Tom Dreyer.
Polaroid. Tafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 978-0624045717.
Resensent: Joan Hambidge
‘n Polaroid word
in hierdie kortverhaalbundel van Tom Dreyer gekoppel aan ‘n foto: die vinnige,
onmiddellik-ontwikkelde foto en aan die sonbril wat verskans, nie lig inlaat
nie, ondeurdringbaar is van buite.
In die
titelverhaal word die kode gegee dat die Polaroid-lens ‘n filter is (pp. 162 /
163).
En dit is
presies hoe hierdie verhale ten beste benader moet word. As ‘n spesifieke blik
of gefilterde blik op die werklikheid. Ons vind dan deurgaans ‘n fokalisator
wat waarneem en interpreteer aan ervaring wat op die oppervlakte as ‘n
uitdaging gesien kan word, ‘n reis na ‘n afgeleë plek, maar onder draai die
duiwels rond.
‘n Handvol
verhale het reeds elders verskyn maar in bundelverband wen hul aan implikasie,
ofskoon daar dalk herhaling mag wees oor die uitsigloosheid of ‘n karakter wat
in ‘n donker diepte verdwyn.
Daar is ‘n onhutsende blik op die hoofkarakter(s) se siening van die werklikheid. Die implisiete outeur ervaar dikwels uitsigloosheid, onsekerheid – daar is paranoïa, ‘n gejaagdheid in sowel die vertelling as in die karakters.
Daar word dikwels gefokus op die lewe van die “gewone” of die “kommen” mens wie se drome verydel word. Karakters vloei deur tydsones en hallusinasies.
Daar word
dikwels van die normale na die waansinnige beweeg; die verhouding tussen droom
en realiteit word ondersoek. Karakters is dikwels ‘n bietjie ‘af’ en bewus van
die onmoontlikheid van ‘n situasie.
Die skrywer het ‘n besondere talent om gedétailleerd skryf: ‘n man in afgesakte oorpak laat hom dink aan ‘n half-geeëte piesang; die dialoog van gewone mense word besonder goed en beeldend vasgevang. Handelsname word vermeld – waarskynlik om ‘n karakter binne ‘n spesifieke konteks te situeer.
Karakters praat nie in ‘n boekerige of studeerkamer-Afrikaans nie en ek is van mening dat hierdie verhale by veral jong lesers sal aanklank vind.
Dit gee ‘n blik op ‘n bepaalde soort mens, situasie – nie die hele speelveld van die werklikheid word gedek nie, soos die titel van die boek dan waarsku.
Die boek is besonder mooi uitgegee met hiperrealistiese voorblad van ‘n karavaan op ‘n soutpan(?) – die foto is van Gallo.
Die skrywer het reeds Erdvarkfontein (1998), Stinkafrikaners (2000) en Equatoria (2006) gepubliseer en vir StinkAfrikaners het hy die Eugène Marais-prys ontvang.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]