Thursday, February 14, 2013

J.M. Coetzee (Ed.) - African Pens: New Writing from Southern Africa 2007 (2007)



African Pens: New Writing from Southern Africa 2007. Spearhead, 2007.  ISBN 978 0 86486 785 8.

Resensent: Joan Hambidge

Leessmake bly ten alle tye iets waaroor letterkundiges sal verskil. Wat is die “beste”uit Afrika? Watter jong skrywer se verhaal behoort ‘n prys te wen? Ek dink ‘n bundel wat as ‘n uitstekende toetsgeval kan dien om vele van die probleme rondom toekennings, bekronings, pryse of loftuitinge te beantwoord, is die versameling African Pens – New Writing from Southern Africa 2007 beoordeel deur J.M.Coetzee.  

In die voorwoord bely die beoordelaar dat hy alles anoniem ontvang het en plekke toegeken om die proses te vergemaklik. Die prys is verower deur Henrietta Rose-Innes, ‘n begaafde romanskrywer vir haar verhaal “Poison”, ‘n knap analise van ‘n stad, Kaapstad, wat geen petrol het nie weens ‘n krisis. ‘n Wolk hang oor die stad wat duidelik inspeel op ‘n nuklêere bedreiging. Sosiale kommentaar het dus hier die oorwig gebied teenoor die analise van Karen Jennings se “Sarah begins” wat ‘n ongehoorde swangerskap sinkopeer met ‘n jong kind se ervaring van eerste liefde en haar obsessionele reaksie hierop. 

“Jason’s kiss” van Morné Malan ondersoek genderstereotipes en homofobie met die pynlike wete dat die aandadigers van joú pyn dikwels onbewus bly. Die herkenning van die persoon later in ‘n kroeg blyk foutief te wees, wat ‘n skerp terugblik werk op die hele skoolkonsert en gay-wees. Bianca / Bertus de Klerk kom bedroë van alles af, ‘n gegewe wat sterk herinner aan Robert Altman se Come back to te five and dime, Jimmy Dean, Jimmy Dean.

Geskryf in gay-lingo met opsetlike teatrale aanwysings wil die verteller die leser bewus maak van gender-stereotipes en hoe dit reeds vanuit die jeug ’n spesifieke lewenshouding tot gevolg het. En dat die persoon wat hy na jare konfronteer alles sal oplos. Helaas nie.
Waaroor gaan hierdie versameling? Wat word aangespreek? Ras-kwessies, gender-sake, identiteit, die soeke na geluk. Opvallend in hierdie versameling – met potlode en een  pen op die voorblad – is die dikwels vermenging an Afrikaans en Engels. 

Hierdie kode-wisseling of heteroglossia word uiters effektief aangewend in die meeste van die verhale wat die spesifiek Suid-Afrikaanse aard daarvan wil beklemtoon. Dit word uitmuntend hanteer in Deborah Klein se “Men and Mermaids”, ‘n skrynende ondersoek na rasvooroordeel en ongehude swangerskappe en die effek hiervan op die hoofkarakter. Dit word so “sotte voce” vertel dat die leser die slot – met ‘n duidelk politieke kommentaar – dus skerper ervaar. Dieselfde geld die analise van ‘n kind se versaking van sy ouers. Alles word vertel uit die perspektief van die vader in “Collage” deur Carolyn Weir se ondersoek na die Freudiaanse familie-romanse en die seun wat, ten spyte van sy moeder se dood, nie terugkeer om sy moeder betyds te sien of sy vader te vertroos nie. ‘n Klein menslike drama, maar met soveel implikasies oor waarom die seun nie wil terugkeer nie. Waarskynlik is hy versmoor deur sy ouers se aandag en fokus op hom. Of dalk is daar iets anders? ‘n Verdere lesing maak nog moontlikhede oop in hierdie verhaal oor hartverskeurende verlatenheid.

Besonder goed is “Ninema” van Vrenika Pather met die jukstaposisie van die tradisionele en moderne aspekte van vrou-wees. Dit is ‘n verhaal van ‘n vrou wat skerp reageer op seksuele teistering en bevry wil word uit haar haglike, beperkende lewe. Al die spanninge bekend aan polito-feministiese literatuur is hier aanwesig en dit vra om ’n saamlees met die enigsins satiriese “At the sound of the last post”deur Petina Gappah, ‘n kragtoer in die kleine wat op sig beurt saampraat met Sean O’Toole se skerp satires oor ‘n Afrika-leier.
Dit is nie die eerste keer wat hierdie leser hierdie soort pryswennende tekste beoordeel nie en hierdie 2007-versameling bevat ‘n handvol sterk verhale wat veel beloof vir die dae wat kom. Satire, politieke analises, gender-ontmaskerings, veral goed beskryf in verhale wat ‘n tweede, derde lees regverdig. Dit waarop ek gefokus het, verklap uiteraard my leesvoorkeure en –smaak.

In sodanige versameling moet ‘n mens nie inspeel van verhale op mekaar onderskat nie. Bloemlesings verbloem nie; dit openbaar. In hierdie geval vertel dit ons iets van wáár Suidelike-Afrika letterkunde nou is met kwessies oor ras, klas, gender. En Vigs.

En hierdie onderwerp kom tot uiting in “For honour” deur Stanley Onjezani Kenani se storie oor ‘n kinderlose egpaar en die skande binne die gemeenskap.

‘n Minnaar word vir die vrou gereël, ‘n kind word verwek.

Die afloop is voorspelbaar.

En terselfdertyd skokkend.

Hierdie kind bring nie die verwagte vreugde nie.

In die hantering van die tradisionele lewenspatrone en die verskrikking van Vigs, analiseer die skrywer, van wie ons nog veel kan verwag, hoe die gemeenskap in Malawi uitgelewer is  aan die moderne ellendes.

En ‘n mens sou kon skryf oor die eiesoortige aard van die Afrika-kortverhaal. Die sedeles word dikwels in vele an die verhale op sy kop gedraai. Daar is dikwels ‘n sterk slot. En ‘n implisiete stuk sosiale kommentaar.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]