Karel Schoeman. Na die geliefde land. Human & Rousseau, 2007.
ISBN 07981 4828 4.
Resensent: Joan Hambidge
Karel Schoeman
se naam word gekoppel aan grootse romans en die keuse van Na die geliefde land as een van die klassieke romans, mooi verpak
deur Human & Rousseau, vra geen teëspraak.
Trouens, as
romanskrywer het hy met ‘n Ander land
‘n pendant gelewer. Oor Na die geliefde land het een van my
gunstelingskrywers, Graham Greene, hoog opgegee en sy waardering vir Etienne
Leroux het ‘n belangrike impetus gelewer vir Leroux se posisie en status in die
buiteland.
Land en landskap
is belangrike noemers in Schoeman se werk.
Hierdie roman is
verfilm as Promised land (2002)– ‘n
film waaroor daar wye debat en kritiek was. Die film is wel by die vyftiende
inetrnasionale filmfees in Tokio bekroon vir die beste draaiboek.
Louise Viljoen
wys tereg in haar kort, dog knap inleiding op die visionêre aspek van die roman
wat gesien kan word as ‘n herskrywing van die plaasroman. Hierdie roman
aktiveer al die angste en kwessies rondom (wit) mense se vrese wat waarskynlik
veral in nuwer romans uitgespeel word, soos in Eben Venter se Horrelpoot en Jaco Botha se Miskruier.
Om ‘n roman uit
‘n ander tydperk te lees, kan òf ‘n teleurstellende òf ‘n aangename
leeservaring tot gevolg hê. Omdat Schoeman as’t ware hier op ‘n belangrike aspek van die Afrikanerpsige
inspeel, naamlik die plaas (hier Rietvlei) en die vrese vir oormag – wat hier
waar geword het – kan die leser nie anders as om dit te koppel aan die
politieke werklikhede van toe en nou nie. Trouens, dit was Jakes Gerwel wat al
by herhaling daarop gewys het dat Schoeman juis een van ons mees gepolitiseerde
skrywers in Afrikaans is – selfs wanneer hy nie oor die politiek skryf nie.
Die lees van
hierdie roman bring duidelike opposisies in die Schoeman-oeuvre na vore:
eensaamheid teenoor saam-heid; vreemdeling/buitestaander teenoor ingeburgerde. George uit Switserland keer terug na die familieplaas, wat inmiddels
verwaarloos is. Sy herinneringe aan sy gesofistikeerde bestaan in die buiteland
word in jukstaposisie geplaas met die eenvoudige bestaan van die
agtergeblewenes.
Sy lewe as kind
van ‘n diplomaat was eensaam, met herinneringe aan ‘n afstandelike moeder wat
in vreemde woorde met ander kommunikeer.
Hy is ‘n
“displaced”-persoonlikheid, wat terugkeer na ‘n huis waar hy as jong kind
gewoon het – ‘n huis wat in Freudiaanse terme ‘n simbool is van hom: verlate,
afgetakel, bekend, maar terselfdertyd bevreemdend.
Die Verlore
Seun-motief is duidelik aanwesig en die leser wat nou hierdie roman lees met
die wete van wat Schoeman hierna sou publiseer,
lees bykans ‘n soort werkboek waaruit Afskeid en vertrek sou ontspruit. Opvallend is die gebruik van die durende
werkwoord ( skuifelend en pratend en murmelend en tikkend, p. 69) om die proses
waarin almal vasgevang is, weer te gee. Die bekendste nie-kommunikatiewe aspek
van karakters word eweneens hier aangetref – mense wat geheime met hul ronddra
en boeke wegsteek wat troos moet bring. Op
‘n eiland met die uitspraak dat daar grense tussen mense is, word hier
uitgespeel.
Trouens,
Schoeman se romans werk met ‘n iteratief-duratief: van mense wat gestolp is in
hul lewenswyse, eensaamheid, onsekerhede.
George se reis
word as ‘n pelgrimstog gesien (p. 149) met al die implikasies wat dit inhou en
die skerpsinnige leser kan nie help om te glimlag wanneer hy /sy lees dat ‘n
inskripsie voor in ‘n boek deur ene J. Human (die uitgewer van die roman se
naam!) gemaak is nie.
Schoeman soos
C.M. van den Heever (veral Laat vrugte)
het ‘n belangwekkende bydrae gelewer tot die sub-genre van die plaasroman. Alle
jonger skrywers werk vanuit hierdie twee romans en dit sou ‘n lonende studie
wees om die (onbewuste) invloed van hierdie roman op Horrelpoot te ondersoek waar die vrees werklikheid geword het.
Dit was ‘n onbetwiste
lonende leeservaring.
Die omslagfoto
van Lien Botha is uiters treffend.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]