J.M. Coetzee. Slow man. Secker &
Warburg, 2005. ISBN 0 436 20611 0.
Resensent: Joan Hambidge
Slow man is J.M. Coetzee se jongste roman.
Coetzee, die tweede Nobelpryswenner in Suid-Afrika, het ookal tweekeer die
gesogte Booker-prys verower. Sy roman Disgrace kan waarskynlik steeds as ‘n
mylpaal binne die letterkunde gesien word. Coetzee se handtekening as skrywer
die spaarse, minimalistiese styl en die ontginning dikwels van
grensoorskrydende situasies. Hierin munt
hy uit wanneer hy situasies aan sy leser voorstel waar die óngewone belig word.
‘n Mens dink hier aan die vader se besoek aan sy seun in Master of Petersburg,
Lurie se botsing met sy student se kêrel en die afskeidstoneel tussen seun en
moeder in Elizabeth Costello.
Hierdie vinjette in sy skryfkuns, en daar
is vele, is oomblikke wanneer die vertelling bykans ‘n gelade, poëtiese
kwaliteit kry. Die romanskrywer is dan ook soos Bahktin tereg uitgewys het, ‘n
skepper van ‘n polifoniese wêreld. Maar één van daardie stemme, veral as dit
outentiek is soos die belerende, didaktiese Elizabeth Costello, word ‘n soort
metakommentaar op die onderhawige roman en die romankuns in sy geheel.
Slow man is weer eens ‘n verhaal van ‘n
mens in ‘n spanningstoestand. (Lurie, soos ons weet, word geskors na ‘n
verhouding met ‘n student; in Age of iron word die armoede van ‘n plakkerskamp
‘n nuwe werklikheid vir ‘n Shakespeare-kenner). Paul Rayment se been word
geamputeer tydens ‘n fietsongeluk. (Die kenner van die skrywer se
nie-fiksionele werk oor fietsry, onthou reise deur die suide van Frankryk en
word hier relevant.) Die ervaring op sy liggaam en gees word gekarteer voor die
leser wat eers meemaak hoé hy ‘n pedantiese, vet verpleegster se attensies en
verkleinering (in die letterlike sin van die woord) minag. Wanneer hy Marijana
as oppaster huur, besef hy dat hulle albei ‘n Europese verlede deel. Sy
kinderjare was in Frankryk, terwyl sy in Kroasië grootgeword het. (Wil die
skrywer dalk hiermee ook ‘n implisiete politieke dimensie inwerk, wonder die
leser?) Dan, hora est, verskyn Elizabeth Costello, ‘n karakter en sal ons sê,
alter ego, op die toneel. (Wil die skrywer dan hiermee ook ‘n soort
meta-fiksionele kwaliteit inwerk? Is dit ‘n kommentaar, dalk kritiek op die
postmodernistiese werkswyse waar fiksionele karakters as’t ware ‘n lewe en
dimensie van hul eie kry?)
Die leser weet dat hierdie soort truuk
onder andere bekend is aan die werk van Julian Barnes wat in Flaubert’s parrot
die verskillende aspekte van Flaubert se skryfkuns ondersoek en in sy jongste
roman ook aan Arthur Conan Doyle se romankarakters ‘n bykans
werklikheidsdimensie toedig.
Die skerpste bydrae van hierdie roman is
die gesprekke tussen Costello en Paul Rayment waarin daar vele kodes oor die
prikêre spanning tussen werklikheid en fiksie uitgewerk word. Die verhouding
tussen Paul en Marijana en haar kinders word ook pynlik helder geskets en daar
word snydende kommentaar gelewer op die struktuur van die ‘nuwe’ gesin. Die
verhaal van die Jokićs, word geplaas teen die verhaal van‘n man wat met sy
moeder trou (p. 66) en aktiveer die Oedipus-verhaal en in hul naam hoor ‘n mens
Jokaste. Dus aan die basis van hierdie vertelling lê Koning Oedipus,
verblinding en vadermoord en Freud se vele interpretasies van die kind se
reaksie op sy ouers. Paul vertel ook aan Costello van sy passie vir ‘n jong
assistent en hoe hul interpretasies van ‘n liefdesverhouding verskil het. Hoe
een mens vir twee mense kan liefhê en wat gebeur, onvermydelik, wanneer die
ontoelaatbare uitgespeel word.
Die hoofkarakter se passie is fotografie en
hy verafsku alles wat tweedehands, vals of namaaksel is. Hierom kan hy nie
prostese verduur nie. Dus, ook aweregse kommentaar op die skryfkuns dat dit
oorspronklik moet wees, maar die (post)moderne skrywer is helaas oorbewus van
die onmoontlike opgaaf. Die Freudiaanse stramien lê deur die teks en daar is
duidelike verwysing na Freud se Grap-boek en hul verhouding tot die onbewuste
(p. 259). (Is Coetzee dalk besig met swart-humor in hierdie roman, wonder
hierdie leser? Besig met ‘n soort parodie van die skrywer wat besig moet wees
met die hoër, intellektuele spel en eintlik gefassineer is in ‘n soort
Balzaciaanse menslike komedie? So gelees, is die roman grimmige kommentaar op
die outeur se verblyf in Australië en die nuwe eise wat sy posisie as hoogs-bekroonde
aan hom stel. Die skerpsinnige leser sal die motto “Malleus maleficorum” ook so
interpreteer.) En wanneer Freud geaktiveer word, is Shakespeare daar, soos
Harold Bloom ons herinner: ons moet eerder ‘n Shakespeareaanse analise van
Freud maak. Dus is die name van karakters, veral die kinders s’n eg uit
Shakespeare wat ook ‘n ander verwysingsveld laat kantel.
Dis ‘n verhaal wat glad en vinnig verloop,
maar die intertekste is veelvuldig. Dit is ‘n roman wat die leser terugdwing na
Coetzee se meesterstuk, Elizabeth Costello en Disgrace, sodat die spel met eie
romans ook ‘n andersoortige leeservaring oplewer.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]