The Obituary Tango: A Selection of Writing from the Caine Prize for African Writing 2005. Jacana Press, 2005. ISBN 1 77009 2110.
Resensent: Joan Hambidge
Hierdie versameling tekste is
waarskynlik ‘n tydsdokument. ‘n Leser sal oor ‘n paar jaar van nou die pragtige
“The obituary tango” van Jamal Mahjoub weer kan lees en besluit oor die waarde
van so ‘n teks wat iets weergee van die Afrka-mens se ervaring binne ‘n
Westerse samelewing.
Die storie moet tussen 3 000 en 15 000
woorde lank wees, die skrywer moet van Afrika wees, en die geldprys beloop 15
duisend dollar!
As die werk vertaal is, kry die vertaler
boonop ‘n deel van die prysgeld (goed so!) en die bedoeling van die prys is om
gehalte binne Afrika-letterkunde te promoveer.
Waarom, wonder ‘n mens, is die Mahjoub,
wat nie die wenner was nie, se verhaal gebruik vir die titel van die boek?
“Monday morning” van die Nigeriese skrywer Segun Afolabi het met die prysgeld
weggeloop en Muthal Naidoo, van Suid-Afrika, was ook op die kortlys.
Elke letterkunde het ‘n bepaalde
tradisie en ek is beslis geen kenner van Afrika-letterkunde nie. Vir my moet ‘n
kortverhaal ‘n begin, middel en einde hê, rondom ‘n intrige wentel. En die
taalgebruik van die kortverhaal is dan ook dikwels na aan die digkuns: bondig,
gelade. Edgar Alan Poe, O’Henry, Aucamp, De Vries, e.a. het die belangrike
(implisiete) modelle geskep vir hierdie leser se taksering van die kortverhaal. “The obituary tango” het wel genoeglike
oomblikke gehad.
In “Aunty and ma” word ‘n soort
Faulkner-agtige “As I lay dying”-gesprek weergegee. Die dooie word aan die
woord gestel met sy menings oor sy familie en sy moordenaar.
(En nou ‘n bietjie aan die pruttelrige
kant: waarom as die woord jislaaik verskyn in “Aunty and Ma” (van Muthal
Naidoo) word dit Yislaaik gespel?)
Dis ‘n knap vertelling waarin verskeie
konsepte soos karma en reïnkarnasie die verhaal help dra.
Tolu Ogunlesi se “To a Cartoonist”
aktiveer die debakel rondom die strippe rondom Mohamed en die effek van satire.
Hierdie Nigereise skrywer ondersoek die effek van hierdie omstrede strippe op
sy liefdesverhouding. Met die ontdekking daarvan het sy verloofde hom verlaat
en hy maak oënskynlik ‘n objektiewe analise van die effek hiervan; maar dan kom
die onverwagse slot en hierdie sterk gestruktureerde verhaal: hoe sal jy maak
om jou geliefde terug te kry?
Die boek word inderdaad ‘n reis deur
Afrika. Ek dink hier aan ‘n verhaal soos “tropical fish” van Doreen Baingana
waarin die verteller verwys na Makerere Universiteit wat beskou word as die
Harvard van Afrika. Ook vanuit die perspektief van die swart verteller hoe ‘n
wit mens ervaar word!
Met ‘n verwysing na Idi Amin, natuurlik
ook in die verhaal.
Dit sou terloops belangrik gewees het om
uitvoerige endnotas te verskaf vir begrippe of woorde in vreemde tale!
Dis deesdae die gebruik veral in tekste
waar Afrikaanse - of Moeslem-woorde gebruik word. ‘n Mens dink hier aan Rozena
Maart se Rosa’s District 6 waar die
glossarium die leser se oë oopmaak vir verhulde kodes in verhale.
bazungu
bayaye
muzungu
Ensomeer.
Dikwels kan ‘n mens by implikasie ‘n
afleiding maak; ander kere is jy nie heeltemal seker nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]