Wednesday, February 27, 2013

Gilbert Gibson - Boomplaats (2006)



Gilbert Gibson. Boomplaats. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN 0 624 04262 6.

Resensent: Joan Hambidge

So nou en dan word ek oorval met ‘n onvermoë om te kan slaap. En in een van hierdie tydperke, staan ek eenuur in die oggend op, loop kombuis toe, skakel die komputer en koffiemasjien aan en begin Boomplaats van Gilbert Gibson te lees. Wat ‘n verruklike, wonderbaarlike, oorrompelende leeservaring is dit nie. Dis later drieuur. Ek is nog steeds wakker en ek probeer bepaal: presies wat maak van ‘n gedig ‘n gedig?

In die vroeë oggendure formuleer ek dit dan so: die digter se vermoë om die onsê-bare te verwoord. Om die stilte wat agter alles lê, neer te skryf. Daardie primordiale iets wat onaantasbaar is, dit wat agter die vervlietende lê... Die mens se soeke na betekenis in ‘n lewe wat oorval word deur chaos, waansin, pyn, verwerping en verlies.

In die donker is alle katte grou en die volgende oggend, met die breek van die daglumier, herlees ek die verse en besef die digter het my nie in die donker nag mislei nie. Die verse is steeds helder en sterk.

Gibson het destyds in Nuwe Stemme 2 opgeval. Hy gebruik die Boere-oorlog, ou gesegdes, Totius om sy eie verse te laat lewe kry. Omdat hy medikus is, speel die mediese wetenskap dikwels ‘n rol in sy gedigte.

Daar is min digters wat so oortuigend die interteks op ‘n verhulde en terselfdertyd openlike manier aanwend as hierdie digter. Daar is soveel verse in hierdie bundel waarvan ek doodgewoon hou. Die slim spel met sy tradisie lei ons reeds af uit die titel wat natuurlik die Slag van Boomplaats op 29 Augustus 1848 aktiveer. Die mooi bandontwerp betrek ook gedigte: die omslag wys op die laaste oomblikke van iemand wat tereg gestel is en die voetspore is in die grond; net soos ‘n vers – in navolging van Van Wyk Louw, Cussons, De Lange – gewoon net ‘n natrek in die stof is.

Die Slag van Boomplaats kry eweneens ‘n ander ironiese wending wanneer ‘n mens weet dat die monument wat opgerig is, nou onlangs deur vandale beskadig is. By hierdie slag is die eerste Kaapse rebel tereg gestel na die geveg in die Trans-Gariep. Hierdie man is geskiet voor die Bloemfonteinse stadshuis. Terselfdertyd is daar bittermin oor die Slag geskryf. (Die digter gee ‘n plattegrond van die plek voor in die bundel.)

Waaroor het hierdie stryd gehandel? Natuurlik oor ‘n Britse goewerneur, ene Harry Wackelyn Smith wat die TransGariep geannekseer het en die Voortrekkers in opstand gebring het. Die Vrystaters het hulle teen hom verset. In hierdie stryd, onder leiding van Andries Pretorius, het ‘n senuweeagtige Boer ‘n voortydige skoot afgevuur en is die Boere dus bittergou afgeransel. Ene Thomas Hermanus Dreyer het weggehardloop en deur die Britte as krygsgevange geneem en in die krygshof tot rebel veroordeel. Hy is gefusilleer op 4 September 1848.

Op ‘n uiters subtiele wyse speel hierdie geskiedenis in op die gedigte sodat die leser as’t ware twee tekste voor hande het: die ouer, historiese teks en die nuwe, moderne lewe van ‘n internis wat gedigte maak. Die leser kan dus self die drade saamtrek van hierdie subtiele eenheidsbundel. Dit word nie oordadig en soos die Engelse sê “in your face” uitgespeel nie. Dit is juis die subtiele aanbod wat so puik werk. Vir die non-mediese kenner is daar ‘n handige glossarium wat van nut is.

Daar is uitstaande verse in hierdie bundel soos “schurveberg”, “stil huis; sutherland”, “’n mens kan ‘n plaas klein bêre”, “oom was ‘n sinjaleman”, “wildeals”, om enkeles uit te sonder. Vir my was dit lekker – om in die staat van insomnia – ouer digters raak te lees en te sien hoe hy veral met Totius werk en ‘n kniebuiging maak (o.a.) na gert vlok nel in “oom was ‘n sinjaleman” of die digter se verlange na kindwees en sy herinneringe vaslê in ‘n “n mens kan ‘n plaas klein bêre”.

Die bundel maak ‘n sterk stelling oor die stand van die digkuns en die digter se lot.
Die jongeliede wat so kla en kerm dat hulle nie uitgegee word nie en moet wag na hulle pogings in Nuwe stemme, kan gerus hierdie bundel gaan lees. Dit is iemand wat werklik die beloftes van ‘n groepsdebuut manjifiek bevestig. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]