Kazuo Ishiguru. Nocturnes: Five Stories of
Music and Nightfall. Faber &
Faber, 2009. ISBN 978 0 571
244997.
Resensent: Joan
Hambidge
Daar is maar één
Ishiguru. Ons dink aan Remains of the
day wat ook wonderbaarlik verfilm is met Emma Thompson en Anthony Hopkins
wat daardie kragtige, erotiese toneel oor ‘n boek so goed vertolk. Die gebeurde
wat afspeel rondom die boek wat uit die geliefde se hand speels gegryp word. Of
‘n mens gaan weer terug na die pakkende Never
let me go.
Sy jongste versameling
kortverhale heet Nocturnes: Five stories
of Music and Nightfall. Die
kortverhaal maak dikwels weens sy digterlike aanslag aanspraak op die tegnieke
van die musiek soos herhaling of refreine. In hierdie versameling is die musiek
die interteks of dit wat die verskillende tekste bind.
Dit is inderdaad
verhale van die wending, van karakters wat tot selfinsig of –konfrontasie
gedwing word.
In die eerste
verhaal “Crooner” word die gegewe in Venesië gesitueer. Liefdesopbreuk en
–(on)trou word verhelder met die verwysing na musiek: ons verneem die verteller
het op een middag “The Godfather” nege keer gespeel in ‘n orkes. En dit is ‘n
belangrike sleutel vir die begryp van die verhale, te wete herhaling, refrein
en verskillende instrumentele weergawes.
As die verteller
dus bely dat hy, soos Emily, hou van Broadway-songs, moet die leser haar
Streisand- en Sinatra-kennis afstof. Die liedjies draal dus in jou gedagtes en
word ‘n ‘short hand’ vir die begryp van die verhale. (Ek het een keer ‘n MA in
Kreatiewe Skryfkursus beoordeel waarin die skrywer voorgestel het dat die leser
telkens na bepaalde musieksnitte moes luister ten einde die toon of ambience van die vertelling te
versterk.)
“Malvern hills”
wentel rondom weerwraak en die ontmoeting met twee vreemdelinge vertel vanuit
die perspektief ‘n jongeling wat by sy suster tuis gaan en met vreemdelinge in
interaksie tree.
Die skrywer het
kennelik ‘n voorliefde vir die aweregse: ‘n skaakbord wat uit Meg Ryan-stukke
bestaan (“Nocturne”) of ‘n man wat speel asof hy ‘n hond is om sy eie bas te
red (“Come rain or come shine”) of ‘n tjellis wat nie die tjello kan speel nie
(“Cellists”)!
Venesië, Londen,
Beverly Hills is van die ruimtes wat bestryk word in die verhale wat telkens
vanuit die eerstepersoon-perspektief vertel word. Tipies Ishiguru is daar wat
‘n mens skrywerswyshede kan noem:
“And the way he
gestured with his finger, calling for a waiter, there was something – maybe I
imagined this – something of an impatience, the off-handedness that comes with
a certain kind of bitterness” (220 – 221). Ten minste het hierdie verhale my
weer teruggeneem na Frank Kermode se A
sense of an ending veral omdat die eind-verhaal jou terug dwing na die
eerste verhaal.
Die verhale
handel oor onvervuldheid of is humoristies: ek meen hoe dan anders as ‘n
beeldjie in ‘n kalkoen se maag land? Die verhale weifel dikwels ook op die rand
van die absurde. (Twee geliefdes loop met verbande oor hul gesigte rond!) Of
verhale eindig op ‘n onverwagse noot.
Daar is dan die
onverwagse wending (dénouement), dikwels die kenmerk van die ervare
kortverhaalskrywer wat die mat onder jou voete ruk. Hier neem Ishiguru dit
selfs verder: in die slotverhaal eindig die verhaal met ‘n moontlikheid of oop
slot: as die persoon sou terugkeer, dan sal daar ‘n gesprek gevoer word.
Ishiguru is in
1954 in Nagasaki gebore en woon sedert sy vyfde jaar in Brittanje. Hy het al
die gesogte Booker-, Whitbread- en die Chevalier de l’Ordre des Arts des
Lettres ingeoes. “You’re the top!”, het
ons saam met Barbra Streisand geneurie met sy pakkende romans. Dit ten spyte
van die leesbaarheid van die verhale en die enorme musiekkennis. Five stories
of music and nightfall heet die subteks en die nokturne, is ‘n musikale
komposisie wat deur die nag geïnspireer is of in die aand beluister word.
You're
the top - you're the Colisseum.
You're the top -
mmm... you're the Louvre museum.
You're a melody from a
symphony by Strauss.
You're the top -
mmm... you're the Louvre museum.
You're a melody from a
symphony by Strauss.
Met hierdie
kortverhaalbundel, die slimmighede ten spyt, voel die leser dikwels dat
Ishiguru eerder ‘n skrywer van romans is.
Dit is die
outeur se sewende boek.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]