Monday, May 20, 2019

Resensie | Leon de Kock – André P. Brink en die spel van die liefde (2019)

Leon de Kock – André P. Brink en die spel van die liefdeJonathan Ball, 2019. ISBN 9781868427949

Resensent: Joan Hambidge

Nommer Asseblief!

Hierdie biografie aktiveer die Afrikaanse letterkunde as een groot plaastelefoon met vele inluisteraars.

Brink was en bly 'n belangrike teoretikus, 'n uitnemende kritikus, behalwe oor Karel Schoeman se werk of 'n paar opponente soos Pieter van der Lugt wie se digkuns hy verminder het. As hy gedink het Eleanor Baker skryf goed, moes Rita Gilfillan en Jorda Louw uit die pad gevee word.

As 'n romanskrywer het hy etlike bakens geskep: Lobola vir die leweDie ambassadeurKennis van die aandInteendeel, om 'n handvol te noem.

Sy dwarsklap na Nadine Gordimer wys op 'n breuk tussen die openbare beeld en persoonlike siening: applous vir Gordimer in die openbaar; venynig agter die hand. Hy noem haar 'n "colonial Tory" (166).

Die skrywer Wilhelm Liebenberg, wat die voortreflike parodie As die nood hoog is (1993) gepubliseer het, kry wel die kans om sý kant van die saak te stel as voormalige kollega van Brink op Rhodes. 

Brink se werkvermoë en -drif is bekend: kyk gerus na sy bydrae ook as vertaler en mentor vir ander skrywers. Sy politieke profiel en optredes kan eweneens vermeld word, nes sy kritiek op apartheid en sensuur. 'n Ware Don Kiesjot. (En dit is 'n roman wat hy vertaal het en waaroor hy insigryk geskryf het.)

Sy verhouding met Ingrid Jonker is opgeteken in Vlam in die sneeu (2015). In hierdie briefwisseling sien 'n mens Brink in aksie: venynige opmerkings o.a. oor wyle Chris Barnard. Die uwe het self in Philida geland wat in 2012 verskyn het as 'n bedenklike karakter, omdat ek hom durf kritiseer het oor die Rabie/Wallace-beurs. Ek bly egter steeds wonder: hy was tog 'n gevestigde skrywer met 'n internasionale aansien. Met twee huise, nie waar nie? Nou blyk die geldnood in die biografie...

'n Vurk in die pad word dan ook bittergou 'n Vark in die pad (soos 'n woedende literator homself weerspreek het). 

Leon de Kock had toegang tot die handgeskrewe joernale geskryf in die “teenwoordige tyd onvoltooid". Die laaste eggenoot, Mevrou Brink die 5e, het dit aan hom oorhandig en subiet was daar in die kusdorpie waar ek woon, bespiegel oor of die ander vroue hiermee gediend sou wees? 

Skuilname word gebruik om mense te "beskerm", maar 'n literêre speurder weet onmiddellik wié Angela is, en in Hoofstuk 8 ("Verootmoediging") word 'n minnares wat met Brink ʼn verbintenis had as ene Yvonne beskryf. Ook hier wis ek van wie gepraat word en 'n mens kan maar net dink wat Yvonne en Xavier hiervan gaan dink. Dieselfde geld die vierde mevrou Brink waaroor ander mense, lewend en dood, negatiewe kommentaar lewer.

Of hierdie boek 'n mens help om die skrywer se liefdesobsessies en ambivalensies beter te verstaan, is wel so. 'n Mens kry bepaald insig in 'n komplekse en gedrewe persoonlikheid. Terselfdertyd vind hierdie leser die grensoorskrydende opmerkings oor 'n eggenoot van Brink (en die kommentaar van sy vriende) wreed, onaangenaam, ontoepaslik en uiters gemeen.

Na die dood van die beroemde Amerikaanse digter Anne Sexton het haar terapeut, dr Orne, die onderhoude wat hy opgeneem het, bekend gemaak. Hy is inderdaad geskors as sielkundige, maar sy verweer sal my altyd bybly: "Dit staan tog in die gedigte opgeteken."

Helaas nie. 'n Gedig is nie op 'n een-tot-een-vlak gelyk aan die werklikheid nie en daardie terapeut het kennelik ook nie kon onderskei tussen fantasie en werklikheid nie. Lees gerus An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski (New York: Routledge, 2012). (Daar word na Sexton verwys in 'n voetnoot.)

Dieselfde geld die joernale. Dit verromantiseer alreeds die werklikheid, en 'n "naked I", op 'n bepaalde manier. De Kock besin wel oor die kwessie dat iets in 'n mate gefiksionaliseer kon wees in die joernale (86). Die beheptheid met seks is reeds in die jeug gewortel en die sublimasie van ervarings en teleurstellings word behendig ondersoek. 'n Mens word as leser ontstel oor 'n jeugervaring met die vader, 'n landdros, se optrede teenoor 'n verskoppeling. Hier word Brink se sin vir geregtigheid gebore wat hy in vele politieke romans sal uitspeel. Die verhouding met die ouers (en die invloed op die skrywer se psige) word helder geteken.  Die soeke na die moeder se goedkeuring loop deur sy lewe.

Die kyksug (skopofilie) van die outeur Brink word behandel (178). Buitelandse resensente se negatiewe kommentaar word geanaliseer; nes die Bad Sex in Fiction-toekenning. Ook die skrywer se onsekerheid oor sy eie vermoëns as skrywer.

As jy lus is vir inluister op die plaastelefoon, is dit die boek vir jou. Nommer Asseblief! Drie lang luie en dis jy. De Kock is inderdaad 'n behendige biograaf: gedistansieerd en analities. En pakkend geskryf.  Hy wys tereg op Brink se teenstrydighede en dat hy in afsonderlike boksies geleef het, by monde van 'n vriendin (241).

Soms is daar 'n voetnoot waar die biograaf sy eie lewe betrek, byvoorbeeld die verwysing na die predikant wat Salomi Louw en Brink in die eg verbind het of in die erkennings.

Die "Brink-tuisargief", soos De Kock dit noem, is deur onderhoude en gesprekke verder geredigeer. Jammer vir onooglike setfoute: finansieël (351, 352, 353), paralelle (176), Andre (177), Eugene (194), potensieël (198), implikase (303) Epos (405), heroïse (426).

As jy glo dat mense die reg tot privaatheid het en daar is iets soos dekorum, lees maar liewers die skrywer se boeke. Want jy gaan 'n hele paar keer stik van verontwaardiging én verbystering. Veral omdat jy nie hierdie boek kan neersit nie.

Lewende mense word nou in hierdie kou vasgevang saam met die veelkantige skrywer, Brink. 'n Mens sou inderdaad De Kock se eie sieninge oor seks (en liefde) soos beskryf in sy tekste kon betrek om te verstaan hoe hy Brink se joernale benader (o.a. Bad Sex gepubliseer in 2011). 'n Mens sou dan 'n psigoanalitiese studie, via Janet Malcolm, kon maak van sowel die biograaf as die geskryfde.

Openhartig, onverbloemd en ongehoord. 'n Fuik in die pad? 

Sunday, May 19, 2019

Resensie. Lanie van Reenen – Net Mooi Fine. Penguin Random House (2019)

Lanie van Reenen – Net Mooi Fine. Penguin Random House, 2019.ISBN 9781776094578

Resensent: Joan Hambidge

I

Net mooi fine is 'n opvolgboek van die memoir C'est la Vie wat in 2013 by Tafelberg verskyn het. C'est la Vie se ander pasmaat is: c'est la vie c'est la guerre.

Lanie van Reenen skryf in die opvolgboek vérder oor wat gebeur het nadat haar hotelprojek in Frankryk gefaal het. Sy is intussen geskei, daar was siekte, ontwrigtende depressies en verlatenheid. Abandonment. Deur 'n nuwe geliefde en 'n nuwe lewensuitkyk ná 'n swanky lewenstyl.

Hierdie soort teks is 'n dagboek, 'n selfgesprek, maar word altyd implisiete tot iemand gerig. Die Alwetende Leser of 'n werklike mens wat raad bedien het of 'n belangrike rol vertolk het. En hier was dit Merwede van der Merwe, die bekende TV-persoonlikheid wat later in Frankryk oorlede is. En op 'n spirituele reis gegaan het.

Merwede van der Merwe verskaf dan die titel vir hierdie boek (34) en sy is die "boksmaat, skermmaat", in Van Wyk Louw se terme. Die twee vroue is opposisies van mekaar: die een spiritueel; die ander een getref deur werklike ellendes, maar soekend na helderheid. 

Deur Merwede se waarhede kan die spreker insig kry in haar eie pyn en teleurstellings. Wat is projeksie? Wat is oorgeneem van wat ander van haar verwag (het)?

Dis 'n soeke na die self. Hierom is die boek sonder fieterjasies geskryf. Dis eerlik sonder om embarasserend te wees. Sonder skroom deel sy haar reis met ons in 'n onthullende outobiografie. Waarskynlik as bewys dat sy oorleef het, maar ook vir daardie leser wat wou hoor wat het toe verder gebeur!

II

Iewers in 'n Boeddhistiese teks opgetel (en verloor in die Ooste) het ek eenkeer gelees dat as 'n mens weer jou lewe kon oorhê, jy dieselfde pad sou kies met die pyn wat jy ken. 

Verskeie Jungiane het al op hierdie stelling gereageer.

Skryfterapie verlos die spreker van posttraumatiese stres en laegraadse wêreldangs - soos haar terapeut dit beskryf.

Haar beskrywing van haar nuwe beskeie woning in Groenpunt gryp aan die hart. Maar hier sien 'n mens die vrou se krag: sy transformeer dit sodat sy daarin kan tuisvoel.

III

Die innerlike reis word gesinkopeer met werklike reise: o.a. na Frankryk, fietsritte in Suid-Afrika, die Camina Portuguese (per fiets), en Everest.

In die teks vind 'n mens 'n sirkelgang: 'n terugkyk na die verlede (o.a. die jeug) en die ervaring van die hede. Sy vertel asof dit alles nou gebeur, maar dit is uiteraard 'n skryf-illusie so bekend aan die belydenisteks.

Sy aktiveer Laurika Rauch se lied "Die mense wat ek liefhet" (117) wat eintlik 'n Stephan Bouwer-gedig is. 

Die mense wat ek lief het
Kom groei op my soos mos
Daar laat ek hul na hartelus gedy
En loop ek deur die wêreld
- beskut teen die koue -
Die snoesigheid self:
Ek met my moskombersie
En as daar ‘n oorlog kom
Word die mense wat ek lief het
‘n Ekstra liefdeslaag om my
So marsjeer ek deur die wêreld
Gepantser teen die vuur
Die onaantasbaarheid self:
Ek met my menskombersie

Maar as iemand wat op my gegroei het
Weg moet gaan
Dan sit daar ‘n seerplek
Dan sluip ek deur die wêreld
Die kwesbaarheid self:
Ek met my seerplek
Wat net nie wil genees nie

Woorde en Musiek: Stephan Bouwer / Anton Goosen
Uitgewers: Dalro / Gallo

Dit is 'n belangrike verwysing vir die begryp van hierdie boek. Die kwesbare verteller word beskut deur vriende en vreemdelinge. 'n Verlore sak op haar Camino-tog word wonder bo wonder teruggevind.

Dis 'n eerlike boek wat ander mense kan help met die navigasie van pyn. 

En haar sielsverbintenis met daardie huis in Frankryk tref die leser. (Ons droom dikwels ook van die self as 'n huis.)

Die voorblad is simbolies. As 'n seestroom jou intrek, moet jy nie terugveg nie. Net op jou rug lê, want selfs na ure, sal die see jou teruggooi op die strand.

Maar jy moenie paniekbevange raak nie. Dan sal alles net mooi fine wees (59).

En moenie die geelpylpad verlaat op die Camino nie. Ook 'n simboliese waarskuwing.

En laat jou verdriete agter op die kliptafels. En die beskuldigings van voormalige vennote dat sy hul gekroek het, verwerk sy uiteindelik.

Lanie van Reenen se ervaring van bodhicitta (kompassie vir ander) het my diep getref; veral in die beskrywing van 'n verskoppeling se niks-heid, sien 'n mens dit in aksie.

Tuesday, May 14, 2019

Resensie | Tobie Wiese - Wreed én mooi is die dood (2019)

Tobie Wiese - Wreed én mooi is die dood. Jonathan Ball 2019. ISBN 9781868429431
Resensent: Joan Hambidge

I
Ons is nie hier vir die verblyfste nie; ons is hier vir die vergaanste - so troos Ant Trooitjie, 'n jong Antoinette Pienaar, toe haar liefling worshond dood is. En van die oomblik wat ons gebore word, begin ons sterwe. Vele skrywers en digters het al oor die dood geskryf, en die impak hiervan op die gemoed.

Die dood van 'n geliefde snoer mense saam; tydelik word verskille en rusies ópgehef en word ons herinner aan die broosheid van ons bestaan. Mense het uiteenlopende sieninge oor die dood en boonop gaan mense verskillend dood. So het 'n narkotiseur-vriend, die digter Hendrik J. Botha, wat die digbundel Atropos geskryf het, my geleer; iets wat die sterwensbegeleier, Peter Fox beaam. 

Dikwels kan 'n mens juis ná die dood van 'n persoon hulle beter begryp en is dit asof die fokus verskuif van die negatiewe na die positiewe aspekte van hul lewens. Op ander kere is die verlies ondraaglik soos wanneer iemand ontydig of wreedaardig sterf.

Die Tibettaanse boek van lewe en dood het my al gehelp om hierdie prosesse te verwerk en beter te verstaan. Die lewendood, soos Breytenbach dit noem. Wilhelm Jordaan, sielkunde professor en rubriekskrywer, wys via Van Wyk Louw op die paradoksale verbintenis tussen lewe en dood: die dood as die finale afwesigheid van teenwoordigheid, soos hy dit klinkend stel.

II 
Hierdie boek bevat essays, indrukke, herinneringstukke en besinnings oor die dood uit die perspektief van verskillende mense. Skrywers, teoloë, joernaliste, filosowe, 'n paramedikus, 'n sterwensbegeleider kom onder meer aan die woord.

Afhangende van jou persoonlike siening van die dood en die ervaring van 'n geliefde se afsterwe of onverwagse vertrek, sal 'n spesifieke bydrae met jou práát. Karin Brynard ontroer met "My lief", oor die dood van haar eggenoot; Willem Landman is onderhoudend en insigryk oor Karel Schoeman se selfdood met die titel, "Sy laaste dae en wense". Merwe Wiese se "Die dood is 'n palindroom" gee 'n jonger mens se perspektief op die dood. Marita van der Vyver se "Die begin van 'n storie" saam met Ingrid Winterbach se "Sofie neem kennis", 'n uittreksel uit haar roman Die aanspraak van lewende wesens (uit 2012), het my opnuut diep getref.

Elkeen van hierdie bydraers se aanbod is anders en uniek, en verklap sy of haar siening van die dood. Brynard s'n is rou en pynlik. Landman, as teoloog-filosoof en lid van die Uitvoerende komitee van DignitySA, skryf besinnend oor jou regte om hierdie aarde te verlaat wanneer jy nie meer kan of wil nie. Merwe Wiese skryf as paramedikus ontroerend oor wat gebeur wanneer jy iemand moet red, en veral, wat gebeur met jóú as paramedikus, as dit te laat is. Marita van der Vyver se inskrywing is een van intense melancholie én treur oor 'n kind wat voortydig oorlede is en die durende verlange in die private ruimte van haar ellende. Winterbach se karakter besoek 'n lykshuis en in die kliniese (of oënskynlik afstandelike) blik word die verlatenheid van 'n lyk beskryf. 

Die gekose bydraes wys op die verskillende emosionele ladings van die tekste. Amper soos 'n roman in die derdepersoon geskryf teenoor 'n belydende ek-vertelling.

III
Alles is darem nie net loodswaar van die erns nie. Daar is die allerheerlike stuk van Annelie Botes wat vermaaklik en vol selfspot sit.  "By my afsterwe, met komplimente" gee sy aanwysings vir haar "inspitting". Onder ander moet daar 'n banksakkie wees met 'n paar vyfrandmunte ingeval sy die poortwag moet tipEn die naaldekoker-oorkrawwels moet in tissue toegedraai word vir as sy aan die Oorkant 'n toespraak moet lewer.

Maretta Bellingan oor 'n korrelkop-ma ontlok 'n glimlag. (En op 'n ernstige noot: moet in vadersnaam nie begin met daardie sin 'ek het slegte nuus vir jou nie', vra sy.)

Ander skrywers kyk meer gedistansieerd en klinies soos oor die dood róndom rituele (Cas Wepener) of hoe 'n lyk en 'n outopsie veel verklap (Gert Saayman). Partykeer besef 'n mens die skrywer is nog te na aan die geliefde se dood om werklik volledig daarna te kan kyk. Die gebruik van die woord selfdood eerder as selfmoord is eweneens beduidend.

Die gerf verskillende perspektiewe op 'n moeilike onderwerp is 'n belangrike baken vir alle lesers.

Die dood as 'n skemersone (Saayman) en die nadink oor die idiome oor die dood (Jordaan) bewys hier is baie navorsing gedoen. Of dat daar nooit 'n logiese padkaart kan wees vir en uit die landskap van droefheid nie (Jordaan). Peter Fox se raad is uiters handig vir enigiemand wat 'n geliefde in 'n outehuis of hospies moet bystaan, soos Kobus Anthonissen se handleiding. Is daar rechem of troos? Cas Wepener help met die soeke na nuwe rituele.

Farid Esack se bydrae "Elke lewende wese sal dit smaak" help Christene om die Moslem-bestaan beter te begryp, terwyl Danie van Zyl die Afrika-begrip verduidelik soos die aanroep van voorouers en die belangrikheid van grond. "Lewe is die begin van die dood", lui die Afrika-spreekwoord immers.

George Claassen kyk wetenskaplik na die dood as 'n natuurwet. Hy is, soos ons weet, teen die idee van 'n hemelse verwelkomingskomitee.

Elkeen van hierdie stukke is intelligente "troosstukke". Met nog vele ander bydraers wat werklik uitstekend is: Willa Boezak, Christina Landman ...

Lees en koop die boek en sit dit op jou bedkassie vir lees en herlees. En terugblaai.

IV
Vele digters het wonderbaarlike lykdigte geskryf. En hierdie een van die Ierse digter Paula Meehan bly immer ontroer:

Child Burial 
Paula Meehan

Your coffin looked unreal, 
fancy as a wedding cake.

I chose your grave clothes with care, 
your favourite stripey shirt,

your blue cotton trousers.
They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too. 
I chose a gansy of handspun wool,

warm and fleecy for you. It is 
so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you 
the paths of wild birds,

the names of the flowers 
the fishes, the creatures.

Ignorant you must remain 
of the sun and its work,

my lamb, my calf, my eaglet,
my cub, my kid, my nestling,

my suckling, my colt. I would spin 
time back, take you again

within my womb, your amniotic lair, 
and further spin you back

through nine waxing months 
to the split seeding moment

you chose to be made flesh, 
word within me.

I'd cancel the love feast 
the hot night of your making.

I would travel alone 
to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth 
drop by bright red drop.

(‘Child Burial’ by Paula Meehan. Besoek 14 Mei 2019)

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, May 4, 2019

Resensie | Pieter Fourie – Stof en ster (2019)

Pieter Fourie – Stof en ster. Naledi, 2019. ISBN 978 1 928426 70 7

Resensent: Joan Hambidge

Die derde digbundel van Pieter Fourie, Stof en ster is 'n vervolg op die eerste twee bundels Knapsekêrels (2017) en Bidsnoer (2018). Die leser vind dieselfde tegnieke hier: skerfies gedigte, die optekening van 'n vervloë era, volksryme of -raaisels en die ontginning van ou woorde.

Goljaartjie, poelpetaan, vrotpootjie, êprou, o.a. Die naamgewing is eweneens so bekend aan die landelike wêreld wat beskryf word soos kleinneef kosie harmansdrup, tant breggie koesisterkoningin, daantjie donnerpadda, dowe neef nathan waterfiskaal.

Vir die bespreking van die twee bundels sien: Woorde Wat Weeg/ Resensie | Pieter Fourie – Bidsnoer, 2018. Besoek 2 Mei 2019).

Die bundel word in 'n woord vooraf tipeer as folk-realism (David Barnett) en die digter bely dat die gewildheid van die gedig "gehuggie" aanleiding gegee het tot 'n uitbreiding in hierdie bundel. "plaasskuurdans" (uit die debuut) en "kluister" (uit die tweede bundel) het hulle ook kom aanmeld.

plaasskuurdans

(vir deon malherbe)

’n maand na nagmaal
mens se troetelwens

wie sal nou skrik
vir ’n goljaartjie
of ’n goggatik

meelstofvloer
koekmakrankabessie
in withondmoer

engelse konsertina
soek na dina (...)

'n Mens kan, uit die gedeelte wat hier aangehaal word, die dans-element in die patroon van die aantal reëls per strofe opvang: 2 - 3 - 3 - 2 ...

In die slotvers word die titel verklaar as die duistere verband tussen die ster en die korreltjie sand (107).

Daar is bitter nostalgie: enersyds 'n verlange na wat was, andersyds die besef dat dit moeilike en dikwels pynlike tye in die geskiedenis was.

Daar is heerlike juwele:

die oudstryders
bly bittereinders
gooi vanaf stoepskaduwees
'n langoog vir vars weduwees 
(52)

En pynlike verse:

rivieroewerboer lippe gelek
die oorlog was ’n bonustjek
stoetveeskaap kom sonder kontant
op houtvlot snags van vrystaatkant

ná verskroeide-aarde-bethuliekamp
loop in onderdorp
die eens groot grondbaronne mank
(13)

lang swart rokke swart kouse
die drie susters swart gekappie
rou al vyf-en-vyftig jare lank
hul oorle ma lê nog opgeërd
net buite die bethuliekamp

hul pa het voor ’n lee-metford geval
by paardeberg het sy mauser gefaal
cronjé het sy krygers die ore aangesit
daar lê hul pa ’n puisie grond en klip

die drietjies was nog nie rooihakskeentjies
toe begin hul rou
net röntgenfoto’s
ribbes torso armpies en brandmaer beentjies

die drie swart kraaie bo teen die bult
vir mediakameras immergroen gewild
(5)

Die gedigte is, soos in Louw se "Klipwerk"-reeks, volksverse. Geskryf deur mense, eenvoudige mense, met die digter wat dit opteken en in die stof naskryf. Fourie is dramaturg en hy skep karakters soos Mooi Maria, Hansie Handjiesvou en Ben Bomskok wat die gedigte argetipies dra. Saam met Stil Sarel en Hannie Halleluja word daar 'n verhaal vertel van 'n verdwene wêreld.

Menslike deugde en ondeugde word teenoor mekaar geplaas.  Alles gesitueer binne 'n herkenbare landskap. Die verse is mooi in hul eenvoud, sonder om eenvoudig of eenduidig te wees. Die seksuele, dans, sport, skuldmaak, die dood, die herinnering aan oorlog, klasverskille kom aan bod.

Stof en ster; orde teenoor chaos; lewe teenoor dood: die binariteite wat die stramien van die lewe behels en wat hierdie digter opteken. 'n Mens sou 'n uitgebreide studie kan onderneem oor hoe "Klipwerk", Boerneef en Fourie se verse dieselfde prosesse belig waar die digter dikwels aan die stemlose 'n stem gee. Vir sommige lesers sal daar selfs sprake mag wees van kulturele appropriasie; vir ander is die optekening alreeds 'n daad van argivering.

Die voorblad van Maletta Fourie verdien vermelding.

Die wêreld van Philllipolis hier karteer, maar omdat die verse folkloristies is, kan 'n mens dit ook verplaas na die Karoo. Die digter het op 22 Mei 1981 in 'n onderhoud met Amanda Botha in Die Transvaleropgemerk dat hy volkskrywer wil wees. En dit is wat hierdie bundels presies word: toeganklike verse vir alle lesers.

Ons het nou 'n volmaakte drieluik en die digter het myns insiens nou die gegewe deeglik beskou en ontgin.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)