Thursday, February 14, 2013

Ben Okri - Starbook (2007)



Ben Okri. Starbook. Rider: Londen, 2007. ISBN  978 1 848 04091 7.

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs het my kollega Jean-Louis Cornille, kenner van Franse letterkunde en vertaler van J.M. Coetzee, ‘n insigryke lesing gegee oor daardie bekende uitspraak in Elizabeth Costello, naamlik dat Franse letterkunde vir die Franse is; Russiese letterkunde vir die Russe – maar, dat wanneer ons Afrika-tekste lees, dan ervaar ons altyd die gevoel dat die teks vertel word vir ‘n Westerse leser wat as’t ware oor die skouer loer van die Afrika-skrywer.

En dit is dan dikwels die gevoel wat Westerse / wit lesers het van Afrika-letterkunde: die eg-folkloristiese aard word doodgeswyg of weggeskryf; selfs “oper” gemaak sodat dit verteerbaar of  toeganklik is. Ek het geweldig baie gehou van Ben Okri se The famished road en sy jongste Starbook word bemark as ‘n magiese verhaal van liefde en hergeboorte.

Vir eersgenoemde roman het Okri die gesogte Booker-prys verower in 1991 (plus sewe ander belangrike pryse) en die jongste roman, met groot fanfare gelanseer, begin soos volg:

“This is a story my mother began to tell me when I was a child. The rest I gleaned from the book of life among the stars, in which all things are known.”

Okri is ‘n Nigeriese digter en romanskrywer wat buite die grense van sy land bekend geraak het en roem verwerf het. Hy het elf romans gepubliseer, twee nie-fiksie tekste en twee digbundels waaronder die bekende An African Elegy en Mental Fight.

As jong kind, gaan hy skool in Londen hoewel hy later weer terugkeer met sy familie. Soos Salman Rushdie beleef hy dus ‘n komplekse posisie van binne- en buitestaanderskap. Sy tekste word dikwels onder die noemer van “magiese realisme” geplaas, ofskoon hyself krities is oor die gebruik van hierdie term.

In Okri se jongste roman word die verhaal vertel van die Prins en die Maagd wat   afspeel in ‘n mitiese land.

Die boek is absoluut briljant vertel. ‘n Mens word onmiddellik in die magiese wêreld van die vertelling ingetrek. Die hoofkarakter se soeke na ‘n vrou en die herkenning van haar, is dit waarom die gegewe wentel. Die droomagtigheid van die mitiese verhaal is hier opvallend. Ons kan presies sien hoe die “village” daar uitsien: ‘n volledige sirkel. Die held het magiese kragte en een van die jong maagde slaan dood neer ná ‘n aanraking met hom.Die verhaal werk met rites en inisiasies en met “eendag lank, lank gelede”-aanslag so bekend aan kinder- en magiese verhale.

En sy sewe inisiasies eis dat hy waansin moet kan oorwin.

Uiteraard word hy getransformeer deur hierdie inisiasieproses – ‘n woord gebruik deur Okri wat waarskynlik ‘n Jungiaanse interpretasie wil insluit – wat hom onder andere voorstel aan bekende en onbekende Dooies.

Uiteindelik is die bevinding dat net ‘n vrou hom sal verlos van die stilte waaraan hy swaardra ná die transformasie-proses.

Die verhaal beweeg snel en die leser word sonder ‘n omhaal van woorde betrek by die gegewe. Dis ‘n vinnige bo-vertelling met ‘n swaar onderste, simboliese lading, dus.
Die roman is in verskillende boeke van wysheid verdeel en die laaste heet dan “The Alchemy of All Things” wat beslis ‘n Jungiaanse benadering beklemtton. Dit was immers die metafoor wat Jung gebruik het om die gistingsproses in die psige en uiteindelike individuasie te verduidelik.

Om terug te kom by my opening stelling oor Afrika-letterkunde: Ben Okri poseer as ‘n egte Afrika-skrywer, maar hy laai dit Jungiaanse sub-tekste en innuendo’s. Hy is dus binne-skrywer en buite-skrywer.

Ons weet immers dat Jung besoek afgelê het in Afrika.

Daar is geen einde of begin nie, vertel die slot.

Ons word immers uiteindelik net deel van kollektiewe onbewuste. En van ‘n vertelskat.
In Elizabeth Costello waarsku hierdie gedugte skrywer – die voertuig vir J.M. Coetzee se gedagtes – dat elke Afrika-roman gelees moet word as ‘n kritiek op die Britse tradisie van romanskryf.

Miskien hou hierdie Okri-roman te lank aan.

Dalk mag sommige lesers die gegewe te moralisties en herhalend vind.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]