Breyten Breytenbach. Die
ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975 – 1983. Human & Rousseau, 2005. ISBN 0 7981 4402 5.
Resensent: Joan Hambidge
Tydens sy politieke gevangenskap vanaf 1975 – 1983 het
die digter Breyten Breytenbach steeds ‘n enorme bydrae tot ons digkuns bly
lewer. In hierdie periode is Voetskrif
(1976) gepubliseer. Ná sy vrylating word die beroemde tronkbundels gepubliseer
waarop kritici en teoretici uitvoerig en sinryk gereageer het. Van die
belangrikste teoretici het geskryf oor hierdie moeilike, ontwykende en selfs
uitdagende gedigte. ‘n Mens dink hier aan die studie van wyle Lisbé Smuts en
die begeleidende kommentaar van Louise Viljoen, om twee belangrike name uit te
sonder.
Die tronkbundels is nie meer beskikbaar nie. En dit is
goed dat dit verskyn ook met ‘n ongepubliseerde gedig ingesluit, “Die glimlag”.
Ampie Coetzee, eweneens ‘n skitterende leser van Breytenbach, verwys na die
“onteenseglike bewys van meesterskap” in hierdie poësie en Brink het veral ten
opsigte van die eerste bundels die Afrikaanse leser touwys gemaak om o.a. die
Zen-Boeddhisme, Surrealisme en ander aspekte raak te lees in hierdie
verbluffende digterskap waarin die “ek” ondermyn en telkens herbevestig word in
die verkleurmannetjie-rol van die digter. Buffalo Bill, Bangai Bird, Jan
Afrika, om twee bekende skuilname uit te sonder.
Coetzee verwys na die eenheid van hierdie versameling
waarin die leser ‘n groot verskeidenheid poëtiese tegnieke vind met die
merkwaardige verwysingsveld (dikwels vir die Westerse leser onbekend en
duister). Ook is dit opvallend, soos Coetzee opmerk, dat ‘n mens ‘n enorme
kennis aantref van iemand wat afgesluit was van biblioteke èn kontak met die
lewende taal.
Juis hierom, meen ek, is daar soveel herskrywings of
self-parodieë aanwesig. Die herskrywende digter besig met ‘n bestekopname van
sowel sy lewe as sy digkuns. By Breytenbach is die een egter altyd die ander.
(Ook in sy skilderkuns vind ‘n mens hierdie spel met spieëltekste.)
Hierdie versamelbundel vra dan ook vir ‘n saamlees met Ysterkoei-blues (2001) om juis die
toespelings op verse tussen 1964 – 1975 te begryp. Voetskrif, Lewendood, Buffalo Bill, Eklips, Yk en Boek behoort tot die jongste
versameling waarin die leser telkemale onder die indruk kom van die beeldvernuf
en –vaart. Breytenbach is eenmalig en ‘n waterskeidende digter wat die poëtiese
landskap van die kanon verander het soos min digters vóór of ná hom.
“ek is hier, parodie” gaan dan ook terug na die
openingsvers in Ysterkoei. Nou is hier “’n arme B.B.” aan die woord, “sadder
and wiser”. Daar is geweldig baie imposante verse in hierdie bundel en die
digter se herskrywings van ander digters se gedigte word met soveel vaardigheid
gedoen. In hierdie opsig dink ‘n mens aan ‘n vers soos “’n fragment van Rilke
se Die neënde elegie uit Die Duino-elegieë” of die gesprekke met Paul Celan,
Yehuda Amichai, Paul Verlaine, Cesare Pavese, om ooglopende name uit te sonder.
Of die digter vergas ons ook op die sogenaamde “nonsense
vers”, soos in “dames en here” sonder die appels of pere. Die gedigte word ook
soms van voetnote voorsien om die herskrywing of herdigting aan te toon. Hierom
speel die parodie ook ‘n belangrike rol in die digkuns (“ek is hier, parodie”)
en by herhaling is hierdie digter se beeldvaardigheid al besing en sy taalspel
geloof(“koring soos deug op die land”) sodat die dubbel-beeld bly spook en
nadraai. Ook die aanspreek van die self (“Arme B.B.!”) en die volledige
vermindering en verminking van die ‘ek’/’yk’ is opvallend. Een van my
gunstelingverse is “die dronke digter ontmoet sy eggo in die woordraaisel” waar
‘n blokkiesraaisel uit Rapport op
Sondedag (sic!) 9 Mei die basisteks vir die gedig vorm.
Ook die geliefde Yolande tref is ons aan: “vroemôreverjaardagvers”
– by die huweliksherdenking waar die verband tussen beeldende kuns en digkuns
uitgebou en as ‘n soort illusie en koestering afgemaak word. Die geliefde moet
die skilder/skiller (ook kuller!) onthou en weet dat die gedig ‘n soort skyn
is.
Ook die oorlewingsdrang, die digter uitgelewer aan magte
en drifte buite hom, is ‘n belangrike tema (“wat tel”) waarin Lorca, Rimbaud en
Majakofski aangespreek word:
Wat bewys dat hulle miskien wys was in die woorde
van poësie
maar fataal min wis van oorlewing
Nie net buitelandse digters word geprys, by die naam
geroep, vertaal of geparodieer nie. Ons vind ook die welbekende gesprekke met
Opperman, die gesprek met ons verseboek, ‘n huldeblyk vir I.D. du Plessis en
die allamagtige gesprek met Peter Blum:” ballade van ontroue bemindes”.
Ook is
die verse nostalgies en driftig in aanbod; vol emosie gelaai (dit is immers
geskryf in tronkballingskap) en woede, selfs opstand. En terselfdertyd soms
teer in die weerlose beeldgebruik waarvan min ander BB kan nadoen. Die
vernuftige gebruik van Die Bybel en halleluja-lied is eweneens opvallend hier,
soos die fyn beheersing van moeilike digvorme soos die villanelle. Min digters
skryf so uitvoerig oor die dood en bevestig terselfdertyd die lewe in hul
digkuns as Breytenbach:
alles wat in jou gekom het sterf
en wat uit jou beweeg het val weg en verval –
slegs die finale integrasie en illuminasie vergaan nie:
my eie dood is ek (p. 206)
Dit is ‘n ryk, opwindende versameling vir na-lees en
na-dink. Elke leser van die Afrikaanse poësie behoort ten minste hierdie
versameling aan te skaf van ‘n voorste en briljante digter.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]