Haidee Kruger.
Lush: Poems for Four Voices. Protea Boekehuis, 2007. ISBN 978 1 869 205 1.
Resensent: Joan
Hambidge
Die bundel word
‘n “spellbinding debut”genoem op die agterblad in die persoonlike soektog wat
verandering, groei, liefde en aanvaarding registreer. Van die verse
het hierdie leser al gesien op Litnet en in Literator.
Die bundel bevat vier afdelings: Agnes, Dorothy, Gertrude, Brigid.
Fernando Pessoa
het vier personasies geskep wat dit presteer om in verskillende stemme te praat
met ‘n unieke aanslag. En hierteen sal elke digter gemeet word.
Hier is duidelik
bewys van woord- en beedgevoeligheid by die digter:
…Look –
the sky leaks
a litter of
signs (p. 11)
In Agnes se
weergawe oor die ervaring van die self, is daar beelde wat sterk intellektueel
werk soos:
Hanging by a
paradigmatic thread (p. 13) wat vir die leser ‘n kode is dat niks in hierdie
bundel op sig- of sintagmatiese waarde geneem moet word. Agter beelde skuil
daar ander betekenisse – net soos die skep an die personas waarskynlik iets
hiervan vertolk.
Hier word dan ‘n
siniese blik gegee op vrouwees:
sugar &
spice
& poison
& dice
that’s what
little girls
are
made of (p. 17)
By Dorothy word
woorde “slippery like avocado pips” beskryf (p. 25) en die oorwegende indruk
van die verse word hiermee bevestig: ‘n sterk sintuiglike en woordgevoelige
digter. Idees word konkreet verpak in min woorde. Hier is geen swoele aanslag
of beeldoordadigheid nie. En dit is alreeds ‘n wins vir die digkuns.
Wanneer die
digter ironies raak en taalkonvensies ontgin, imponeer sy hierdie leser:
in pluperfect
pixilated pose we
sigh on the
dotted line
tuck our
britannicas into
our adverbial
corsets with
our
hermeneutically hoxed hymns (p. 29)
En verskillende
aspekte van die vroulike kondisie word ontgin en daar is ‘n handvol uitstaande
verse (soos six in die afdeling oor Brigid) en nine (in die afdeling van
Dorothy) wat duidelik in gesprek tree met Sylvia Plath se bekende vers aan en
oor haar vader. Daar is dus weefwerk – stemme wat soos in ‘n koor saamsing, lamenteer,
analiseer en op ‘n intelligente wyse kyk na die implikasies van skryf. Die
bundel spreek van ‘n skerp intelligensie.
Die voorblad van
Hanli Deysel en Majak Bredell bevat vroulike naakfigure. Dit is dan ‘n bundel –
soos Marlise Joubert se Passies en Passasies – wat oor die vroulike syn skryf.
In hoofsaaklik gestroopte woorde, behalwe vir die langer prosa-agtige verse.
Daar is vele onthoubare beelde en slim toespelings op Derrida se siening van
tekstualiteit as ‘n lykskrif
(lykskryf?). Die hele spel met die “obituary” van en deur die self word op
bladsy 30 oopgemaak. Dit ontsluit weer ander leesdimensies vir (hierdie) leser.
Soms wil die
gedigte buite woorde bestaan, in niksheid – amper buite woorde draal. Die
digter handhaaf ‘n goeie beheer tussen denke en emosie. Sy systap die
oordadige, bedompige arena so kenmerkend van die debutant.
En daar is slim
woordspelings: ons sigh (sug) op die “dotted line”; nie “sign” nie!
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]