Ingrid Jonker. Black
Butterflies. Selected Poems. (Translated by André Brink & Antjie Krog). Human
& Rousseau, 2007. ISBN 978 0 7961 48924.
Resensent: Joan
Hambidge
Jare gelede lees
ek ‘n onderhoud met die begaamde digter, James Dickey wat kort en klaar bely:
hy vind die gedigte van Sylvia Plath pateties. Verontwaardig was ek toé. Hoe
durf hy!
Elke jong leser,
en veral digter, kom onder die indruk van die Lorelei-Jonker. Sy het onder
andere ‘n groot invloed op Johann de Lange se Waterwoestyn gehad en vir vele
jong digters is sy ‘n ikoon.
Vir jare het ek ‘n kursus, “Die gedig as wond” aangebied oor Jonker en Plath. Met Johan van Wyk se siening in die agterkop dat die teks-Jonker die geboorte- en sterfdatum is. Met die jare het sy goddelike status in Afrikaans verwerf nadat Mandela “Die kind” voorgelees het. En Jonker is verewig in dokumentêre, onder andere waar Krog haar gedigte voorlees: gevoelig en pragtig.
Vir jare het ek ‘n kursus, “Die gedig as wond” aangebied oor Jonker en Plath. Met Johan van Wyk se siening in die agterkop dat die teks-Jonker die geboorte- en sterfdatum is. Met die jare het sy goddelike status in Afrikaans verwerf nadat Mandela “Die kind” voorgelees het. En Jonker is verewig in dokumentêre, onder andere waar Krog haar gedigte voorlees: gevoelig en pragtig.
Ek is nou waar
Dickey met Plath was in die tagtigerjare. Ek kan nie meer nie. Die laaste
verhandeling oor die argetipes by Jonker, Plath en Anne Sexton is sopas deur my
begelei. Wat is Jonker? Wat is mite? Waar, verdomp, is die teks?
Dus het ek
uiters langtand begin lees aan hierdie versameling, maar dit is so oorrompelend
goed gedoen deur Brink, ‘n romanskrywer wat op sy dag ‘n paar verse gepleeg
het, en Krog, ‘n voorste digter. Op die agterblad word Mandela se woorde
aangehaal dat Jonker sowel digter as Suid-Afrikaner was; kunstenaar en mens. Te
midde van wanhoop, het sy hoop en vooruitsig gevier.
Daar is min
digters wat kan vertaal. Johann de Lange is ‘n skitter-vertaler: dit het die
onlangse Wilma Stockenström-bundel bewys.
“I shall tell
him that you have not died” (p. 86) gee aan Jonker ‘n volgende lewe in ‘n nuwe
vertaling deur twee sensitiewe lesers. Een wat haar persoonlik goed geken het;
die ander een wat haar invloed (h)erken.
Soos te verwagte
kan ‘n mens nie die eg-Afrikaanse aard van Jonker vertaal nie. Hierom sal daar
dan “code switching” plaasvind soos in die volgende gedig wat sowel Engels as
Afrikaans in sy pensie dra:
Two hearts
Two hearts I
have
the one pumps
blood
and the other
really looks like
an
appelliefiekosie
or a
paddatjie (p. 111).
Die sterk
seksuele innuendo sou dus met ‘frog’ verlore geraak het en daar is sekere
woorde en begrippe wat on-vertaalbaar is.
En paddatjie is
nie, terloops, die word vir ‘n dogtertjie se geheimenis nie; dis parratjie, as
ek reg onthou.
Sekere Jonker-verse is makliker vertaalbaar; ander, veral wanneer sy oor die liefde of die dood dig, beweeg in ‘n donker onbewustelike ruimte in wat nie sommer maklik onder die vertaalde woord wil val nie.
Die versameling bevat ‘n uiters openbarende en sensitiewe essay van Brink oor hul stormagtige verhouding en Jonker se jeug. Hierdie gedoemde verhouding het wel tot een van die mees kreatiewe verbintenisse in Afrikaans gely, ofskoon die persoonlike ellendes – veral vir Brink – uiteraard nog nooit volledig gekwantifiseer is nie.
Ted Hughes kon eers al die tonge stilkry na Birthday letters toe sý kant van die saak gestel is. Plath is nie meer die engel nie; Janet Malcolm het immers gewys in The silent woman dat daar nie een Plath is nie, maar verskillende weergawes, poppies in die matrioska.
Brink vertel
hier dan sy weergawe van Jonker se verbintenisse met Jack Cope, Uys Krige, e.a.
Hy vertel van die aborsie wat haar lewenslank sou bybly, veral
gesien teen die agtergrond van háár lewenslange gevoel van verwerping en
verlating. Is daar ‘n woord wat “abandonment” goed genoeg opsom?
Hoe ironies dat
sy dig “To stow myself away like a secret / in a sleep of lambs and of
cuttings” (“L’art poetique”, p. 94), terwyl sy juis uit die slaap gehou word
met al die interpretasies / films / vertalings / analises wat steeds bly duur.
Dieselfde lot as James Dean, Marilyn Monroe en lady Di het haar getref: mense
bly projekteer en verhef hul tot simbole.
“Kantelson” word
“Tilting Sun” (mooi!) en daar is etlike vondse vir die liefhebber van die
digkuns. ‘n Mens sou egter ‘n Afrikaanse gedig en Engelse vertaling verwag het,
sodat jy kan vergelyk. (Uiteraard is die bundel in die eerste instansie vir ‘n
buitelandse gehoor bedoel.)
Die bundel is
uitstekend vertaal. Die voorwoord is oorrompelend eerlik geskryf en al my
weerstande en sugte is met hierdie bydrae van Brink afgebreek. Ek kyk met nuwe
oë na haar. Die inleiding wys op haar obsessie met spiels, na skryf as
herbevestiging – trouens, ‘n mens sou bundel net kon aanskaf vir hierdie
insigryke essay. (In minder vleinde terme sou ek aan haar kon dink as ‘n
“border-line disorder”-persoonlikheidstipe.) Tereg wys Brink op die gebreke in
die Plomer- en Cope-vertalings. Brink en Krog kon ook hier staatmaak op Ingrid
de Kok, die Engelse digter, se raad.
Bitter-berry
daybreak
Bitter-berry
daybreak
bitter-berry sun
a mirror has
broken
between me and
him…
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]