Johannes Alexander. King vs Mandela. Johannes Alexander, 2006.
Resensent: Joan Hambidge
King vs Mandela word aangebied as ‘n digbundel, meer spesifiek, ‘n bundel met glansfotos.
Agterop is daar ‘n aanhaling van Van Wyk Louw:
‘n Mens het ‘n volk lief,
nie omdat hy heerlik
en die beste volk op aarde
is nie.
Jy het hom lief om sy
ellende.
En ellende is die woord wat
by herhaling opkom wanneer ‘n mens hierdie “digbundel” lees: swak gedigte
vergesel van foto’s.
Kom ek haal ‘n vers aan:
Uletha Injenga Nonquase
Die reïnkarneerde Adamastor
het van Robbeneiland met ‘n
voetspoor
op Nonquase net honderd drie
en dertig jaar
en ‘n week te vroeg
die son rooi laat bloei
en met ‘n sagte asemteug -
‘n Boere wind laat loei
en so vinnig soos Jan
Vermeer en sy perd
was al wat Boer was,
uitgekeep
tot ‘n niks
‘n niks
plus
‘n niks
in
sy
Hellevaart (p. 4)
Is dit dalk ‘n gekskeerdery?
Het Koekie Ziervogel, daardie ondermynende digter weer toegeslaan?
Indien nie, het ons batos,
sieligheid, opgepompte beelde (“ ‘n Boere wind (sic!) laat loei”), rymdwang, en
onbedoelde humor:
en laat duiwe duiwend koer
in die midde van magou en
mampoer (p. 4)
of hierdie een:
Die dogtertjie is opgeneem
in die Nieu-apartheid
Gedenkhospitaal
want sy is sielkundig
deur die tydsgees
gemolesteer
(“Die WAM se dogtertjie”, p. 14).
My gunsteling is die
volgende versreël:
“want God het die onmoont
gemoont!” (p. 25)
Dan is daar ‘n handvol verse
oor bekende politieke leiers met FW as PW Botha se “spoegvanger” en ek meen Van
Zyl Slabbert sal gil as hy die volgende lees:
O verlore leier
hoe is ons nie laat steier
deur die dubbeldoor
van ‘n apartheidskoor. (p. 58)
Ek moet bely: ek het swak
gedigte lief om hul ellende en hierdie glansfoto’s is nogal betowerend, veral
die poppies by Kemptonpark!
Bestel van Johannesalexander@kingvsmandela.co.za
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]