Tuesday, February 26, 2013

Ian McEwan - Saturday (2005)



Ian McEwan. SaturdayJonathan Cape, 2005ISBN 0 224 07299 4.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Dag in die lewe van ‘n man is waarskynlik reeds deur James Joyce in Ulysses vermitologiseer en deur Saul Bellow in sy romans, soos The adventures of Augie March of Herzog. En dis nie om dowe neute nie dat Herzog van Saul Bellow hier as motto gebruik word. As doelbewuste rigtingwyser vir die dag, ‘n Saterdag spesifiek, waar ‘n neurochirurg se ervarings weergegee word. In ‘n derdepersoonsperspektief met Henry Perowne, die fokalisator, wat eerstens oorweldig word deur ‘n vuurbol op ‘n vroeë Saterdagoggend, dan besef dis ‘n vliegtuig wat in die moeilikheid is en tog met liefde kyk na sy slapende vrou. 

Op pad om muurbal te gaan speel, raak hy in ‘n klein botsing betrokke en ‘n onderonsie met boewe (so tipies Bellow as wat kan kom: ‘n mens dink hier aan die motor met sy duike in Humboldt’s gift) verander sy dag. Die denkende, sensitiewe mens uitgelewer aan die wêreld van geweld en terrorisme is dus ook hier die onderbou in ‘n herkenbare, moderne Engeland, met Tony Blair as ‘n kortstondige aanwesige. Behalwe dat McEwan se held glo daar is vooruitgang op aarde, omdat hy ‘n wetenskaplike is en kan sien wat hy op ‘n alledaagse vlak vermag. Trouens, sy dogter se siening van die lewe en haar studies in die Geesteswetenskappe, verminder en kritiseer hy. Sy seun, ‘n begaafde jazz-musikus, is ook ‘n ander pendant vir sy uitlatings oor die sin van die lewe.

Op ‘n briljante wyse tree McEwan se hoofkarakter in gesprek met ander skrywers, wat hy onder meer lees op aanbeveling van sy dogter. (Daar is onder meer ‘n hoogs ironiese toneel in die roman wanneer hy haar subtiel daarvan beskuldig dat sy ‘n gedig geplagieer het.) Ook die verhouding met die ouer digter, en sy jaloerse reaksie op ander digters, ene Grammaticus, sy skoonvader  – met verwysing na resente Britse digters soos Hughes en James Fenton – gee ook ‘n raak beskrywing van digterlike wedywering.

McEwan se karakter word ook téén Flaubert geplaas en ons weet uit ‘n onlangse vete wat die werklike skrywer met sy vrou gehad het (en haar grensoorskrydende aantygings op die internet) hoé skrywers put uit lewenservaring en “die werklikheid”. Die roman word by herhalings as realisties gekodeer in die nougesette beskrywing van die stad, ‘n motor en hoe die hoofkarakter onder meer kos berei.

McEwan het veral bekendheid bereik vir sy beskrywings van die donker of skadukant soos in sy roman The comfort of strangers, ‘n reël wat inspeel op Blance Dubois se belydenis teen die slot van A streetcar named desire.

In Atonement  - wat hy ongelukkig bederf het met ‘n maklike “cop-out”-slot - het hy ook sy verbysterende insig in die menslike psige verraai. In Saturday maak hy ook van die digkuns gebruik om ‘n boef te stuit, en meer spesifiek, Matthew Arnold se “Dover beach”. Soos wat Anthony Hecht op hierdie magistrale vers inspeel met sy “armies of the night”, moet vele stellings en uitinge in Saturday gelees word as ‘n antwoord op die briljante Saul Bellow. 

Bellow is nou onlangs oorlede en hierdie roman is ‘n huldeblyk aan die Chicago-boorling. Hoé dokter en boef weer bymekaar uitkom op die operasietafel, is waarskynlik ‘n briljante kommentaar op die volgehoue spel met lig en donker, ego en skadukant, in ‘n roman wat bewondering afdwing. Tereg bedank hy Craig Raine, ‘n voorste digter, vir die verse wat hy aangepas het en vir sy voortydige kommentaar! Die vorige Mevrou McEwan het op die internet gekla dat hulle huwelik verwoes is deur haar man se letterkundige vriendskappe. Die roman gee egter ‘n liefdevolle blik op die intieme verhouding en bystand in ‘n huwelik. Dalk fiksie?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]