Wednesday, February 13, 2013

Michael Chapman - Omnibus of a Century of South African Literature (2007)



Michael Chapman. Omnibus of a Century of South African LiteratureAd Donker, 2007. ISBN  978 0 86852 233 3.

Resensent: Joan Hambidge

Michael Chapman se omnibus wil ‘n samevoeging wees van Jean Marquard, Martin Trump en ‘n Chapman-2004 se keuse van kortverhale.

 Daar word ‘n groter leesgehoor hier ten doel gestel en in ‘n sydelingse huldeblyk, word hier gegee aan Jean Marquard, die bekende Johannesburgse antoloog wat ontydig heengegaan het in die vroeë tagtigerjare.

Hy noem die kortverhaal die mees “resilient”en “innovative form of literary expression” hier te lande.

Hy lewer ook implisiete kritiek op die feit dat haar boek nie genoegsaam in die tyd teruggegaan het nie, maar terselfdertyd erken hy dat ons nou, met ‘n beter insig, ander keuses kan uitvoer.

Onder andere word die postkoloniale bemoeienis tans meer genuanseerd aangepak en die soeke na verbintenisse oor taalgrense heen, is kenmerkend van moderne literatuurgeskiedskrywing; iets waarmee Chapman hom al lank besig hou.

Die Afrikaanse kortverhaalboek van Abraham H. de Vries is die pendant vir Marquard se versameling – ‘n teks wat in 2001 ‘n elfde druk beleef. Bepaald ‘n prestasie!

Die veranderende sosiale en politieke klimaat word dus beter verteenwoordig in Chapman se multi-talige, muli-kulturele en dikker omnibus. (Size does count.) Vir dieper beskouinge oor die kortverhaal en tendense, verwys hy die leser na sy en Marquard se uitgebreide  inleidings tot hul ander kortverhaalbundels. Ingeligtes sal uiteraard die kortkunskenners soos De Vries en Aucamp se studies betrek, en Elize Botha se voorwoord tot In een kraal weer lees.

Dit is ‘n dikke boek met stories van natuurlik klassieke beoefenaars soos Herman Charles Bosman, Bessie Head, Doris Lessing, Es’kia Mphahlele, Alan Paton, Richard Rive, Olive Schreiner, Pauline Smith, Ian Vladislavic en Peter Wilhelm is hier opgeneem.

Minder bekende swart  skrywers wat aan die meeste van ons wit lesers, nota bene, onbekend is, word verteenwoordig en natuurlik is bekendes uit Afrikaans soos Aucamp, Chris Barnard, Jan Rabie, Karel Schoeman Riana Scheepers en Eben Venter, o.a. geplaas.

Chapman is ‘n kanoniseerder en soos die meeste letterkundiges wat versamel en byeenbring, goed belese en ingelig oor die strominge, stroomversnellings en afgronde. Daar is al skerp kritiek uitgespreek op sy multikulturele literatuurgeskiedskrywing en die hiate wat dit vertoon. Trouens, dit is ‘n lewenstaak om één letterkunde en sy tradisie te beskryf; wat nog van ‘n land met elf amptelike landstale met verskillende swart letterkundes; boonop elkeen met partikuliere tradisies wat wissel van orale tot skrif (swart) of hier en buitelands (Engels). Dit is vanselfsprekend dat Chapman dan sy oordele moet baseer op ander se insigte en opsommings wanneer hy buite die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde beweeg. Net so moet ons dikwels ons beroep op kenners uit die swart letterkundes – soos Antjie Krog wat moes steun op gesprekke met Sizwe Satyo in haar vertalings van swart digters – of gaan kers op steek by komparatiste oor hoé ‘n mens vergelykend te werk gaan binne ‘n land waar mense uit verskillende kulture nie eens mekaar se name korrek kan uitspreek nie.

Die biografiese notas is uiters suinig: Schoeman word gesien as’n afgetrede bibliotekaris van ‘n navorsingsbiblioteek – as skrywer van biogafieë, romans en kortverhale. Inderdaad – maar as grootse en uiters produktiewe Afrikaanse romanskrywer, sou ‘n mens kon byvoeg.

Iets waaroor die leser van Afrikaanse tekse mag tob, is die vertalings. Hoe gaan lê P.J. Haasbroek byvoorbeeld in Engels?

En Aucamp se “The coat without end?”

Is dit so pakkend as die oorspronklike?

Die meeste van ons ken Russiese tekste uit D.M. Thomas-vertalings waaroor daar erge fronse is in Rusland.

Dan kry ‘n mens wel begenadigde vertalers soos Ian Ferguson of  Johann de Lange,
wat die oorspronklike psige van die teks begryp, vasvat en hul eie maak. 

Elke leser sal hieroor self moet oordeel – of die teks goed “gereis” het van een taal, konvensie na ‘n ander en of  hulle binne ‘n omnibus-verband (onbewustelik) ander verhoudinge mag aanknoop, goed of sleg.

Trouens, die verhale verlaat die knusse kánon waartoe hul behoort het en ding nou mee op gelyke, neutrale grond waar die skrywer gestroop is van die vooraf-kennis wat lesers beïnvloed, ten regte of onregte. Amper soos vee agter op ‘n lorrie op pad na die landbouskou, opgelaai by verskillende plase en plotte. Sterkman ding nou mee met Blommetjie.

Toe daar by Unisa ‘n mini-simposium gehou is oor literatuurgeskiedskrywing, was daar kritiek uit die ander letterkundes op Chapman se werkswyse. Ekself het in die verlede skerp kritiek uitgespreek, maar die belangrikste aspek van die omnibus is dat dit ‘n versamelbundel is met ‘n handvol verhale van gehalte vir die kortverhaalliefhebber.

Veral, meen ek, sal buitelandse lesers ‘n blik kry op die komplekse verhoudinge tussen mense met verskillende tale, kleur, gelowe…

Of die kortverhaal in Suid-Afrika die meeste innovasies al deurgemaak het, sal ook betwis kan word. Party sal meen die roman kom hierdie eer toe. Ander mag glo dit is die gedig.

Maar elke omnibus, antologie of bloemlesing wat die komplekse gemeenskap waarbinne ons leef, beskryf en opteken, verdien vermelding. Is dit werklik so dat mense nie meer kortverhaalbundels koop nie? Indien dit wel so mag wees, sal hierdie omnibus dan hopelik vir liefhebber van die kortverhaal ‘n goeie aankoop wees.

Hierdie boek hef dan die skeidslyne op, nie alleen tussen wit en swart nie, maar ook tussen verskillende letterkundes wat in Engels verteenwoordig word. Ons kry dus hier Marquard se oorspronklike werk plus al die veranderinge wat in ‘n post-apartheid-Suid-Afrika plaasgevind het soos onder andere globalisering en die impak daarvan op Suid-Afrikaanse letterkundige sisteme.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]