Showing posts with label Koos Kombuis. Show all posts
Showing posts with label Koos Kombuis. Show all posts

Sunday, October 17, 2021

Resensie | Koos Kombuis - Help! My dorp hou ‘n kunstefees! | Naledi, 2021

Koos Kombuis - Help! My dorp hou ‘n kunstefees! Naledi, 2021. ISBN 978 1 928530 64 0

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie boek word bemark as ‘n crazy komedie en glo my, dis presies wat dit is. Van die komiekstrip voorblad tot die uitstal van karakters (uiteraard stereotiep) lag ‘n mens luid en lank. Koos Kombuis het nou maar eenmaal ‘n oog vir die absurde. Kunstefeeste en boekklubs. Afrikaanse sangers. Dominees en ‘n karakter met die naam Cassandra D’Ole bevolk hierdie roman.


Speels en satiries sonder erge gif, navigeer die skrywer, ‘n volksikoon, die karakters en absurde situasies. 


Sekere situasies is herkenbaar. Tyd is relatief. Ons leef immers sedert grendeltyd in die Ewige Nou. Anna M. Louw is die motto uit Die koms van die komeet. En die onherroeplike het nou met die aardbol gebeur.


Vredelus met Sanet Watermeyer-Grové. Terblanche Tuisnywerheid, hoofsanger van die groep Donker Gedagtes laat jou verder skater. ‘n Kunstefees wat die dorp op sy kop keer.


Die goeie word oënskynlik teenoor die bose geplaas: die prediker wat sy geloof verloor het en as jongeling gemasturbeer het met Scope en skuldgevoelens ervaar oor sy gelukkige jeug. Heino Declerque, die beroepsfilmmaker met ‘n filosofiese gees. Die dominee het slegte gedagtes, terwyl die filmmaker nadink oor simboliek. Almal is hier: die herkenbare politieke partye, gender- en raskwessies, protesoptogte, leuens … Met tussendeur komiekstrips van Koos Kombuis.


Bekend aan Koos Kombuis word hy self ‘n karakter in sy eie roman. Metafiksie dus met selfspot en (speelse) stekies wat uitgedeel word na ander skrywers en herkenbare mense. Die roman lees teen ‘n dolle vaart. 


Linda Hutcheon in haar studie Theory of parody. The Teachings of Twentieth-century Art Forms (1985) wys op die verskille tussen parodie, pastiche, persiflage, ensomeer.   In ons postmoderne en nou metamoderne leefwêreld teer tekste openlik én verhuld op ander tekste. Selfs in die modernisme (ek dink hier aan T.S. Eliot) is hierdie weefwerk aantoonbaar. Die parodie (send-up) en satire is twee verwante stylfigure. Hier vind ons eerder satire en dalk ‘n skeutjie self-parodie, omdat Koos Kombuis al van hierdie tegnieke aangewend het in vorige tekste. Vir my is sy hoogtepunte Somer II (as André Letoit van 1985) en natuurlik Suidpunt-Jazz (André Letoit uit 1989) en Raka die roman (2005). En Sushi with Hitler uit 2020.


Die postmodernistiese teks teer op ander tekste en uiteraard mag dit ook op eie tekste inspeel. Hier is metafiksie met Koos as ‘n herkenbare karakter (89). Daar word gespot met die postmodernisme (“Wat het van die postmodernisme geword?”) en niemand daag op vir die paneelbespreking nie.


Humor word afgewissel met pynlike insidente en kwessies: Vytjie se swangerskap op sestienjarige ouderdom, verkragting en gedaante-verwisselinge soos dié van Madelief van Biljon.

Die spot word gedryf met boekklubs en ‘n leeskultuur waar lesers nie boeke lees nie. Die biblioteek aan die einde van die wêreld word geteiken.


Byname wys op stereotipes (“Ou Pille”, Dok Olewage, byvoorbeeld). Die verskillende hofies wys op die manipulasie van die werklike outeur wat begin met ‘n Idee en eindig met Armageddon en ‘n epiloog.’n Ouktoriële roman dus soos by Dickens wat self in Oliver Twist “aanwesig” is.


Daar word eweneens kritiek uitgespreek teen godsdiens en lekepredikers. Bybelse tekste is aanwesig.


Daar is juwele: My Oupa se Skelmpie se Boetie se Kombi se Mekenniek se Selfoon se Charger en die beskrywing van gastehuise se dekor op die platteland. Pop-up restaurant en die pretensie rondom kos kom in die visier. Beurtkrag, pedofilie, sosiale media word geteiken. Die abjekte is hier en ‘n raspejoratief word toegedek. Inderdaad ‘n Bakhtiniaanse gedoente met sy siening van die karnivaleske. Jean Meiring verwys tereg hierna in sy resensie op Litnet: Help! My dorp hou ’n kunstefees! deur Koos Kombuis: ’n resensie | Litnet. Besoek 16 Oktober 2021.


In sy The Dialogic Imagination (1975) wys Bakhtin op die betekenis van die polifoniese teks en sy studie oor Rabelais is hier ter sake: Rabelais and His World (1975).


Nie om dowe neute nie word daar uit ‘n gedig van Kleinboer aangehaal:”’n bom wat stadig bars.” 

Alles op Vredelys is inderdaad crazy. ‘n Lewenslusfees?


Meer gif en afstand sou die roman sterker kon maak. Die grappe vergoed wel!


Ironie en spotspraak is hier. Skerp satire helaas nie. Bykans soos Faulty Towers?


Die roman is vir Koos Kombuis-aanhangers.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio) 

 

 

 

 

 

 

 

Saturday, May 12, 2018

Resensie | Koos Kombuis – Vandag wil ek my blou skoene dra (2018)

Koos Kombuis – Vandag wil ek my blou skoene dra. Naledi, 2018. ISBN: 978-1-928426-08-0

Resensent: Joan Hambidge

Koos Kombuis het as digter gedebuteer met Brekfis vir Vier: André le Roux du Toit, Daniel Hugo, Peter Snyders & Etienne van Heerden was saam by hierdie ontbyt. Toe was Koos nog André le Roux du Toit wat later sanger en wonderlike roman- en kortverhaalskrywer geword het (Woorde wat weeg | André le Roux du Toit, Daniel Hugo, Peter Snyders & Etienne van Heerden - Brekfis met vier. Besoek 24 April 2018).

Hiervan is Somer II (1985), Suidpunt-Jazz (1989) en veral Raka die Roman (2005) uitsonderlike hoogtepunte.

In van sy romans het hierdie skrywer al herkenbaar ‘n draai gegooi. Dit was ‘n bewys van sy spel met fiksie en werklikheid wat in die hoogbloei van die postmodernisme aan die orde van die dag was.

Verder is hy as sanger bekend en deel van die Voëlvry-beweging.

Sy pas verkene bundel Vandag wil ek my blou skoene dra met ‘n omslag waar ‘n paar angswekkende lelike Crocs met aaklige beenhare op die voorblad pryk, word gepubliseer deur Naledi. Die digter sien dit as ‘n ryp-word-bundel en ‘n geskenk aan homself. Hierdie bundel verskyn dan twintig jaar na die debuut in ‘n tyd waarin hy drugs gelos en ‘n gesin begin het.

As student op Stellenbosch het hy in die koffiewinkels gesit en geskryf. Bevry van die dwinglandy van klasse bywoon en toetse skryf, is hy bewonder deur menige student. Kombuis is ‘n volksfiguur met ‘n groot aanhang.

So wat ‘n akademikus sou dink van sy gedigte, sou hom waarskynlik nie skeel nie. Die gedigte is nader aan songs as wat dit gedigte is. 

Die kenmerkende opstuur-aanslag is hier aanwesig – ‘n voetnota wat die leser waarsku dat die digter weet dit is rymdwang. Daar is ‘n parodie wat heet, “vier gebede by jaargetye in die boland” met ‘n sorry aan Louw wat waarskynlik bewys dat die digter besef dat die gedig sleg afsteek by die oorspronklike vers. Koos Kombuis se indertydse parodieë opgeneem in Foster & Viljoen se Poskaartehad meer om die lyf.

Te min weerstand, te dun, te obvious. En groot songs kan gedigte wees. Dit het Leonard Cohen vir ons bewys. Hier is dit nog vis nog vlees.

Miskien soos hy dit self opsom in “dis my laaste gedig (sê ek elke keer baie dramaties)” (46) is die probleem presies net dit:

Ek is klaar gewroeg,
genoeg gespoeg,
verby geswoeg,
lewensmoeg
en grys bebaard.
(47)

Die leë landerye verklap inderdaad die einde van die digterlike reise …

Hy skryf verder:

tussen calvinia en mordor
van bronkhortspruit na madagaskar
deur leë landerye
waar van gogh-swart kraaie vlieg
en joan hambidge
oor haar vele minnaars bieg.
sela.

‘n Bietjie van ‘n maklike uitweg, nie waar nie?

‘n Mens kan egter net dig as jy nog passievol oor die bedryf.

Hier is twee beter verse:

vandag wil ek my blou skoene dra

vandag wil ek my blou skoene dra
want vandag is ’n blou dag,
blou soos die half-
edelgesteente van die oggendlig,
blou soos saffiere.
blou.
.
vandag wil ek my blou hemp dra.
vandag wil ek blou
deur die lewe loop
soos ’n briesie deur ’n wasgoedlyn,
gewigloos
en geurig.
blond en blou.
blosend, bronstig,
diepblou
soos die aand wat stadig aankom.
.
vandag wil ek vaar soos ’n skip
oor blou deinings,
wieg soos die meeue in die wind,
woel soos ballonne
wat vrygelaat is by ’n kinderpartytjie,
soel en soepel en swewig en snoesig
soos die oggenddou,
soos die briewe
van my
aan jou.
.
soos die smarterige jare wat van my afval
ou bloedpleisters weg in die grou
van al my christelike gisters.
groet daardie dae,
want hulle is
vir altyd verby.
.
hulle is ingesluk.
verby is al die rou.
ja, hulle is ingesluk
vandag
.
en nou proe alles
soos die soene
van ’n waterdraer-vrou.
.
aquarius.
libido.
net blou.
.
so lief
is ek vandag
vir jou.



 huis vol kitare

eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare
met ’n uitsig oor die see
waar die wind spoel
deur die snare
 .
eendag wil ek koffie drink
op ’n veranda vol herfsblare
en deur ou digbundels blaai
terwyl ek ryp word
met die jare
 .
eendag wil ek huis toe gaan
eendag
wil ek als verstaan
eendag
wil ek opstaan
uit my graf van woorde
en leë gebare
 .
eendag wil ek wegkom
van die groot jillende
skare
 .
eendag wil ek aftree
in ’n huis vol kitare

In rock&roll.karoo was daar 33 digitale gedigte gepubliseer in 2014. So klink die openingsgedig:

gedigte = stukkende liedjies
liedjies wat nie meer kan sing nie, 
gebreekte liedjies. 
net hartseer liedjieskrywers soek hul toevlug 
@ poësie. 
poësie is d koraalriwwe v kuns. 
gedroog, verbleik, geteister deur tegnologie, 
verarm deur d opkoms v rock’nroll, 
woorde gevries @ stilstuipe.
massagrafte op papier. 
ek = mal vir poësie.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, October 13, 2014

Koos Kombuis - rock & roll.karoo (2014)



Koos Kombuis - rock & roll.karoo. M & S Boekdrukkers, 2014. ISBN 978-0-620-62716-0. 
Resensent: Joan Hambidge

Die digter vra in die kolofon dat die leser hierdie e-boek nie sal aanstuur nie. Die digter vra pertinent dat die leser eerder sy eie eksemplaar sal aanskaf en die harde werk sal eer.

Goeie genugtig.

Die bundel word aan Etienne opgedra, en dit is waarskynlik Etienne van Heerden, met wie Koos Kombuis gedebuteer het in Brekfis met vier in 1981.

Toe was Koos nog André le Roux-du Toit; Daniel Hugo en Peter Snyders was die ander digters. Die uitgewer was Skoppensboer.

Inmiddels het Koos ’n huishoudelike naam geword, satiriese romans geskryf – soos Suidpunt-jazz (1989) en Somer II (1985) – en veral bekendheid verwerf as musiekmaker. Daar was ook Raka: Die roman (2005), ’n wrang satire.

Hierdie jongste e-digbundel wals met Groot Verseboek en etlike ander bekende Afrikaner-eiesinnighede.

In die hand van Koos Kombuis word daar ’n aweregse blik gegee op die hier-en-nou en swaarwigtige kwessies word ontluister. Die @-teken is daar, nes = en ander rekenaar & internet-simbole.

Soms mis ons ’n konvensionele kappie of ’n deelteken het weggeval . . .

Dis geen groot poësie nie, maar ’n heerlike internetwals sonder gal, maar met sosiale kommentaar.

I

gedigte = stukkende liedjies
liedjies wat nie meer kan sing nie,
gebreekte liedjies.
net hartseer liedjieskrywers soek hul toevlug
@ poësie.
poësie is d koraalriwwe v kuns.
gedroog, verbleik, geteister deur tegnologie,
verarm deur d opkoms v rock’nroll,
woorde gevries @ stilstuipe.
massagrafte op papier.
ek = mal vir poësie. (5)

So plesierig gaan dit:

@ my ou ramkiekie
met net 1 toep
speel ek i/d maanlig
@ my stoep
ek speel v al d sterre
i/d wye lug daarbo
n lied v al d aliens
@ d groot karoo (37)

’n Mens sou vir jong studente kon vra: Waar is Totius, Leipoldt, Opperman (onder andere die ou weduwee Viljee) en al die ander grotes weggesteek in hierdie bundel?

(Die aanhaling toegedig aan Ezra Pound is helaas van Eliot . . .)

Die digter sien homself as ’n Dias van die gees.

Nou onlangs het die digter opslae in Brittanje gemaak met ’n wit-gedig (Cambridge University students speechless over Koos Kombuis’s blank poem) en ons vind hier woordeksperimente soos:

XVII

o brannewyn laat my staan
“ “ “ “ “ gaan
“ “ waars d maan
“ “ eks gedaan (21)

Gedigte klink asof dit in ’n vinnige SMS-taal geskryf is. Maar dit is ’n opsetlike eksperiment, hierdie aanslag. En selfs “Die Stem” word geparodieer:

VIII

(gelofteland)
@ d blou v onse hemel
@ d diepte v ons C
@ ons∞gebergtes
waar d kranse antwoord G

Dit is ’n bundel vir al Koos se fans. Hy lewer aweregse sosiale kommentaar: Karoo-fracking word aangespreek, die soeke na stilte, oudword, die dood . . .

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Netwerk24)

Thursday, February 28, 2013

Koos Kombuis - Raka die roman (2006)



Koos Kombuis. Raka die roman. Human & Rousseau, 2006. ISBN 07981 4589 7.

Resensent: Joan Hambidge

Raka die roman is Koos Kombuis, ‘n voorste satirikus se jongste roman, ‘n boek waarvan die lagkurwe uit die grafiek skiet. Om te beweer ek het gelag, sou leuenagtig wees. Nee, kom ons probeer bulder.

Waarom? Koos Kombuis (André Letoit) span al sy satiriese kragte hier in om ‘n teks te lewer (glo alles Kleinboer se skuld!) wat Raka, die grootse epiese gedig as interteks gebruik. Die verhaal? Dominee Theunis Opperman se manewales (o.a. ‘n episode waarin hy per ongeluk ‘n private sms aan sy hele adresboek stuur èn ‘n platvloerse verbuiging van sy naam, en ja, ‘n baba-monitor wat ‘n intieme oomblik openbaar…) met sy telge se opstand teen hierdie vader en die simboliese Vader, die orde van die patriargie. Raai maar wat vang hulle alles aan met ‘n “band” (ja, raai die naam), dagga en Loslyf.

Die tegnieke? ‘n Parodiese aanslag wat slim werk met verwysings (selfs Koos Kombuis se lirieke kry ‘n dwarsklap), regte mense (oi, Laurika Rauch, Jurie Els, Dan Roodt, Jan Blohm, Breytenbach, Johan Rademan), instansies (die Universiteit van Stellenbosch) en die Afrikaner se vrese. Daar is ‘n ouktoriale verteller wat soms tussen parenteses kommentaar lewer op die lawwe en groteske insidente wat werk met oordrywing, bekende grappe, folklore en vrees. Oënskynlike teenstrydighede (soos Spiderman en Raka) word teen mekaar geplaas en die lesing van Meneer Huisamen (ja van Paul Roos) aan die joernaliste van die Son, beklemtoon ‘n verdere dimensie van hierdie roman: die gemaak-geleerdheid waarmee elke denkbare teiken van pretensie en waardigheid met één snelle vaart afgemaai word. (Kyk onder andere hoe word Koki beskryf.) 

Die roman is vlot, super-vlot geskryf en ‘n mens tuimel saam met die karakters en die verteller van een mal insident na die volgende. Netjies in plek gehou met die ouktoriale verteller se aankondigings in hoofstuk-afdelings soos “die dag toe die ondier gekom het” en “dis die uur van die tokkelossie”. Wat jou voorberei op ‘n tragedie, veral as jy die oorspronklike teks in die herinnering roep en weet dat Stellenbosch beslis nie meer ‘n veilige hawe is nie.

Die oordeel? ‘n Heerlike skouspel (‘n karnaval as ons Bahktin wil naderklap) van humor, oordrywing, satire, vermaak, parodie, ensomeer. Dit ewenaar miskien nie die beste in sy oeuvre nie, naamlik Suidpunt-Jazz en Somer II nie, maar ons benodig in hierdae dae van taalstryde so ‘n boek wat uiteindelik bewys: as daar nog lekker met Afrikaans gespeel kan word, gaan dit goed met die taal. Dit het ‘n pop-aanslag en vra vir ‘n saamlees van Tom Sharpe se Wilt. En ook Tom Dreyer se Stinkafrikaners en Jeanne Goosen se ‘n Paw-paw vir my darling.

Kritiek? Hoe gewaar ‘n mens reuk van parfuum? (p. 182)

Gaan ek dit weer lees? Waarskynlik sal ‘n mens oor ‘n ruk bewus wees van die donker grein wat dikwels in hierdie soort boek aanwesig is; onder die grap broei die ontnugtering wat deur satire of parodie (tydelik) herstel word. ‘n Politieke werklikheid wat van moord en doodslag ‘n alledaagse iets maak. Beslis sal ek dit weer lees wanneer ek na ‘n vermoeiende dag lafenis soek vir my siel en dit beslis voorskryf vir my studente om die postmodernisme-in-aksie te sien. En die impak wat ‘n speelse, parodiese aanslag tot ‘n grimmige, donker roman op die leser het.

Moet ek dit koop? Dit kos net R125 en is ‘n moet vir elke ikonoklas se boekrak. Plaas dit neffens Tom Sharpe en Faulty Towers-video’s. Etienne van Heerden se In stede van die liefde gee weer ‘n ánder, ernstiger blik op Stellenbosch, die dorp waarin hy en Koos groot geword het. Hierdie twee romans verskyn waarskynlik nie onbedoeld op dieselfde tydstip nie…

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]