Showing posts with label Tafelberg Uitgewers. Show all posts
Showing posts with label Tafelberg Uitgewers. Show all posts

Tuesday, September 3, 2024

Resensie | PJO Jonker - Die Onsigbare | Tafelberg, 2024

PJO Jonker - Die Onsigbare. Tafelberg, 2024. ISBN: 9780624095422 

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie bewonderenswaardige én pakkende debuut van PJO Jonker heet Die Onsigbare. Dit tree in gesprek met die plaasroman wat ‘n lang tradisie in Afrikaans beleef het. Van Bart Nel deur J. van Melle in 1936 tot huidige skrywers wat die plaas as ‘n nuwe ruimte besoek. Eben Venter en S.J. Naudé onder meer.

 

Die spinkaanplaag aktiveer eweneens Die spinkaan beampte van Sluis deur Jochem van Bruggen in 1933.

 

Hierdie roman trek ‘n streep deur die idilliese plaasbestaan. Daar is geweld en troosteloosheid. Verraad. Aanvanklike begrip tussen boere en werkers wat later verloeder. Dit is die verhaal van ene Jada, spraakstramme, wat op die plaas woon: Erfdeel. Sy ouers is oorlede en die bruin Anys is sy bondgenoot. Deur haar kry hy ‘n blik op ‘n lewe wat met stryd gepaardgaan.

 

Die besoek aan die stad (ironies genoeg wanneer hy as boer van die jaar ‘n lesing moet lewer), keer sy bestaan ónderstebo wanneer hy slaags raak met ‘n meisie-van-die-nag, wat hy later probeer red. Sy soektog terug na die stad loop op niks goeds af nie. Sy motor word gesteel en hy staan in die beskuldigdebank.

 

‘n Mens hoor en ruik die stad en plaaslewe wat opklink soos in Totius se beroemde Trekkerswee (1916) waar die vader die dogter probeer terugvind. Die vele Bybelse verwysings laai die verhaal met simboliek. ‘n Bybelse verwysing na Jesaja 49:15 help die hoofkarakter soek na die verlore en geskonde vrou.

 

Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, ek sal jou nie vergeet nie.

 

II

Die verteller laat ons die plaas sien én veral: beleef. Dit is kennelik geskryf deur iemand met ‘n eerstehandse ervaring van hoe ‘n plaas se werkinge daar uitsien.

 

Maar dis meer as ‘n plaasroman wat afspeel in die Karoo. Dit is geskryf en verpak met vele simbole (soos die wildekat en jakkalse). Die siellose bestaan van werkers geplaas teenoor die inkommer, ‘n jong dominee, deur die gemeenskap met agterdog bejeën teenoor ‘n bankbestuurder en die media wat jag maak op Jada. 

 

Dit is ‘n roman met vele Jungiaanse verwysings.

 

Jada Olivier, van die Karooplaas Erfdeel, maak die plaashek oop van sy onbewuste en word gekonfronteer met sy eie skadukant.

 

Die roman begin met Jada wat droom hy val en eindig met ‘n soort hallusinasie dat hy haar, die verlore vrou, weer sien. Die roman ondersoek verder stilte: Die Groot Afwesigheid, soos die plaasmense in die Karoo dit noem. Maar dit word ‘n simbool van die onsigbare én die ewige soeke na metafisika; na dit wat sin maak. Hierom dan die vele Bybelse verwysings.

 

Daar is verskeie sleutels in die roman wat die leser daarop attent maak dat ons hier te make het met ‘n onbetroubare karakter, ‘n outsider; een wat sy houvas op die werklikheid verloor het. ‘n Liminale proses word weergegee: tussen die harde werklikheid en drome. Daar is ook politieke kommentaar (soos die stryd teen die kommunisme, die Kubane en sonde) teenoor die gebaande weë van treine en die soektog na sin en samehang. Die hoofkarakter self is bekommerd oor sy septiese siel en gee hom oor aan fantasieë en drome. Die nuwe dominee is ‘n teenspeler en is selfversekerd. Hierteenoor ervaar ons die bruinmense se sosiale ongeregtigheid wat tot uiting kom by hul kerkdienste. Drank en verkragting kom aan bod op sowel die plaas as in die stad.

 

Bossieplaas word aangekoop, danksy ‘n goeie wolinkomste en uit Duiwelskamp neem die hoofkarakter mense in diens. Hier ervaar die leser al die ellendes van ‘n uitsiglose bestaan. Hulle leef buitekant die dorp.

 

Boereverenigings en die Jongboer van die Jaar-kompetisie is verdere sosiale merkers.

 

Struise verander in huise en die Born Free Medicinal Herbs gee agentskap aan die werkers.


Rooikatte en jakkalse word simbole van bedreiging. En die jakkalse aktiveer die Bybel.

 

En dan: die werklike verandering of wending wanneer Jada die stad besoek en Lydia ontmoet. Met ‘n droom op bladsy 140, wat net onheil voorspel. Met verwysings later na Wolraad Woltemade en Petrus. Die simbole-netwerk word behendig en ragfyn hanteer. Anys versoek dat haar hemelloon nie weggevat moet word nie (185) en tussendeur is daar bekende liedere oor die Jesus-figuur:

 

Hou maar moed

As die duiwel woed

Daar’s krag in Jesus bloed

En die duiwel weet dit goed 

(184)

 

Daar is verwysings na die lydensweg en die kruisiging; na Abraham, na Habakuk én die bloedspoor van werklike jag en die bloedspoor van Jesus.

 

Tyd in die roman word eweneens goed gestruktureer. Anys dra nie ‘n horlosie nie, maar sy weet présies hoe laat dit is. 

 

Met elke herlees besef die leser dat die tyd van die onbewuste sy eie merkers het en telkemale na vore kom op tye wat verbind is aan traumatiese ervarings in die verlede.

 

Daar is weerverslae, lyste vir die veiling van die plaas wanneer Jada se skuld te groot raak. Sy onderhandelinge met die Sjinese was helaas ‘n bedrogspul. Die skrywer se vermoë om gedistansieerd en bykans digterlik te skryf, verdien vermelding.

 

Van die sterkste beskrywings in hierdie roman handel oor die “nomads van die nights” én die ellendes wat Jada in die stad meemaak: diefstal en aanklagte. En ‘n besoek aan ‘n lykshuis was vir hierdie leser ongelooflik ontstellend. 

 

Die glasstukkies op die teer is ‘n beeld van sy beheer wat weg is. Met die gemeenskap wat alles in die pers verneem en ‘n oordeel uitspreek.

 

Die waarheid sny soos ‘n slagmes twee kante toe, lees ons. Dieselfde geld hierdie roman: plaasroman, maar ook ‘n verslag van ‘n pynlike reis ín die self ín. 

 

Die reis na Hong Kong tot in Shenzen waar hy Zhang Yin hom sal ontmoet, word beeldend beskryf. (Dus word die boek ‘n soort reisroman ook.)

 

Ons sien gedeeltes uit ‘n dagboek (geskryf met ‘n potlood) teenoor ‘n kontrak geteken met ‘n Mont Blanc-pen. Dan helaas die harde werklikheid van die prokureur: die geld is nie inbetaal nie.

 

III

Ten slotte:

 

Vir hierdie leser is hierdie boek véral ‘n Jungiaanse peregrinasieroman met die individuasie van die hoofkarakter. (Jada in die Hebreeus beteken wys.)

 

“Hy plant die kiepersolwortel langs die veepos. In geloof. Vaste vertroue op dit wat ons hoop. Bewys van dinge wat ons nie sien nie.” (301)

 

Hierdie boek moet elke leser, wat in hierdie land woon en nadink oor grondbesit, erfreg en ongeregtigheid, beslis lees. Dis meesleurend en ontstellend.  Dalk ‘n siniese antwoord op Boer soek ‘n vrou?

 

Daar is een taaipou wat met die volgende uitgawe reggestel kan word: bie in plaas van baie (343).

 

Die nuwe stem bekoor. Dis vars. Dis nuut. Komplekse idees wat konkreet verbeeld word.


Met ‘n sterk hand geskryf.


PJO Jonker © Jaco Marais

Sunday, June 5, 2022

Resensie | Carien Smith – Bot. Tafelberg, 2022


Carien Smith – Bot. Tafelberg, 2022. ISBN: 978-0624- 092872  

Resensent: Joan Hambidge



I

 

Bot is die debuut van Carien Smith wat al geruime tyd aandag vestig as pryswenner en skrywer met belofte. En met haar debuut doen sy hieraan gestand. 

 

Tydens die dood van Ursula K. Le Guin is hierdie leser in Bogóta in Colombië saam met die concierge verdrietig oor haar vertrek. Dis 2018. 

 

Hierdie leser onthou ‘n verhaal van Le Guin waar mense op ‘n vreemde planeet ontmoet, seks het en die ervaring word alles toegezip – met geen pyn of verlange nie. Anders as op aarde.

 

In 1979 verskyn Patrick Parrinder se studie Science fiction by Methuen. Asimov tot Frank Herbert. Utopia tot distopia. Jules Verne en H.G. Wells en natuurlik die meester, Ms. Le Guin word ondersoek, verduidelik en gekontekstualiseer.

 

2001: A Space Odussey is Stanley Kubrick se epogmakende rolprent uit 1968 het die grense verskuif in die filmkuns. Gebaseer op Arthur C. Clarke se The Sentinel ondersoek hierdie film ‘n reis na Jupiter met HAL, die gevoelige komputer.

 

Ons dink verder aan Andrei Tarkofski se belangrike film Solaris (1972), wat waarskynlik een van die grootste films binne hierdie sub-genre is. In Afrikaans is Skepsel van Willem Anker ‘n enorme prestasie wat subtiliteit en die ontginning van ambivalensie betref. Dat hierdie versameling nie die kortlys vir die Hertzogprys vir prosa gehaal het nie, het vele lesers laat frons.

 

II 

 

Bot is die skrywer Carien Smith se debuut met 16 kortverhale. Hierdie debuut gee ‘n kopknik na die kodes van die sub-genre en in die teks word daar selfs nagedink oor wat hierdie skryfwerk behels (96-97). Die teks wys op en analiseer die bestaan in ‘n ander ruimte met die mense wat hulself as klone of simulate ervaar. Tydreise, aliens, parallelle universums (die sogenaamde multiversum), oorloë tussen planete, teleportasie, en wat nog, kom aan bod. In Andrei Tarkofski se Solaris word die wetenskaplike besoek deur sy vrou wat selfmoord gepleeg het. Die psigoloog wat gestuur word na die ruimtestasie wat om Solaris, die planeet sirkel, besef daar heers groot depressies en angs. Hier is gerepresseerde emosies wat losgemaak word met ‘n kopknik na Freud. Die water op die planeet word ‘n brein wat almal manipuleer en intimideer. Slavoj Žižek analiseer hierdie klassieke film aanskoulik in The Pervert’s Guide to the Cinema rondom die kwessies van ont-vlugting en vervolging.

 

Wanneer ‘n mens scifi-verhale en -films bekyk is dit altyd relevant om te sien hoe die wetenskap die tyd vooruit is. Lees ons vandag Asimov is dit gedateer, maar ‘n goeie storie bly, ten spyte van die “veroudering”, steeds relevant, soos die film The Matrix, die Wachowski's se film van 1999, bewys.

 

Om dus binne hierdie sub-genre jou merk te maak, stel bepaald eise. So gaande was ek oor Frank Herbert se Dune (1965) dat ek die film eerder vermy het.

 

III

 

Carien Smith sluit by hierdie komplekse distopiese tradisie aan waar die menslike bestaan ont-mens word. Hier is klone, simulante, vreemde verskynsels en die skrywer betrek verder die ekologie en klimaatskrisis wat tans heers.

 

In die slotverhaal “god die robot” word die belangrikste aspekte van hierdie soort skryfwerk opgesom: “Ons leef om ons intelligensie, / Ons verstand, ons denke, ons algehele IK” (145). Dit is ‘n aanhaling uit die Heilige Robot-liedereboek. 

 

Distopiese tekste werk altyd met die ómgekeerde van die utopiese wêreld. Tegnologie word alles en die geskiedenis van wetenskapsfiksieverhale bewys die vooruitgang van die mens. Ons almal van ‘n bepaalde ouderdom, onthou immers die eerste maanlanding. Ons onthou ook hoe geskok ons  was toe Garry Kasparof, die skaakmeester, getroef is deur ‘n robot. Dit was 1996 toe Deep Blue, die IBM-superkomputer, hom oorwin het. Hy was weer verslaan in 1997 tydens ‘n tweede toernooi en dit is alles te siene in Game Over: Kasparov and the Machine, ‘n dokumentêr van Vikram Jayanti in 2003.

 

“Alles is ‘n leuen / niks is ‘n leuen nie” waarsku die agterblad. In die verhaal “Vakuum” word ene Zaré Waenhuis aangekla dat sy ‘n simulant is. Die verhaal word binne ‘n kerk geplaas wat dan ‘n hofsaal word. Die verteller verplaas dikwels een simboliese ruimte na ander een: kerk na hofsaal en dit aktiveer die rituele in die leser se gedagtes wat dan opsetlik gedekonstrueer word.

 

Hier het die persoon buite die raamwerk opgetree en haar man aangeval. En so word moraliteit bevraagteken. Dit neem die leser dan na die belangrike motto as rigtingwyser van David Benatar Better Never to Have Been:  The Harm of Coming into Existence (2006) en die asimmetriese verhouding tussen pyn en plesier. Ook in Smith se verhale word die “family romance” een van versaking en pyn. Trouens, dit vind ons ook by Le Guin: dat die (her)skepping van ‘n alternatief, is juis nodig, omdat die hier-en-nou so ondraaglik is.

 

Evolusie word aangespreek en hoe alles reeds verander het. 

 

In “Agentskap” word die “wonderkind” met die “regte merkers” gesatiriseer (27). Die moeder wat spog met die wonderkind op sosiale media met ‘n woordeskat van vierduisendvyfhonderd-en-dertig woorde. Op vyf-en-‘n-half maande. Op drie kan sy lees en speel soos ‘n Mozart klavier. Oordrywing. Fantasie.

 

“Gesprek met ‘n hologram” (108) is uitstaande goed geskryf met die ontsluiting van die titel van die bundel. Die voorblad met blomme in ‘n ruimtevaarder se helm word ‘n soort rangskikking?

Die ruimte teenoor die aarde? Is die blomme reeds dood?

 

Telkens word politieke dimensies en hoe ons deur Facebook en realititeitsprogramme ingesluk word, beskryf. “Keeping up with the Clones”, die WVK en Covid op sy kop gedraai in “O2”. Net diegene wat inentings gekry het, kry suurstofpakke in ‘n sidderende verhaal (129). Dit is ‘n sentrale verhaal in hierdie bundel.

 

Hierdie verhale bewys dat die “ek-verteller” distansie skep, meer as die derdepersoon of sogenaamde personale verhale. Die verhale is klinies, gedistansieerd vertel; juis hierom is die impak van die stellings oor oorbevolking, klimaatsverandering, gebrek aan erbarming des te groter.

 

“Nuwejaar” (18) wys hierdie kollektiewe onrus uit en onder draai die paranoiese duiwels rond.

 

En voor ons vergeet: daardie baken in die moderne romankuns en uitnemende digter, Margaret Atwood het ook belangrike werk gelewer binne hierdie sub-genre. Veral Oryx and Crake (2003) het my begeester wat beteken dat vroueskrywers se aanwesigheid ‘n feministiese debat open. 

 

Le Guin en Atwood had ook in ‘n polemiek hul verskille oor wat die genre behels.

 

En hiervan is Carien Smith duidelik bewus in die gesprekke tussen karakters.

 

Hierdie debuut is vir alle Scifi-liefhebbers (of spekulasie-fiksie) én vir lesers van die kortverhaal kan dit aanbeveel word. Om te vlieg met ‘n solodebuut, dit doen sy oortuigend. En om al hierdie ander skrywers op te roep, wys sy ken haar vak met ‘n balans tussen vertelling en spekulasie.

 

Miskien bly die aliens al tussen ons?, sal sekere wetenskapfiksie-liefhebbers beweer.

 

Dis al ‘n lang pad van E.T. phone home, nie waar nie?

 

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad waar sy ook ‘n Genoot is. Haar digbundel Sanctum verskyn in Augustus by Protea.

 

Wednesday, December 25, 2019

Resensie | Jaco Kirsten – Nadraai (2019)

Jaco Kirsten – Nadraai. Tafelberg, 2019. ISBN 978 0 624 08783 0

Resensent: Joan Hambidge

I

Nadraai, 'n roman, sluit aan by die tradisie van grensverhale en die impak van die oorlog op die psige van die voormalige soldaat. In Afrikaans het Alexander Strachan met 'n Wêreld sonder grense die oorlog en die impak daarvan uitstekend ontgin. Daar was ook My Kubaan van Etienne van Heerden en verhale van Koos Prinsloo, e.a.

Jaco Kirsten verpak die oorlog met die hede en sluit aan by die tradisie van spanningsverhale wat tans so gewild is. Ene Rocco de Witt, 'n Kaapse argitek met 'n beeldskone Duitse verloofde, het 'n donker geheim. Destyds tydens die Bosoorlog het hy tydens 'n Swapo-operasie sy bewussyn verloor. Skielik word hy gekonfronteer met hierdie verlede. Sy plaas Nadraai in die Tankwa-Karoo word skielik 'n vreemde en bedreigde ruimte.

Die roman wentel om opposisie. Rocco se gay-vriendin, ook 'n argitek, se pa was 'n polisieman, terwyl sy vader 'n afgetrede mediese professor in 'n rolstoel is. Hede word telkens teenoor verlede geplaas (en die herinneringe aan die oorlog word in 'n ander lettertipe aangebied). Verder lewer Rocco kommentaar op argitektuur met verwysings na etlike plaaslike bakens, wat dikwels as wysneusig oorkom. Dieselfde geld die opmerkings oor restaurante: La Perla se naam word selfs vir die leser verduidelik. Verder word 'n koffieplek in Groenpunt se dekor beskryf. Egte bestanddele moet hier meeding met mensgemaakte stowwe soos silikoon en botox (125). Hier is dit die verteller wat die karakter se bewussynstroom binnedring en satiriese en ongevraagde kommentaar lewer.

Is dit relevant binne die raamwerk van 'n spanningsverhaal?

Omdat die gegewe deur die derdepersoonverteller gebeur, word dit steurend.


II

Waar die verhaal wel uitmunt, is die spanning wat geskep word rondom die donker verlede. Posttraumatiese stres én angs word deeglik en dwingend beskryf soos paranoia en padwoede.

Die effek van alkohol word oortuigend beskryf en 'n besoek aan die hospitaal (met die onsekerhede wat dit inhou) oortuig. Die gesprek tussen pasiënt en terapeut word eweneens geanaliseer.

Dieselfde geld 'n besoek aan Mavericks en die mans se ervarings van paaldansers. Die geveg na die ervaring, is eweneens oortuigend - met vuige woorde - en 'n duidelike verwysing na die problematiek van Kaapstad: karwagte wat betrek word by meer as karre oppas.

In die kroeg word die banaliteite van die manlike deelnemers weergegee en Rocco se besoek is meer besadig. Hierom die konfrontasie buite Mavericks.

Die roman wentel rondom binariteite; hede versus verlede; sekerhede versus onsekerhede; rykdom versus armoede ...

Deur sy Duitse minnares as metgesel, word etlike kwessies ondersoek: hoe ons politieke verlede uiters vreemd is vir buitelanders en hoe dit moeilik is om Engels te praat voor jou ouers (die minnares ontwille), omdat 'n mens Afrikaans is.

III

Wat hierdie roman veral dwingend en relevant maak, is die genderanalise van manlikheid (masculinities).

Veral wit manlikheid wat reeds geaktiveer word deur die hoofkarakter se naam en werkplek. Maar ágter die machismo van oorlog, gevegte, Swapo, valskermbataljonne en Recce's word die broosheid van manlikheid uitgewys. Manlikheid was kultureel gedetermineerd en nou word dit gekritiseer. Dit is dan die nadraai van ons politieke skuld.

Hierom is die voorblad so belangrik: wie is nou in die visier?

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, November 30, 2019

Resensie | Etienne van Heerden – Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019)

Etienne van Heerden – Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Tafelberg, 2019. ISBN 9780624089216.

Resensent: Joan Hambidge

I

Ons leef in die Republiek van taboe. So staan dit in hierdie roman opgeskryf. Inderdaad so. In 'n tyd van ongelooflike sensitiwiteite en aandagekonomie. 'n Tyd van onmiddellikheid. Van die globale het die hier-en-nou geword. Van onsekerheid. Van linguicide. Littekenliteratuur. En wat nog. So word die roman opgesom:

Prokureur Ian Brand stuur 'n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op 'n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. Snaar Windvogel, vroeër van Matjiesfontein, is nou in transisie onder die lem van 'n enigmatiese plastiese chirurg. En al hoe gereelder slaan 'n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe...

Hierdie en vele ander fassinerende karakters bevolk 'n landskap waarin die enigste sekerheid ónsekerheid is. Want Etienne van Heerden se tergend aktuele nuwe roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar privaatheid en identiteit abstrakte begrippe geword het, fopnuus ononderskeibaar van die werklikheid, en “die waarheid” klaarblyklik 'n onhaalbare ideaal.

En dit is inderdaad waaroor hierdie roman handel. Oor verglyding op alle vlakke: gender, leuens wat as waarheid paradeer, intellektuele bakens wat nie meer staan nie ...

Een emmer oor Rhodes se standbeeld het hoër onderwys verander in ‘n ommesientjie.

Die lywige roman karteer die #Rhodesmustfall- en #feesmustfall-bewegings en die impak op die moderne mens se lewe. 

Verskillende landskappe word ondersoek: Kaapstad, die Karoo, Matjiesfontein, Boedapest, Shanghai, Beijing ... Ook landsgrense het fluïed geword.

Die titel verwys na die vader se ervaring van die biblioteek en die moeder wat dit dan sien as 'n biblioteek aan die einde van die wêreld.

II

Rondom die dramatis personae, te wete Ian Brand en sy medestudent, Thuli Khumalo wat 'n kursus in vertaalkunde aan die Universiteit van Kaapstad volg, word die politieke omwentelinge van die afgelope tyd aan universiteite op 'n ryk, geskakeerde wyse onder die loep geneem.

Ian se seksuele verhouding met Elizabeth, 'n fiksie-uitgewer, gee ruimte vir kommentaar op wat uitgewershuise tans behoef. Dat nie-fiksie sterker as fiksie geword het. En vra die wêreld nie al hoe sterker verhale - in Philip Roth se woorde - as wat enige fiksieskrywer kan bedink nie?

Witheid, meertaligheid en die rol van jou eie taal, word aan bod gebring. Thuli verteenwoordig die swart teenpool: mense wat in die struggle geveg het en nou deur korrupsie uitgerangeer word. Haar reaksie op haar vader (wat ek nie vir die leser wil verklap nie) is 'n siniese kommentaar op wat skrywers doen. Sy vertrek na Sjina om navorsing te doen oor grond en die betekenis daarvan.

Daar word eweneens kommentaar gelewer op die huidige stand van sake in ons uitgewersbedryf. Die vrae wat hulle behoort te gevra het, word 'n kritiek op die digkuns wat 'n bedryf van gedigte oor die digkuns geword het met jonger digters en hul narcisme op sosiale media. Ook die juigende resensies word aangevat en die "kultuur onder beleg lek sy eie wonde" (254).

Hierdie roman is, soos Casspirs en Campari's uit 1981, 'n tydsdokument.  Die onnadenkende twiet van die hoofkarakter veroorsaak ernstige probleme. Die roman het 'n dubbele bodem (208): elke stelling of kritiek openbaar 'n ánder kant van die saak.

Rassisme, triggering, kunswerke wat verwyder word omdat dit mag aanstoot gee, word deel van die aanbod. Die twiet eggo Helen Zille se kolonistiese twiet.

'n Plastiese sjirurg se "verrukking" is die popliteale fossa (Popliteal fossa/ Anatomy and contents | Kenhub. Besoek 29 November 2019).

Kniefossas as treurige oë word 'n kommentaar op ons tyd waar alles reggestel kan word deur sjirurgie. Volgens hierdie kommentator is vel ook manipuleerbaar. Hy verander die gender van Snaar(tjie), 'n karakter uit In stede van die liefde (2005).

In 'n pynlike afdeling ("Trigger warning") lees 'n klasgenoot Jerome Maarman 'n verhaal uit sy lewe as bruin mens voor. In hierdie afdeling word rasvooroordele en hoe mense in die ou-Suid-Afrika verminder is (en selfs van diefstal beskuldig is) 'n pynlike onthulling. Ook wanneer Ian in sy "fuck buddy" se kas huil oor sy wete dat hy in wese alleen is.

Die beskrywing van ‘n ete aan ‘n ouerhuis in Welgemoed is in die kol. Boerboel en al met die soetpampoen en gestolde lamsboud …

III

Die roman ondersoek wat alles gebeur wanneer jy clickbait word. Dit is – soos reeds uitgewys – ‘n tydsdokument.

Soms word kwessies herhaal (uiteraard omdat dit vanuit verskillende perspektiewe beskou word) en die sondes van inlees, word soms netjies gepypkan (327).

Hoe die impak van dekolonisasie werk, word gesatiriseer in ‘n Monopoly-speletjie van Jack Lemkus, ‘n speelgoedsmous. (In die tekening van hierdie karakter is daar aardse dialoog soos “vanaand spring ons die poppe plat”, 337). Daar is ritte in ‘n Alfa en hierdie roman sou ook ‘n teks van paranoia genoem kon word. Die vrees vir afluistering en openbaarmaking loer om elke draai.

Die kwessie van gesigsherkenning (en verandering) kom ook aan bod. Hier trap ek fyn om nie die plot weg te gee nie, ofskoon hier ‘n skeut suspension of disbelief aan bod kom.

Piekenier? ‘n Uiters tersaaklike naam (Piekenier betekenis en definitie. Besoek 29 November 2019).

En is voolkop met opset so gespelle op bladsy 418?

Die verwysing na Boccacio se Decamerone (1313 – 1375) is relevant en die werklike restaurant in Stellenbosch word ‘n voertuig om die Stellenbosse mafia – wat hier vergader – te ontmasker. In Boccacio se raamvertelling word daar vertél om die swart pes af te weer. (Hier het ons sewe afdelings: Brandmuur, Tsotsikapitaal, Kwarantyn, Die Instituut vir Aanmoediging, Swart Suidooster, Hashtag Shanghai, Die blioteek aan die einde van die wêreld wat die storie raam.) Selfs die Spur se mitologie kom aan bod nes spuugbakkies en die Hoerikwaggo.

Vir sommige lesers mag die gevoel wees dat ons nog nie heeltemal presies weet waarhéén hierdie nuwe orde op pad is nie. Wat sou Flaubert met sy langdurige geduld hiervan gemaak het? Of moet ons eerder luister na Deleuze se Postscript on the Societies of Control? Susan Sontag se “Project for a Trip to China” praat ook saam (179) nes Paul French se Midnight in Peking (1937). Grensverhale versus littekenliteratuur. Niks kan meer weggesteek word nie.

Uiteindelik lewer die roman veral kommentaar op die posisie van Afrikaans, op die taal as etniese merker en hoe Ian Brand weet sy taal het getransformeer van kombuistaal tot hof- en wetenskapstaal (414). En hoe hy gesig verloor het oor sy twiet en kommentaar lewer op die nuwe kennissisteme wat ons lewens radikaal verander het. Hierom lyk die biblioteek van die toekoms anders vir sowel hóm as vir Thuli.

Vandaar die siniese opmerking: Die Biblioteek Wat Nooit ‘n Besoeker Sien Nie

Ander lesers mag dit loof vir die uitsonderlike blik op die hier-en-nou in ‘n tydvak waartydens loerbroer ‘n werklikheid geword het met kunsmatige intelligensie, die lewe as ‘n virtuele droom, kuberutopie.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Tuesday, August 27, 2019

Resensie | Carla van der Spuy – Liefde Agter Tralies. Ware Suid-Afrikaanse Verhale (2019)

Carla van der Spuy – Liefde Agter Tralies. Ware Suid-Afrikaanse Verhale. Tafelberg, 2019. ISBN: 9780624087007

Resensent: Joan Hambidge

I
Vroeër vanjaar het Strafjaart van Theo Kemp verskyn wat die hele kwessie van verhoudings binne die tronk kom ook hier na vore:

Met besoeke aan hierdie tante kry die leser 'n blik op die onderwêreld van hierdie bestaan. Dit is 'n kloaak, met reëls en regulasies. Trouens, die tronklewe, soos Michel Foucault al uitgewys het in sy studie oor tronke en straf Discipline and punish: The birth of the prison (1979), beheer ook die samelewing daarbuite. En tronksisteme verklap iets van 'n gemeenskap se omgee vir ander. In Strafjaart is die tronke vol en kondisies onmenslik. (Hierom beskryf hy ook betogings teen die sisteem.) (Woorde Wat Weeg/ Resensie | Theo Kemp – Strafjaart (2019). Besoek 21 Augustus 2019).

Carla van der Spuy se Liefde agter tralies werp meer lig op fenomeen van vroue wat verlief raak op misdadigers. In my huis het ek ‘n hele rak vol studies oor reeksmoordenaars – soos Ted Bundy en Jeoffrey Dahmer – en die patologie rondom hul lewens. 

Extremely Wicked, Shockingly Evil and Vile (2019) maak tans opslae, omdat dit onder meer onthul hoe Ted Bundy bewonder is deur vroue.

Waarom is daar vroue wat op hierdie mense gefikseer raak?

Is dit die opwinding van die verbode vrugte? Hybristophila, oftewel seksuele plesier deur kontak met die geweldsmisdadiger?

Of is dit vroue wat hul lewens op ‘n droom baseer; die man in die tronk wat jy besoek of vir wie jy skryf kan jou nooit teleurstel nie (17).

Daar is ‘n webtuiste www.meet-an-inmate.com

Jy raak dus verlief op die illusie eerder as die werklike man. Hierdie boek analiseer die kwessie van “serial killer groupies”

II

Hierdie studie het my weer geneem na twee gedigte van Johann de Lange waarin die donker psige van die reeksmoordenaar en die gevaarelemente róndom cruising beskryf word.

Cruise III

Hy kom omsigtig uit die skadu's los, 
net nog ‘n junkie op soek na tos.

Met elke voetval op sement 
volg die tronkmaan penorent.

Van lamp tot lamp se silwer bel 
stap hy gevonnis na sy sel,

en weet, met sy honger soos ‘n pyn, 
alle paaie lei na Barclay-plein.

Wydsbeen by die piskrip staan 
en knyp hy druppels af. ‘n Kraan

lek iewers. Van waar ek hurk
kan ek sy afgeloopte hakke sien, die vurk

van sy lyf, en hoop meteens dat hy of ek
vanaand geholpe raak by hierdie plek.

Een met die verlange van ‘n medeprisonier
het ‘n gat geboor deur die harde muur

waardeur nou ‘n nat oog gitswart staar: 
knipperloos, sidderstil, wondbaar.

In sy vloeiende onrus op my gefokus, 
anoniem en openbaar, die locus

van begeerte, ‘n lewende kamera wat my 
skugter bewegings patrolleer, my blik vermy

In sy sel, of hy kniel of staan, hoe naak 
hy hom aanbied of ontbloot: dit raak

my wat dieselfde straf uitdien, die kyker. 
Ons is albei hierdeur ryker.

Ek weet die flikkerende onrus, die swart
trillende lewe sien tot in my hart.

(uit: Nagsweet, 1991).


Jeffrey Dahmer

So gruwelik
het ek jou lief,
ek steel jou
soos ’n dief:

uit liefde wou ek jou
opvreet: ’n reet
uit jou boarm sout
met jou doodsweet.

Ek wou iets van jou
bly behou, verhoed
dat jy my ook verlaat;
deel maak van my bloed.

Maar jou vrees was
walglik soet.

(Uit: Wat sag is vergaan, 1995)


III

1991 en 1995. 

Die beroemde onderhoud met Dahmer kan hier gesien word (Jeffrey Dahmer Original Stone Philips Interview – YouTube. Besoek 22 Augustus 2019).

In die vers oor Dahmer is De Lange binne-in sy kop en skryf hy ‘n portretgedig om iets te probeer verstaan van hierdie figuur.

“Ballade van die bose”?

Dis opmerklik hoe pataologie deel geword het van ons alledaagse bestaan en sensitiewe lesers probeer die verskrikking van dagblaaie vermy: moorde, selfmoorde, korrupsie …

Julia Kristeva se Powers of Horror (1980) wys op die skokkende, die grillige, dit wat ons van middelpunt afgooi.

Nog nooit was die abjekte so in ons daaglikse doen-en-late aanwesig nie.

Wilna Adriaanse het ‘n paar dae gelede in ‘n opmerking gemaak in hierdie verband. Miskien lees ons misdaadfiksie om te kyk of ons skadukant nog onder beheer is (KYK/ ‘Is ons skadukant onder beheer?’ | Netwerk24. Besoek 27 Augustus 2019).

Dalk het die strukture of meganismes wat ons moet beskerm teen die abjekte begin erodeer.

Saturday, August 10, 2019

Resensie | Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk (2019)

Ruan Kemp – Gedeeltelik bewolk. Tafelberg, 2019. ISBN 9780624088578

Resensent: Joan Hambidge

Gedeeltelik bewolk? Elders mooi weer en warm?

Wat ’n asemsnakkende roman is dit nie!  ’n Debuut van ene Ruan Kemp, glo ’n mynbou-analis. En hierdie roman is inderdaad besig om in die skagte van die Afrikaanse letterkunde af te beweeg teen ’n spoed wat die kop laat duisel.

Dit aktiveer die problematiek van die binne-leser versus die buiteleser. Laasgenoemde sal dit as ’n storie lees. Indien jy egter weet wié die D.B. is aan wie die roman opgedra word met die sub-titel “’n Lewensbeskrywing van ’n mal man”, lees jy die boek ánders en as binne-leser. (Ek het hom ontmoet een aand, hierdie briljante man.)

Die regte wêreld impliseer ’n referent, aldus Umberto Eco in The Role of the Reader (Hutchinson, Londen: 222). En hierom narkotiseer of vergroot ons sekere aspekte van ’n roman se wêreld.

Die roman word aangebied in vier afdelings: Restant, Anamnese, Katabasis en Remissie. Met tydsaspekte: 2008 - 2009, 1960 - 1974, 1975 - 1990, 1991 - 2008. En ’n obsessie met tyd is iets wat die verhaal vorentoe dryf.

En hier word diep afgedaal in die hel van ’n man wat in inrigtings beland. Wat veroorsaak sy tuimeling? Die verteller skep ene George Moore, ’n “woordenaar”, wat uit ’n oënskynlik stabiele plaasagtergrond kom en dan huweliksprobleme ervaar. Hy is gebore toe Jan Smuts dood is.

Hy is joernalis, saboteur, skaapsmokkelaar, boemelaar, vader en sosiale kommentator.

Die traumatiese dood van ’n kind is een van die redes vir sy ineenstorting. Maar dis net een merker. Die roman analiseer die impak van apartheid, magstrukture, oorlog en hoe ’n sensitiewe persoon nie opgewasse is vir die ellendes van ’n troebel bestaan nie.

Daar word weggespring met ’n motto uit H.F. Verwoerd en Gray Barker se They Knew Too Much About Flying Saucers ...  

Die hoofkarakter lees Albert Camus se The Fall flenters. Wat die verwysing na eksistensialisme aktiveer. Jy skep jou eie wêreld. En hier is daar ook ’n toespeling verder op Sartre se siening dat die hel ander mense is.

Die intertekste is welig en verwikkeld en snaaks. Raka is eweneens hier.

Die roman herinner aan Saul Bellow se Humboldt's Gift en sy siening van Delmore Schwartz. Hier word Herzoggeaktiveer: daardie pratende karakter wat in gesprek tree met filosowe en met hulle saamstem of verskil.

Met Moses Herzog is dit piekfyn as hy besig is om mal te word; George Moore word verniel deur kopdokters en ontdek hy moet doek dra in die inrigting en hy het probleme met sy toestand. Is die Baader-Meinhof besoek in Duitsland waar, of is dit net deel van sy fantasie? Belangrike gedeeltes kan waar of gelieg wees.

Anna M. Louw se lewensvreemde karakter uit Op die rug van die tier praat iewers saam.

“Niemand weet hy is aan boord nie, want hy lê lepel met ’n torpedo, skryf ’n kortverhaal oor sy wedervaringe met die onsigbare subtitel In the realm of the Fourth Person Narrator. Gerugte van sy dood doen die ronde” (244).

Hy lees woordeboeke en ontdek wat sjok beteken. Hy tel ’n taaipou op in ’n woordeboek. Hy ken verskillende woorde vir wol soos wat ’n Eskimo verskillende woorde vir sneeu kan weergee. Hy het immers op ’n plaas in die Noord-Kaap groot geword. 

Hy is Camus se Sisifus. Hy is ’n Zulu Warrior wat I zicka zimba, zimba.

Ontgroening en wreedhede word ontmasker. En die impak van selfmoord op die agtergeblewenes.

Sy seun Simon is normaal. 

Sy vriend Jan se algemene kennis word getoets. Hy word kwaad oor leuens en besef hy gaan nooit sy boek klaarmaak nie. Sý storie word wél klaargeskryf deur die vertellende instansie.  

Charity boeke wat verkwansel word, maak hom woedend: “Dis soos om handel te dryf in tweedehandse grafstene” (190).

Hy weet die opwipbal van die lewe het hom getref. Hy voel hierom magteloos soos ’n karakter in ’n onbetroubare vertelling of ’n marionet in ’n poppekas (184). En tyd staan stil op die grens (122).

Die gedeelte oor ’n lekeprediker wat in tale praat, is ’n hoogtepunt. Koos Kombuis en Gert Vlok Nel is ook hier. En Koos het deur die jare herkenbares gesteel vir sy stories.
Die uwe is self ’n karakter in een van sy romans.

Gaatjies en kolletjies. 

Die voorblad is alreeds ’n kode vir die binne-leser. ’n Geel omslag met ’n man, sigaret in die hand, en ’n hemp vol tekens. Dit verwys na Marita van der Vyver se geel omslag van Griet skryf ’n sprokie uit 1992 en daardie banale antwoord Mot op Griet.

En George voel sy lewe is gekaap deur Griet wat weer ’n karakter word in ’n roman. Dis nie fiksie nie, maar eerder nader aan “asfiksie” (262).

Die letterkunde sit vol van figure wat as herkenbares deur tekste dwaal. Negatief en positief. Philip Roth se eksvrou Claire Bloom het ’n antwoord geskryf op sy weergawe van hul huwelik in Leaving A Doll's House (1996). Koos Prinsloo het eweneens mense “gekaap” en die posisie van die geskryfde is kompleks.

Johann de Lange het in Vreemder as fiksie gewys hoe skrywers verskillend reageer op ’n insident. Daarom die voorblad waar drie gesigte (Prinsloo, Aucamp, De Lange) oormekaar skuif.

Die lys hier te lande en buitelands is lank. Laurent Binet se The Seventh Function of Language het opslae gemaak in Frankryk en elders in die analise van herkenbare teoretici soos Julia Kristeva en Judith Butler (Woorde Wat Weeg/ Resensie | Laurent Binet – The 7th function of language (2017). Besoek 10 Augustus 2019).

Ruan Kemp gaan egter verby die herkenbare. Hy skryf ’n roman wat snaaks, pynlik, verdrietig en veral uitstekend is. Hy blaas lewe in dit wat ons dink ons ken.

Die lys van erkennings is relevant.

Toast Coetzer is reg in sy shout. Hierdie boek het nie ’n bang haar op sy kop nie.
Kemp was immers op sy dag ook ’n hempsmous. En hy is ’n Zulu warrior van ’n skrywer.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)