; die tante in die tronk, is onkonvensioneel-gay en vyftig jaar oud.

Met besoeke aan hierdie tante kry die leser 'n blik op die onderwêreld van hierdie bestaan. Dit is 'n kloaak, met reëls en regulasies. Trouens, die tronklewe, soos Michel Foucault al uitgewys het in sy studie oor tronke en straf Discipline and punish: The birth of the prison (1979), beheer ook die samelewing daarbuite. En tronksisteme verklap iets van 'n gemeenskap se omgee vir ander. In Strafjaart is die tronke vol en kondisie onmenslik. (Hierom beskryf hy ook betogings teen die sisteem.)

Kemp spreek etlike etiese kwessies aan. Hoekom is die geweldenaars daar? Ofskoon sy tante 'n witboordjie-oortreder is, word sy saamgeplaas met werklike kriminele en selfs 'n moordenaar. Sy skryf – as geletterde persoon – hartverskeurende briewe ter strafversagting aan die regters en landdroste.

Hoe lyk 'n samelewing waar mense dreig om mekaar te verbrand, en 'n broer dan in die tronk gesmyt word? Mense word nie in hierdie tronke gestraf nie; hulle word ont-mens.

Die verteller is wit en bevoorreg. Hy weet hy is 'n voyeur: “Ek kan myself nie weerhou om in die museum van verrotting en verwering te kom loer nie. Die voyeur van die tronk” (164). Maar deur oor sy tante te skryf, kom hy nader aan homself en sy familie – en oor afwesige vaders (ook in gegoede families).

Sy teenspelers is eweneens almal in 'n krisis. Sy vrou, M is swanger en naar; Esmarie, die buurvrou, die goeie mens wat ander help by die kerk, het 'n seun wat buite die huwelik verwek is; Edith is vasgevang op die Kaapse Vlakte en behoef hulp.

Daar is Hans die kroegman wat ellende begryp. Wilson wat raad gee. Frederik du Toit wat werk vir die Instituut vir geregtigheid en versoening.

Nes die staatsadvokaat wat sy insigte deel.

Die teks lewer kommentaar op 'n rotteplaag in die tronk. Is mense dood aan leptospirosis of is hulle doodgeslaan?

Mabel Jansen se uitspraak oor verkragting wat as rassisties geïntepreteer is, kom aan bod; nes die moord op Hannah Cornelius en die dood van haar moeder.

Tronke is ruimtes wat liminaliteite aktiveer. Al die karakters wat teenspelers is, beleef 'n krisis of 'n oorgang. Wat met die buurvrou gebeur, is skokkend en vir die leser wat al soiets beleef het, des te meer skokkend. Die gegewe wil ek nie verklap vir die leser wat sélf die geweld moet beleef.

Die toneel met die kleine Moses wat opgetel is in 'n sak en versorg word deur Nomsa met haar silweroorbelle word aangrypend weergegee. Hierdie sake staan opgeteken in ons dagblaai: daagliks. 

Slim intertekste, soos verwysings na Johnny Steinberg (The number) en Tertius Kapp (Rooiland), laat die teks oopwaaier verby die fiksionele. Don Pinnock se Gang town en Denise Ackerman, die teoloog se studie Surprised by the man on the borrowed donkey is eweneens hier aanwesig. En: Frankl se Man's search for meaning, o.a. Mandela word teenoor Zuma geplaas. Die Bybel is hier nes hallelujaliedjies. Die karakters praat outentiek.

Die skrywer gebruik die skeepsvaart-navorsing as 'n soort raam om die gegewe te beheer. Die boek eindig op 'n hoopvolle noot met die geboorte van M se kind.

Hierdie boek is soos Eybers se dubbelswaan: fiksie teenoor die harde werklikheid. Dit is 'n boek wat my sprakeloos gelaat het. 

'n Mens bewonder die skrywer se gedurfdheid en eerlikheid. 'n Mens moet uiteraard dink aan Truman Capote se In cold blood (1966), daardie baken van die New Journalism, en Norman Mailer se The executioner's song wat in 1979 verskyn het. Capote, soos alombekend, het sy roman geskryf sonder om aan die etiese aspek van sy besoeke te dink.

In hierdie hibriede teks van Theo Kemp het jy 'n skrywer wat vrae vra oor die ongelykhede van ons samelewing wat mense uitsigloos maak. En geweldenaars. Hopelik sal Korrektiewe Dienste kennis neem van hierdie boek se aanklag.

Die voorblad is alreeds 'n klein tekensisteem: 'n groen ID-boekie, tandeborsel en sakkie binne-in 'n plastiekbakkie. Is dit vetkryte onder in die bakkie?

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)


Friday, February 22, 2019

Resensie | Carina Diedericks-Hugo – Karaktermoord (2019)

Carina Diedericks-Hugo - Karaktermoord. Penguin, 2019. ISBN 9781415210178

Resensent: Joan Hambidge

Die bekende jeugverhaalskrywer Carina Diedericks-Hugo debuteer met Karaktermoord by Penguin as volwasse skrywer. Die voorblad aktiveer verskeie reekse en Ruth Rendell.

Om jou kleim af te steek binne hierdie sub-genre wil gedoen wees. En sy kry dit absoluut reg. Die titel speel in op die vrees wat elke ordentlike mens (en skrywer) het: dat leuens, halwe waarhede, onwaarhede of oordrywings oor jou verprei mag word. Jy moet 'n Truman Capote wees wat beweer: vertel van my wat jy wil; verkieslik 'n leuen.

Die roman speel binne 'n uitgewershuis af. 'n Skrywer word vermoor en dan word daar gesoek na die moordenaar. 

Deur die roman so te situeer, aktiveer die skrywer al die ego-strukture en probleme wat die verhouding tussen 'n skrywer en uitgewer mag oplewer. Die uitgewer moet 'n boek verkoop, dit bemark - en dis nie altyd vir die skrywer aangenaam om te besef dat sy / haar boek nie meer aan die leesbehoeftes voldoen nie. En as die skrywer boonop emosioneel of seksueel by die uitgewer betrokke raak, is dit 'n resep vir 'n ramp.

Met 'n rapier, nie 'n knuppel nie, word die verhaal van Anna (en haar manewales) oopgesny. Hier en daar is daar flitse van herkenbaarheid wat nie die storie se gang belemmer nie, maar die kwessie van wat "karaktermoord" behels, ontleed. 

En dit is hierdie dubbelpraat (doublespeak) wat die roman vorentoe dryf. Dit is dus tereg satiries en oordrewe in aanbod soos Deborah Steinmair tereg uitgewys het in haar uitstekende Rapport-resensie (Seks en satire teen ’n uitasem snelpas | Netwerk24). 

En dit satiriseer ook die feit dat almal deesdae krimies wil skryf - waarskynlik omdat dit geld maak. (Is die verwysings na ernstige tekste geplant om te wys hoe ons leesmodes verander het? Hoe sou ons nou op Sewe dae by die Silbersteins gereageer het?)  Leroux is ingebed in die teks en Saul Bellow se Humboldt's Gift waar 'n voet 'n bietjie uithelp (129).

Anna Neethling teenoor Malan Sinclair. 'n Depressiewe vrou en 'n seun wat sy vader haat. Die wynbedryf teenoor die skryfwêreld. Seks en geld. Die suksesvolle Sebastiaan Barnard. Wynand du Toit wat sy posisie wil inneem. Die ywerige joernalis Christina; die vader van Anna, 'n predikant; 'n wynmaker, ene Dawid Briers wat sy druiwe elders kry en dan wyn maak. ('n Skuinsklap na die bedryf waar dit 'n doodsonde is as jy dit nie erken nie.)  Die name is al beduidend vir die satiriese kodes.

Die slot het ek nie sien kom nie. Met 'n teruglees, kan jy dit egter insien!

Is die mense werklik? Is hulle samestellings van werklike mense soos Steinmair beweer?

Waarskynlik wérklik plus 'n verbeelding wat iets bysit. Roland Barthes se vraisemblance word geaktiveer. Net soos werklike plekke en 'n stad herkenbaar is, maar binne hierdie roman gelaai word met núwe implikasie.

Dis teen 'n vinnige pas geskryf met implisiete verwysings na TV-reekse.  Die skrywer was 'n uitgewer op haar dag; so sy kén die bedryf. Sy deel klappe uit na "kommaskuiwers" en "letterslawe". Sosiale media se obsessiewe boekhou (23) en hoe 'n sekretaresse of 'n onbeduidende redakteur gemanipuleer kan word. Die chignon teenoor die bajonet. Snyerspakkies en dasse word opgestuur.

Korreksie: Boonzaaier moet lees Boonzaier (108).

Nuwe wyn in ou sakke. Beslis nie bitter aalwyn vir hierdie leser nie. Dalk pleeg jy karaktermoord as jy mense herken en dit nie bloot as fiksie benader nie.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, March 18, 2017

Marita van der Vyver - Misverstand (2017)


Marita van der Vyver - Misverstand. Penguin Random House, 2017. ISBN: 9781485903505

Resensent: Joan Hambidge

Misverstand is die jongste toevoeging tot Marita van der Vyver se oeuvre. Dit word terselfdertyd uitgegee in Engels as You lost me.

Die verhaal ondersoek etlike kwessies wat die middeljarige en werklike outeur Van der Vyver besig hou. Die rol van ‘n suksesverhaal (Griet skryf ‘n sprokie) waarna kritici altyd terugkeer, terwyl sy ook ander werke gelewer het soos uitstekende kinderboeke en kosboeke.

Hierdie leser het die teks as ‘n tong-in-die-kies-antwoord gesien van die werklike Van der Vyver se “antwoord” op hoe Afrikaanse lesers haar sien as ‘n buitelandse skrywer wat in die “eksotiese” Franse landskap leef.

Frankryk is helaas nie meer ‘n veilige hawe nie. Dis ook nie meer die eksotiese ruimte van toe ons sestigers soos André P. Brink daar vertoef het nie en tekste soos Die ambassadeur en reisverhale geskryf het nie. Ja, daar was studente-opstande – nou is dit terreur post-Charlie Hebdo, bomme op lughawens, aanhoudings in teaters, en migrante wat die hele struktuur van die Stad van Lig en Liefde verander het. ‘n Mens sien hierdie verandering duidelik in die rolprent met sy verskillende filmmakers agter die kamera in die film Paris, je t’aime, 2006. (Besoek 16 Maart 2017). (Haar roman Dis koue kos, skat is verfilm).

Die werklike outeur dekonstrueer in hierdie roman die rol van die skrywer. Haar hoofkarakter is – yes, wait for it – Willem Prins met sy uitgewer Martine Hulot wat sterk voorskrifte het oor ‘poesboekies’ wat goed verkoop. Is dit beter om ‘n vroueskrywer se naam op die buiteblad te plaas eerder as ‘n man s’n? Hier speel Story of O ook in en die nom de plume Lolita Meyer word ‘n ander kode.

Behalwe vir die spottery met hygromans en sukses, word daar ook verwys na die Groot Roman-wedstryd (dit heet die Johanna de Groot-prys!), wat die Afrikaanse letterkunde voortdryf. Groot geld word uitgeloof en die mededinging tussen ons “groot skrywers” pleit al lankal vir ‘n satire. Veral as pryswenners se romans nie verskyn nie of gewoon ‘n flauwe kul blyk te wees. Hoe het sake nie verander nie.

Die hoofkarakter is vrouloos, webwerfloos, agentloos, drankloos (18). Hy het drie eksvroue en die voorblad van Misverstand resoneer met Brink se ‘n Vurk in die pad!

So beskou, word die erotiese skryfwerk van Brink ook opgestuur.

En die skryfproses word verder gesatiriseer:  Szymborska word aangehaal:

Die helfte het ingekom omdat dit reën, die res is familie. O Muse.

Die boek het vele kodes oor skryf en lees. Daar is wonderlike verwysings (vir die liefhebber van Parys). Selfs Sartre en De Beauvoir se kafee gooi ‘n draai hier.

Die fokalisasie wissel snel: van Willem, na ‘n eksvrou tot sy kind. Lana kom ook aan die woord. En Zoë het ook ‘n spreekbeurt soos Sophia.

Daar is ‘n joernalis (ene Jackie van der Merwe van Pniel),  daar is ‘n Proust-vraelys, daar is al die clichés oor skryf (en Parys), spottery met genderkwessies, distopie, die Bad Sex Award (waarvoor Brink al benoem was), Georges Simenon, die “metafisika van seks” (119), die duidelikste knipoog na Die ambassadeur (via Lawrence Durrell).

Presies halfpad in die roman word die grap onderbreek met die “ironie van die noodlot” (137).

Terreur dus,  en hier buig die roman sterk op die werklikheid in. (Om oor ander werklike kodes te skryf, word aan die leser oorgelaat, soos o.a. oor die impak van die dood van ‘n kind op 'n huwelik, oudword, die soeke na erkenning en die brose self.)

Franse woorde word toeganklik en vlot in Afrikaans oorgedra.

Die analise van die temas van kandidate vir die Groot roman-wedstryd is vol in die kol.
Wanneer ons lees van “haar stem breek, soos ‘n tak wat knak” (259) val die roman in die slaggat van die hygroman of populistiese roman en dekonstrueer dit nie genoegsaam die ellende wat beleef word nie. Die eerste helfte werk bepaald. Dis uitstekend!

Dis ‘n goed geskrewe roman wat vlot lees. Vir my gevoel moes die tweede helfte dalk net somberder en sterker gewees het?

Om middelmatigheid en die vrees daarvoor te beskryf, moet jy die “bloody horse” weergee.
Steeds ‘n roman vir Van der Vyfer-aanhangers. Dis nommer 13.

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)