Showing posts with label 2005. Show all posts
Showing posts with label 2005. Show all posts

Friday, March 1, 2013

Julian Barnes - The lemon table (2005)



Julian Barnes. The lemon table. Jonathan Cape, 2005. ISBN 978-1400076505.

Resensent: Joan Hambidge

Julian Barnes is ‘n gerekende Britse romanskrywer van onder meer Metroland, Flaubert’s parrot en A history of the world in 10 ½ chapters, England, England, Love Etc.  ‘n Bundel kortverhale Cross Channel het die jongste bundel verhale The lemon table voorafgegaan.

Die bundel se sub-titel kon ook geheet het: “Verhale oor die melancholie”. Barnes registreer in hierdie elftal verhale die menslike kondisie soos wat ‘n mens dit vind by Tsjekof. Die stories is dig geweef rondom die ‘lemon table’ wat in die slotverhaal verduidelik word. In Sjinees is die suurlemoen ‘n simbool van die dood.

Dit is vertellings vol lewenswysheid, soos in “The story of Mats Israelson” wat handel oor die soeke na hartstog in ‘n klein dorpie met skindertonge en voorskrifte, waar Anders opmerk: “One of the things he had learnt in life, and which he hoped he could rely on, was that the greater pain drives out a lesser one. A strained muscle disappears before toothache…”(p. 44). Of in “The revival” waar Tantalus se dors gelyk gestel word aan onbeantwoorde liefde.

Barnes is ‘n voortreflike stilis en veral die wrang, aweregse blik op gewone sake, is sy forté. “Knowing French” is ‘n verhaal in briefvorm: ene Sylvia Winstanley, reageer op sy roman Flaubert’s parrot. ‘n Nydige kritikus het Barnes nou onlangs ter take geneem, omdat hy ‘n reël uit Ulysses geskaai het en waarskynlik is hierdie verhaal ‘n soort bedekte antwoord op daardie óningeligte leser se groteske on-kennis oor die bewuste spel tussen tekste in ‘n postmoderne tydvak. Daar word nooit ‘n standbeeld vir die kritikus opgerig nie, is ook ‘n terloopse opmerking elders wat Barnes se sinisme onderstreep. Die verhaal werp ook lig op die letterkundige ‘stalker’ of skrywer van ongevraagde bewonderaarspos wat eintlik ‘n verhulde manier is om aandag op die self te vestig.

Ook moet die hantering van sub-teks vermeld word. In die openingsverhaal “A short history of hairdressing” word ontwakende seksualiteit teenoor die ritueel van haarsny geplaas. Die jong seun – wat ‘n paar maande lank al langbroek dra – registreer die kodes in die barbierwinkel. ‘n Footjie wat onderlangs gegee word en sy eie seksuele ontwaking (by die swembad met ‘n ambivalente onderwyser) word deur meditasies en in nabetragting goed belig. Die stormagtige ontwaking en bevraagtekening van die adolessent het in min ander verhale ‘n gelyke. Ook in die reeds vermelde “The story of Mats Israelson” word ‘n verhaal sinvol ingebed. Hier is die kode vir die leser boomstompe en hoe dit in verskillende lande gemerk word. Dit speel weer in op die liefde wat in verskillende kulture ánder eise het.

Ook oor die ouderdom, die aftakeling wat dit meebring, word besonder skerp verhaal in “The things you know” en “Hygiene”. Barnes gee die indruk by sy leser dat hy ‘n voyeur is en mense afluister in restaurante en kafees. Sy karakters is eg en lewensgetrou: dit is mense van vlees en bloed wie se hebbelikhede aan die kaak gestel word, maar met ongelooflike erbarming. ‘n Gedeelde rekening in eersgenoemde verhaal is ‘n opsomming vir ou wrewels in ‘n vriendskap; ‘n vergete kondoom in laasgenoemde verhaal word ‘n metafoor van verlore seksualiteit.

Waarskynlik is een van die sterkste verhale “The fruit cage” waar ‘n man vasgevang word tussen minnares en vrou. Uiteindelik is hy vasgekluister in die hospitaal na ‘n ernstige beroerte (of dalk aanranding deur sy vrou?) en wanneer hulle hom besoek, afsonderlik, groet hy beide met dieselfde woorde: “My wife, you know. Many happy years”. Hierdie verhaal word uit die perspektief van die seun vertel wat terugkeer na sy ouerhuis en in sy waarnemings ook die verlede opvang: hoe ‘n kaartjie indertyd op die underground gelyk het en die reuke uit sy jeug wat soveel herinneringe dra. Dis dan ook hy wat die merke op sy vader se gesig opmerk en die leser se siening van wat werklik gebeur het, beïnvloed. Ook ironies dat die wasmasjien se handelsnaam Thor is. Die vader leer ook sy seun dat die Britse kultuur een van onsentimenteel van aard is. Hierom dat die seun dan so skerp kan inkyk op sy jeug en sy ouers se verhouding.

Die ‘fruit cage’ gaan eweneens terug op ‘n jeugwaarneming toe die seun gesien het hoe sy pa ‘n voël nek omgedraai het, in ‘n hok geplaas het om ander diewe af te skrik. So? Is die vader werklik so onskuldig wanneer hy sy vrou verlaat en by sy minnares gaan intrek? Verstaan ons hierom hoekom sy moeder hom steeds verpes en terugroep huis toe?

Nie om dowe neute nie eindig hierdie bundel met die treffende “The silence” en die leser weet al duidelik teen hierdie tyd dat dit presies is waaroor hierdie verhale handel: oor die stilte wat agter alles skuil en alles bedreig.

Kortverhale funksioneer soos gedigte: en die leser word opnuut bewus van hierdie wysheid wanneer ‘n mens die bundel lees en besef hoe verhale op mekaar inspeel en hoe simbole binne ‘n verhaal hanteer word. Barnes se eie stem skroei nooit deur nie, ofskoon die leser deurgaans bewus bly van ‘n siniese, gedistansieerde ‘outeur’ in Wayne Booth se terme.  

Dis ‘n skitterende versameling wat met elke her-lees vérdere geheime openbaar. Die verhale werk soos biljart: dit kan vir ewig aanhou soos ‘n karakter opmerk.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Lionel Abrahams - Chaos theory of the heart and other poems (2005) | Robert Greig - Rules of Cadence (2005)



Lionel Abrahams. Chaos theory of the heart and other poems. Jacana, 2005. ISBN 1 77009 097 5.


Robert Greig. Rules of Cadence. University of KwaZulu-Natal Press, 2005. ISBN 1 86914 075 3.

Resensent: Joan Hambidge 

Die ‘n bekende digter praat altyd van nalatige eerder as nágelate verse. Dit is volgens hom verse wat ná ‘n digter se dood verskyn, omdat die geliefdes die digter wil vereer. Dikwels is dit verse wat nog nie gereed was vir publikasie nie, of wat die digter self sou uitgegooi het. In die geval van Lionel Abrahams se Chaos theory of the heart and other poems verneem die leser dat ‘n hele afdeling, te wete afdeling vier na die digter se dood in hierdie versameling opgeneem is. En dit was my eerste kennismaking met die bundel, omdat ek altyd ‘n bundel van agter na voor lees; dan van die middel na agter. En uiteindelik chronologies. So kan jy dikwels die (onbewuste) simboliek van die bundel raaklees, of juis, ‘n steek wat die digter per ongeluk laat val het, optel.

Dus, my eerste indruk van hierdie bundel was nie baie positief nie, behalwe vir die baie sterk gedig, “Possible Post Script”, waar die slagoffers van ‘n bom die selfmoordbommer aanspreek:

We claim your gratitude, for we were there.

Die res van die gedigte in hierdie slotafdeling mis fokus en is kletserig.

Die bundel word verder gedra met (onder andere) akkolades van J.M. Coetzee en Nadine Gordimer wat meen :”We will never see his like again”. (Is dit terloops etiket om 'n bundel te loof as daar 'n vers aan jou opgedra word? Ek dink hier aan "Two oblique salutes to Nadine Gordimer")

Miskien had die digter goeie vriendskappe en was hy polities tersaaklik, maar sy gedigte is vir gevoel wydlopig en rommelrig. Dit mis die waansin van die digkuns. En met wydlopig bedoel ek nie lengte nie; Breytenbach, Ezra Pound en vele ander digters het lang verse gepleeg, maar nooit het die leser die gevoel dat die gedig koers verloor nie.

Die handvol kwatryne is beslis meer behaaglik as die uitgesponne, lang verse.  "A note in prosy verse" klink of die digter sy werkswyse probeer verdedig, ironies genoeg. "The customer is wrong again" het my geimponeer om die gesprek met die digkuns.

Rules of cadence van Robert Greig is 'n sterker bundel. Die digter is al bekroon met die gesogte Olive Schreiner-prys en sy gedigte getuig van vakmanskap. Dis net wát hy sê nie, maar ook hoé hy dit sê...

As bekende dramakritikus ontgin hy die wêreld van die teater. Die titel kom uit "Notes for a three-hour speech by Fortinbras" waar die digter kommentaar lewer op die huidige stand van sake:

We wil discover traditional tribal chants
for the people's poets to use when teaching
youth to adroitly unroll condoms
and corporate choirs to hymn the good.
Cadence, not words, will rule and be all.

In die afdeling “Biography of an ordinary man” staan daar werklik uitstekende verse soos “Visiting Mrs Leech” en “The abortion”.  Die sterkste afdeling heet “Cry-babies” waarin die digter daardie besondere eienskap van die digkuns presteer: om die stilte agter woorde op te vang soos in die lieflike “The Japanese wives”.  Ook oor die liefde, verbintenisse met ‘n kind en verbygenade dinge, word trefseker gedig. 

Die digter het dikwels ‘n vars blik op die lewe soos gesien kan word in “The undertaker’s wife” wat werk rondom die ironiese stelling (“business is dead”). Om so ‘n vrou te wees, stel eise waaraan sy nie kan voldoen nie. Háár siening van die lewe word in jukstaposisie geplaas met sy morbiede werk wat hom aantas en op haar ‘n impak het.

Die jaar het darem 'n nuwe I.L. de Villiers, Gilbert Gibson, Rustum Kozain, Arthur Attwell opgelewer, as 'n mens so vinnig nadink oor ónthoubare bundels. Rules of cadence bevat ‘n handvol verse wat ‘n mens raak en getuig van ‘n knap talent. “The affair”, wat handel oor ‘n werksverhouding, registreer die impak van iets wat as ‘n spel begin en uiteindelik abrup eindig. Menslike weerloosheid word in verskeie verse gekarteer:

Haiku

Each day we die from each other:
flesh falling from birds
lying in long rains.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Rustum Kozain - This carting life (2005)



Rustum Kozain. This carting life. Kwela, 2008. ISBN: 0 7957 0198 5.

Resensent: Joan Hambidge

Rustum Kozain se gedigte in This Carting Life aktiveer ‘n komplekse verwysingsveld: Van Wyk Louw, Mandelstam, Heaney, Derek Walcott, Edward Said, e.a. Hy gebruik die digters of teoretici op ‘n wyedoek waarteen hy sy eie lewenservarings flits. Sy lewe as ‘n Paarlse kind, boonop bruin, skerpsinnig èn sensitief, word vir die leser onthul. Veral sy vader is die belangrikste fokuspunt in hierdie eg, ontroerende bundel waarin die lewe gesien word as ‘n pelgrimstog en sowel herinneringe as ervaringe verpak word in bokse soos onthul word in die sentrale gedig “This carting life”.

‘n Sentrale vers waarin Kozain se tegnieke ten toon gestel word, is “February moon: Cape Town”, ‘n sterk kreatiewe besinning oor die liefde en verlies waarin die digter besef:
“how my modernism limits love”.

In hierdie stelling word ‘n kode vir die leser gegee, net soos in die klein bibliografie, dat tekste inspeel op ander tekste en dat die liefde gesien en alleen begryp kan word deur ander tekste.  In “Walking home with Mandelstam” is daar dan die wete dat hy as’t ware deur die “tweede sneeu” loop met hierdie digter wat ook op ongeregtighede gewys het. Die hele bundel sit dan vol toespelings op bekende digters en Van Wyk Louw word as ‘n motto gebruik!

Familieportrette is eweneens iets waarin hierdie digter uitmunt. Die vreeslose besegging van ‘n eenvoudige jeug waar ‘n vader saans in ‘n orkes nie vir ekstra geld nie, maar om te kan dans en die eenvoudige lewe te ontglip, is ‘n kragtoer. “Talking jazz” vertel hoe hulle speel in wit hotelle, dans en uiteindelik is dit die kind wat kyk na die gate wat die “double bass” in die linoleum laat.

Die digter het ‘n voorliefde vir die langer gedig soos “Brother, who will bury me?”. Die gedig lewer relevante kultuurhistoriese kommentaar, maar dit word op die duur te lank en uitgesponne.

Die beelding van familiebyeenkomste word in reliëf geplaas met ‘n ander dwingende familieskap, naamlik die digkuns. Die gesprekke met Derek Walcott en die subtiele toespelings op Robert Lowell en John Berryman, maak van hierdie bundel ‘n besonderse leeservaring.  (Die glossarium is vir die non-Afrikaanse leser van nut, soos by Gabeba Baderoon wat soos hierdie digter in Engels dig, maar Afrikaanse verwysings aktiveer.)

Louw se Nuwe verse is ‘n sleutelteks: ‘n bundel waarin die jeug in oënskou geneem word en die skerpsinnige jong kind geskep word deur die ouer digter. Kozain neem hierdie tematiek nog verder: hy laai sy gedigte met politieke motiewe soos ‘n vernederende ervaring waar hy en sy familie as “kelurlingmense” weggewys word by ‘n piekniekoord, omdat die plek sou vol wees vir “hulle”. Hierdie aandoenlike vers, “Kingdom of rain”, verdien om in elke bloemlesing opgeneem te word, omdat die hele kleinlike geskiedenis van apartheid hierin saamgevat word. Die digter skryf sober, beheersd en juis hierom het sy gedigte so ‘n geweldige impak op die leser. Die aanslag is nie raserig nie. Die aanklag of verwyt word deur poëtiese tegnieke in beheer gehou.

Miskien is die ander belangrike aspek van hierdie bundel dat dit nie bloedloos is nie, maar inspeel op ‘n Afrikaanse tradisie van dig. Kozain versoen as’t ware twee tradisies in hierdie bundel: die lot van die eens verdrukte (soos by Adam Small en Philander) en die sterk intertekstuele tradisie bekend aan veral moderne Afrikaanse poësie.

Dit is ‘n bundel wat hierdie leser met oneindige plesier gelees het. My eksemplaar sit vol donkie-ore. Dit praat met ander digters en daar ‘n sterk bewustheid van die self binne ‘n postkoloniale wêreld waar waarhede nie meer bestaan nie. Die digter verset hom teen ander se oorheersing. Deurgaans bly ‘n mens bewus van ‘n weerlose èn weerbare ‘ek’ wat die politiek, die liefde, eensaamheid` èn familie beskou.

Dit is bundel met ‘n handvol verse wat werklik imponeer. Soos “Rain in May, Cape Town” en “Conversations with my father”.  En natuurlik: die reeds genoemde “February moon: Cape Town” waarin die digter onbeskaamd sy liefde vir die digkuns bely soos in ‘n gesprek met Seamus Heaney. Die reeds genoemde “Kingdom of rain” en “Diaz Beach, Mossel Bay” tel eweneens as uitstaande verse.

“On my table, poems
are coasters: whisky rings
blur and blot the pain.” 

(“February moon: Cape Town”)

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

I.L. de Villiers - Jerusalem tot Johannesburg (2005)



I.L. de Villiers. Jerusalem tot Johannesburg. Tafelberg Uitgewers, 2005. ISBN 0 634 04341 X.

Resensent: Joan Hambidge

I.L. de Villiers is ‘n besonderse digter in Afrikaans. Hy dig, soos sy voorgangers, Totius en Sheila Cussons, oor die religieuse dimensie. Op ‘n konkrete wyse versoen hy die metafisiese en aardse, die kenmerkende paradoks van hierdie besinnende vers. Dit bly nie net by praat, wonder of filosofeer nie, maar dit word ‘n belangrike ervaring van die lewe se wonders, ontnugteringe en natuurlik, die dood. 

Reeds die titel Jerusalem tot Johannesburg, vang iets op van die paradoks in sy digkuns: van behoort tot sowel die religieuse as die aardse. In 1981 is sy werk met die Credo-prys bekroon en De Villiers is ‘n digter wat imponeer, veral met hierdie bundel waarin ons blyke vind van ‘n vakman wat knap met tegniese middele omgaan, soos halfryme, woordspelings en vorme (soos o.a. die moeilike distigon).

Die openingsgedig “Gouepoort Jerusalem” wys op die spanning tussen verskillende godsdienste en oorlog:

Die roep van imams raas ‘n swerm spreeus op.
Vier vaalgroen tenks rusper verby die poort, en stop.

Die huidige politieke ongerymdhede word verwoord in die ironiese “Klein ballade van Oom Dawid Liefie-hulle”. Die nostalgiese aanslag, kenmerkend van die digter, word in “My straat” verbeeld waar die digter besef:

My straat, jy’s aards en heilig, maak my bang.
Ek is van ruimtes, iewers, en verlang.

In die tweede afdeling word die ervaring van Johannesburg beskryf: enersyds nostalgies, waarderend; andersyds afwysend met die verwysings na die mens se ervaring van die droogte en hoe plante verlep in hierdie genadelose hitte waar, ironies genoeg, net die stapelia uit Afrika kan oorleef. Die blomme – soos beskryf in “Stadsdroogte” met Totius se Trekkerswee as interteks – vergestalt die mens se onbehae met ‘n lewe wat uitmergel en beproef.

Die wêreld is beslis ons woning nie, word daar saam met Totius gepraat in ‘n bundel waarin die melancholiese aanslag ook opval. In hierdie verband is die lykdigte in die bundel pynlik: die uitkenning van ‘n lyk en die vraag na hoekom Anne Fitzgerald Jones in Wallis gsterf het aan ‘n gebroke hart, som sy mymerende toon op. “Graf in Wallis” praat met o.a. Dylan Thomas saam en herskep iemand se lewe deur ‘n gedig oor die persoon, selfs onbekend, te maak. 

By die begrafnis van Cussons het hierdie digter as predikant opgetree en dis dan duidelik hoe waarderend hy was vir haar werk en op ‘n speelse wyse is daar ‘n vlieg wat oor sy boek loop! Die gesprek met Cussons se gedig word uitgebrei in ‘n ander vers waar hy vra dat die geliefde digter, wie se eensaamheid hy so begeer het, veilig by God sal aankom.

Die aktuele laat die digter ironies en sinies reageer: in “Hierdie huis” en “Vreemdelinge verby Highveld, Londen” wys op hoe pynlik ontheemding is vir mense wat steeds verbonde bly aan die Afrikaanse kultuur en leefwyse. Behalwe Totius en Cussons (o.a die gesprek tussen Abélard en Héloise!) se aanwesigheid, is daar verwysings na Olga Kirsch:

Hoe het dit skielik laat geword?

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?

‘n Gedig soos “Op die berg” aktiveer Kirsch se voortreflike ervaring van stilte en verlange.
In “Blitsbesoek” neem die digter afskeid van die dorp en sy eie verlede; dit word ‘n pynlike kartering van hoé die verlede aan ‘n mens knaag en jou vorm tot wie jy is. Dat jy dit ironies genoeg nooit kan ontglip nie. Hierom, waarskynlik, wil die gelouterde mens eenvoudig sterf, sonder gebaar. Net met ‘n Bybel op sy bors soos ‘n hawelose...

Daar is voortreflike satires (soos die klein reeksie oor Afrikaans), ‘n speelse analise van die oud-redakteur in gesprek met skilders en ‘n prag-vers oor ‘n dominee wat ‘n (half)-Chinese kind doop en bewus word van die goddelike...

Dit spreek vanself: dit is ‘n puik bundel waarin die lewe in al sy fasette helder en oortuigend verwoord word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]