Marita van der Vyver. Stiltetyd. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN: 0 624 0 4432 7.
Resensent: Joan Hambidge
Sy is Marita, nie Van der Vyver of
Rachelle Greeff nie. ‘n Volksheldin, ‘n skryfster, ‘n vertolker van die gewone
vrou se vreugdes, smarte en drome. Die vrou met die rooi rok.
Die vrou wat op die Franse platteland
woon met haar aangelapte gesin en met ‘n Fransman getroud is.
Griet skryf ‘n sprokie het die
verbeelding aangegryp en nog nooit het ‘n boek so verkoop in Afrikaans nie.
Hierna het Griet weer gekom, was daar ‘n Wegkomkans,
Bestemmings en vele essays. Die jongste roman heet Stiltetyd met ‘n foto op die voorblad van ‘n jong dogtertjie in ‘n
rooi jassie wat (onbewustelik) Don’t
look now, die film van Nicholas Roeg, aktiveer. Dit is ‘n film waarin ouers
die dood van ‘n kind moet verwerk, nes in hierdie roman, met sy kitsch-titel
waarin Hester Human en haar argitek-man ‘n jaar in Provence deurbring, met ‘n
tienerseun, om die moord op hul dogtertjie te verwerk.
Van der Vyver skryf helder, meesleurend
en haar plot-lyne is perfek uitgewerk. Sy verwys na Dante se Inferno, daar is ‘n Beatrice en haar
pynlike ervaring word gesinkopeer met ‘n mense om haar se ellendes. Van ‘n
weeskind uit Rwanda tot Myriam, ‘n vrou uit Afrika, wat haar kinders vermoor
het en in wie Hester (Hestertjie Haarnaald?) ‘n pendant vind. Tussendeur is
daar etlike verwysings na Afriakanse rympies en gedigte, etlike toespelings
o.a. op Buster Keaton of Charlie Chaplin en ‘n santekraam van inspelings op
tekste: kinderverhale en die stories van ons lewe.
Op die agterplat word daar geskryf –
deur ‘n kritikus van die Cape Times – dat Marita van der Vyver ontpop het as
“een van die beste Afrikaanse skrywers”.
Waarskynlik as een van die beste
populêre skrywers, moet ‘n mens onmiddellik byvoeg. Gaan lees Anita Brookner,
onder meer, om te sien dat die vroueroman nie seepglad hoef te wees nie. En dit
is my grootste punt van kritiek teen hierdie roman. Dit is alles só perfek
uitgewerk: dieselfde geld Sewende laan.
Jy het ‘n struktuur, ‘n intrige wat deurloop en opgevang word deur ‘n volgende
een wat ‘n spieël word van die eerste een, ensomeer.
Die skrywersfoto van Van der Vyver
onderstreep dat hierdie roman nie vir my bedoel is nie. ‘n Dansende Marita met
‘n Gatsby-punt rok...
Daar is waarskynlik altyd ruimte vir
alle soorte tekste binne ‘n letterkunde, maar as ernstige literatore hierdie
soort roman óphemel, moet ‘n teenstem uitgebring word. Die boek is vlot
geskryf, maar ek mis die “bloody horse” van ‘n groot roman.
En as daar redes gesoek moet word vir
Van der Vyver se suksesverhaal is dit waarskynlik haar mitologisering van
Frankryk, die inspeel op die ewige droom dat Frans ‘n “mooi” taal is (Allo!
Allo!) en dat almal droom om in Provence vir ewig en altyd in geluk te lewe. Sy
gebruik al die regte bestanddele vir haar lesers: die inspeel op die
moorddadige Suid-Afrika waar niemand meer veilig is nie; die dood van ‘n kind;
die inbring van Afrika-kwessies; moedermoord, e.d.m. maar sans intellektuele diepte. Die eggenoot is ‘n argitek en hulle
restoreer ‘n huis. Hoe simbolies!
‘n Ou aanhalinkie uit Dante – nogals in
Italiaans – verwysings na ander tekste, behendige afwisseling in perspektiewe,
ensomeer.
Lees hier:
“Die onsekerheid, die ongeloof, die
verdwasing. En toe, in die hospitaal, die lewelose vyfjarige lykie. Die
rooibonde krulle wat klam teen die voorkop kleef.” (p. 310).
En die clichés, kan ons byvoeg.
En wanneer Hester pyn ervaar, klink dit
so:
“Sy knyp haar oë toe en druk haar hande
oor haar ore terwyl haar bolyf begin ruk asof sy wil braak. Maar al wat uitkom
toe haar mond oopgaan, is ‘n hoë kermende, onmenslike geluid, soos ‘n loeiende
sirene. Soos die ambulans daardie snikhete middag in hulle boomryke straat in
Kaapstad geklink het”, p. 88.
Bestemmings het myns
insiens in sy slotverhaal veel meer aangrypend met die dood van ‘n kind gewerk
(“Kringvlug”). Dalk omdat dit uit die hart geskryf is?
En nie dat my kommentaar die verkope sal
stuit of ‘n kritiese vraag sal laat opduik nie. Wat is die titel van die
volgende roman? Boekevat?
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]