Monday, February 11, 2013

Cas Vos - Theopoetry of the Psalms (2007)



Cas Vos. Theopoetry of the Psalms. Unisa Teologie, 2007. ISBN 1 86919 098 X.

Resensent: Joan Hambidge

Theopoetry of the Psalms, ‘n boek van die teoloog en digter, Cas Vos, is ‘n studie vir diegene wat belang stel in die eksegese, homiletiek en die digkuns.

Die skrywer gee erkenning aan ‘n wye veld van kenners waarmee hy in kontak gekom het. Dit is ook duidelik dat hy nie alleen teologies na die psalms kyk nie, maar dat sy digterlike oordeel ook ‘n rol gespeel het. “The rich tone of each psalm (poem) must be heard. We need to listen to the way each individual psalm harmonises with the other voices in the choir”.

Vanselfsprekend speel tradisie en resepsie ‘n belangrike rol in hierdie soort studie en die skrywer erken ook die invloed van die sosio-historiese agtergrond wanneer tekste gelees word. Die moderne teologie se skatpligtigheid aan die moderne literatuurwetenskap val ook in hierdie studie op. Dit gaan dus nie net oor emosionele uitsprake nie, maar veral om ‘n soeke na struktuur (vorm & inhoud) in die interpretasie van die gedigte. Kodes en konvensies word dus agterhaal ten einde die digter se poëtika te probeer omskryf. Dit is ‘n geleerde studie, waarskynlik meer bedoel vir die teoloog en letterkundige. Terselfdertyd is dit van enorme belang dat hierdie soort intellektuele bydrae – met ‘n aanskoulike bibliografie – ook in Suid-Afrika verskyn en dat dit die seënwense wegdra van die bekende Niek Schuman wat verwys na Nijhoff se gedig waarin die psalms ‘n interteks word.

Almal van ons is eweneens gevorm deur die psalms en die poësie wat daarin opgesluit lê.
Vos se beheersing van sy veld is imposant. Hy is ‘n gedugte teoretikus wat die leser neem op die intellektuele reis rondom konvensies en hoe alles teoreties benader kan word. Hy verwys ook na sy eie gedig “The glass-blower” onder andere om die liturgie en sy werkinge te probeer verduidelik. Nie alleen verduidelik die digter vir ons iets van sy fabrieksgeheime nie, maar die teoloog verduidelik ook vir die leser hoé konvensies kreatief kan verander.

Hiermee distansieer die digter/teoloog hom dan ook van die sinisme wat dikwels by moderne teologie aantoonbaar is, omdat die sogenaamde wetenskaplike metode neerbuigend is oor die wonder van die skepping.

Die een benadering hoef egter nie die ander uit te sluit nie; om wetenskaplik te dink, beteken nie om kreatiwiteit te minag nie.

Daar word ook verwys na Peter Brook se bekende uitspraak dat daar in die ‘heilige teater’ sprake is van waar die onsienlike sigbaar word. Volgens Vos kan hierdie uitspraak van toepassing gemaak word op ‘n preek waar die teoloog/prediker kennis dra van konvensies.
Die skrywer se belesenheid, nie net van literatuurteorie nie, maar ook onder andere van klassieke Griekse tekste soos byvoorbeeld Antigone, getuig van beleë kennis waarin belangrike verbande vir die leser aangetoon word.

Ook die musiek word betrek: Psalm 150 het musicale komposisies geïnspireer soos van César Franck, Benjamin Britten en ander.

Konsepte soos die anaphora, apodosis, hapax legomenon, ensomeer word verhelder. Dit is ook belangrik dat hy die werk van van wyle Riempies Prinsloo erkenning gee, hoewel die leser altyd sy dood as ontydig sal bly ervaar.

Cas Vos gee tereg erkenning aan T.T. Cloete se skitterende psalmberymings en boonop is die buiteblad na ‘n skildery van Bettie Cilliers-Barnard, “Kloosterskildery” (1939).

Protea Boekhuis het hierdie studie gepubliseer wat hopelik in Tydskrif vir Literatuurwetenskap uitgebreid geresenseer sal word, aangesien hierdie niks meer as ‘n bekendstelling kan wees nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]