Jaco Botha. Miskruier. Human & Rousseau, 2005. ISBN 07981 4581 1.
Resensent: Joan Hambidge
Jaco Botha is nes Michel Houellebecq. Hulle
vertel verhale oor die donker kant van ‘n samelewing wat gereguleer word deur
politiek-korrektheid. Hulle vertel vir
jou wat jy weet en vrees op ‘n dwingende manier sodat jy die boek nie wil
toemaak nie, maar soms moet toemaak, omdat dit te erg raak. Miskruier neem jou
in ‘n futuristiese ruimte in met die ironiese titel “‘n spookstorie”. En dit is ‘n
spookstorie, want die roman met al sy analises van ‘n Suid-Afrika, in 2009
onder militaristiese bewind, spóók in jou gedagtes na die lees daarvan.
Ek
moes na sowat elke vyftig bladsye die boek neersit en eers nadink. Tob. Wonder
oor die verhouding tussen fiksie en werklikheid en die vaart van die
hoofkarakter, Braam Fourie se afdaal in ‘n Kafkaeske hel van dwelms, lokvalle,
verraad, geweld, moord en uiteindelike tronkstraf.(Daar is ook verwyings na die
ander Fourie in ons geskiedenis: Jopie!) Sy sober gesinslewe (onder andere sy
liefde vir sy klein dogtertjie) word geplaas teenoor ‘n donker lewe in ‘n land
waar niemand meer omgee nie en mense aan Vigs sterf. En hoe ironies klink alles
nie juis nou op met die moord op Brett Kebble nie! ‘n Toekomsroman soos Orwell
se 1984 word altyd geplaas in die realiteit, ‘n ‘n presens met ‘n vingerwysing
na wat die konsekwensies van ‘n diktatuur of ideologie kan inhou.
Hierdie leser wil onmiddellik haar kaarte
op die tafel plaas: die verhouding tussen tekswerklikheid en die werklikheid
daarbuite is altyd kompleks en om van hierdie uitsprake, gemaak deur karakters,
op Botha se rekening te plaas, sou onregverdig wees. Salman Rushdie en Michel
Houellebecq het beide al die prys moes betaal vir die implikasies van hul
uitsprake. Dit is egter ‘n komplekser spel tussen fiksie en werklikheid en die
eerste eis moet altyd wees: oortuig dit as verhaal?
Op ‘n eerste vlak gaan lesers gru vir die
gebruik van die p- en k-woord. Ontspan. Dit word alles geplaas by monde in en van karakters wat beheer verloor het
oor hul lewens in ‘n samelewing waar alles so snel gebeur dat daar geen
geleentheid meer bestaan vir nadink of tob nie. Vigs word hier ook as metafoor
gebruik in ‘n Johannesburg waar begraafplase so vol geraak het dat mense
gedwing word om lyke te veras. En nie meer tyd het om te rou of treur nie.
Ons leef in die tyd van onmiddellikheid.
Eerder die Tirannie van Onmiddellikheid en die gevare hieraan verbonde soos
Paul Virilio al uitgewys het. En dit is hierdie roman se grootste bydrae. Om
die filosofie en belewenis van te veel, te hier, te dadelik, op te vang in ‘n
vertelling wat kwansuis met die toekoms te make het. “Things fall apart...”
Botha gaan waarskynlik teëstand en polemiek
ontlok. Dit sou mense eerder baat om te kyk na die komplekse spanninge in die
teks en weer Roland Barthes se “vraisemblance” te betrek. Of om Vestdijk se
teorie van die “glancende kiemcel” te onthou.
Die verteller is die miskruier wat ontsnap.
Hy is die een wat nie van die onwelriekende mis van sy waarnemings kan wegkom
nie.
Is dit wat ons beleef het dalk net ‘n
dwelmvaart? Is dit hoe ons die verhaal ook na interpreteer of is die
hoofkarakter/fokalisator al so afgebreek dat hy sy naam en identiteit verloor
het? Of is hy in die hel? ‘n Slim truuk wat die vertelling oop en méérduidig
maak.
Op bladsy 100 vind die leser immers die
duidelikste kode dat alles in hierdie vertelling gaan om “displacement” en die
moderne mens se onvermoë om psigies te kan reageer op al die blitsige
veranderinge om hom: tegnologie, politiek, ideologie. Ons lees: "Ja. Hy reken
dat die lewe so vinnig versnel het dat evolusie nie meer kan tred hou daarmee
nie. Ons kry nie kans om die verandering van plek, politieke bestel,
tegnologie, whatever, te verteer nie en daarom voel ons onteien en buite beheer
– Brandon het gepraat van ‘displaced’”.
Jaco Botha se vermoë om beeldend te skryf
(daar is niks boekagtig aan sy seks- of geweldtonele nie) is eweneens
lofwaardig. Ligaamlikheid, viscerale reaksie, vomering en wat nog gebeur voor
jou. Jy kan alles ruik en voel.
Dit is ‘n puik roman wat ‘n saamlees opeis
met Atomised en Der Prozess.
Botha het in 1997 gedebuteer met In drie
riviere en Sweisbril (2000) as kortverhaalskrywer en Die rooi rom@n (1999) was
‘n aanlyn-eksperiment met Etienne van Heerden. Dit is, wat my betref, ‘n roman
wat werklik ‘n waterskeiding binne ons prosa aankondig en dit is, soos Henning
Snyman skryf, ‘n uitdagende en baanbrekende roman. Onthutsend is die roman,
omdat dit ‘n ervaring weergee van ‘n jong mens se sinisme, maar terselfdertyd
dwing sy braafheid om daarmee in gesprek te tree, bewondering en respek af.
Naskrif:
Maak u sitplekgordel vas wanneer u hierdie
roman lees!
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]