Sunday, January 31, 2016

Joan Hambidge - Glory glory halleluja [Brief]

Ingrid Glorie

Glory glory halleluja

Daar woed tans 'n tsoenami op Facebook oor JB Roux se resensie van Chanette Paul se Offerlam wat verlede week in Rapport-Weekliks verskyn het. Die boekeredakteur van Beeld, Jo Prins het my vir 'n reaksie gevra wat ek so verwoord het:

“Dit is waarskynlik ook die reg van ’n skrywer om vriende en volgelinge op Vuisboek in te span om die resensent af te maak as nydig of oningelig.

“Indien die boek goed is, oorleef dit ’n swak/onkundige/oningeligte resensie. Wanneer die boek as negatief getakseer word, is die resensent onkundig. Andersom is die resensent briljant, lieflik, enig in sy/haar soort.

“Me. Paul is ’n gevestigde, populêre skrywer en haar reputasie behoort nie deur een resensie beskadig te word nie.

“Goeie publisiteit. Een resensie het nou kleintjies gekry.”  (Beeld, 27 deser).

Skaars was my reaksie daar, of Ingrid Glorie kritiseer (op Jo Prins se Beeld-facebookblad) my as sou ek JB Roux verdedig het met sy feitefoute en mistastinge oor die roman. 'n Mens sou kon vra of Me. Glorie my neutrale reaksie begryp het?

Ek het nie vir Roux opgekom of teen Chanette Paul gedraai nie. Ek het gewoon net gewys op die bedryf en hoe dit daar uitsien.

Kollega digter en vertaler Daniel Hugo het die volgende geskryf in dieselfde berig:

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat lesers ‘gewaarsku’ word teen ’n boek wat op geen manier – polities, sek­sueel of godsdienstig – grensoorskrydend is nie.
“Dit klink of die resensent aan ’n soort grootheidswaan lei. Hy het in vorige resensies ook al bewys dat hy onbevoeg is om ’n boek regverdig te beoordeel.”

Selfs Crito het verwys na die "hovaardige resensie" van Roux (26 deser).

Ek staan dus by my oorspronklike stelling - 'n polemiek rondom 'n boek (die spreekwoordelike kleintjies) mag verkope stimuleer.

Dis al.

© Joan Hambidge


Monday, January 25, 2016

Wilhelm Knobel – Die ongewapende man op 80 in vertaling (The unarmed man in translation) (2015)

Wihelm Knobel

Wilhelm Knobel – Die ongewapende man op 80 in vertaling (The unarmed man in translation). Bel Monte Uitgewers, 2015. ISBN 9 780620 685115

Resensent: Joan Hambidge


Wilhelm Knobel het Salvatore Quasimodo se “en skielik is dit aand” vertaal in 1961:

Elkeen staan alleen op die hart van die aarde
deur ‘n straal van die son deurboor
en skielik is dit aand.

Hierna het ander digters ook op hierdie reëls digterlik kommentaar gelewer, en ofskoon Knobel dit in Afrikaans vertaal het, behoort dit aan Quasimodo, die Italiaanse liriese digter (1901 – 1968). Knobel se verse is eweneens liries; soms surrealisties; ander kere intiem in die verkenning van die binne-landskap.

Die ongewapende man op 80 bevat ‘n handvol vertalings van Knobel se gedigte met kommentaar van literatore agterin opgeneem, soos Petra Müller wat meen dat hy as “vervloekte” digter op eweveel aanspraak kan maak as Ingrid Jonker. Sy het dit dan oor die “verval van die gemoed” en ingeligte lesers is bekend met Knobel se sensitiewe psige en manies-depressiewe gemoed.

Ander literatore se tersaaklike kommentaar word ook opgeneem soos J.C. Kannemeyer, Louise Viljoen, Johann de Lange en Marius Crous.

Die titel kom uit “Brief vir Breyten” wat hy afsluit: ”Die gekheid kom nie soos ‘n gewapende man nie.”

Vir my is Knobel die digter van ‘n handvol uitstekende verse en hierdie bundel vertalings stel hom bekend aan ‘n wyer leesgehoor. In die kolofon word daar vermelding gemaak van vertalings deur die digter se broer, die vertalers Gisela en Tony Ulyatt, en in die teks is daar ‘n vertaling deur die digter self en C. Bennett. Die afkorting CJFC staan vir die bekende digter en vertaler, Charl JF Cilliers. Phil du Plessis, wat lang gesprekke met Knobel in sy digkuns gevoer het, is eweneens hier aanwesig: ”Fabel” (51).

Die digters wat meegedoen het aan die vertalings het hul goed van hul taak gekwyt en die gedigte getransporteer van een taallandskap na ‘n ander. Maar vertalings is soos om in ‘n vliegtuig te sit – iewers tussen twee landskappe dink jy na oor wat agter jou lê en waarheen jy op pad is. En as jy nie die regte taalvisum het nie of ‘n digterlike inenting teen geelkoors nie, kan sake skeefloop. Gelukkig is die vertalers se paspoorte en mediese kaarte getjap.

Vertalings kan net suksesvol behartig word deur digters wat sélf die kompleksiteite van taal begryp en dikwels besef welke waagstuk enige vertaling is. ‘n Kennis van die teikentaal maak jou bepaald nie ‘n vertaler nie. Die Ulyatts en Charl JF Cilliers is gerékende vertalers, omdat hulle die semantiese reikwydte begryp en implikasies kan vertolk. Dit is soos om oor ‘n vreemde landskap te lees en dit dan self te ervaar. So is dit met die vertaalde gedig gesteld: iets voltrek sig in die gemoed.

‘n Mens raak bewus daarvan dat daar soms hoofletters gebruik word aan die begin van reëls; ander kere nie. Die “bloedsteen” is opvallend en in “XI Weer aan die kritikus” word die pynlike herhaling van woorde verduidelik, omdat die digkuns ‘n manier is waarop die digter hom verweer teen die lewe en ‘n slopende siekte.

Dit is dalk die hoogste tyd om ‘n studie te onderneem tussen die werk van die Amerikaanse digter Robert Lowell (1917 - 1977) en Wilhelm Knobel. Beide digters het aan ernstige depressies gelei; beide het die digkuns gebruik as ‘n ontsnappingsroete, as ‘n soort “bloedsteen”. Lowell se klassieke “Man and wife” is ‘n ikoniese vers wat so begin:

Tamed by Miltown, we lie on Mother’s bed;
the rising sun in war paint dyes us red;
in broad daylight her gilded bed-posts shine,
abandoned, almost Dionysian.

En as die vertaler ‘n paspoort en visum en geelkoorskaart het, is dit ‘n besondere belewenis. Met Bloedsteen (1966), Mure van mos (1970), Nagelate gedigte (1976), Twee siklusse (2005) en As die woorde begin droom (2011) het Wilhelm Knobel ‘n unieke bydrae tot ons digkuns gelewer. Hierdie is ‘n keur uit sy digkuns behartig deur Johann de Lange, ‘n uitstekende bloemleser en vertaler.

Suiwer is hierdie elegiese vers van Knobel:

Elegie
vir V. Cuenod

Êrens in die Atlantiese oseaan is jou liggaam ter see gelaat
In geen benouende seil gewikkel nie
het dit stadig deur die skemergroen lig gesak
tussen kleurige tropiese vissies wat vir ‘n oomblik
    verskrik is
om dan weer soos mossies nuuskierig byeen te drom
en die vreemde gebeure gretig maar geheim in die
    roering te bespreek
‘n besorgde dolfyn
het jou ‘n rukkie meer waardig op  jou tog vergesel
jou ledemate wat net effens
in suggestie van ‘n dans beweeg
het hom ‘n tydjie laat vermoed dat jy leef
en jou hare wat jy kort geknip gedra het in jou lewe
het lank en donker in die stroom geroer
Êrens op jou reis die diepte in
waar die skemerte oorgaan in donker
het die vae gestalte van ‘n haai
(of twee?)
geduldig, genadig
gewag
die beelde hier word minder duidelik
maar in drome sien ek reeds hoe ‘n hopie bene
ewig en wit begin vasgroei in koraal
*

Vir ‘n interessante nota rondom die onstaan van die gedig, lees die volgende: Deon Knobel. Toeligting tot die gedig “Elegie” deur Wilhelm Knobel

Wilhelm Knobel in ons digkuns verewig: vasgegroei in koraal.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Sunday, January 17, 2016

Dolf van Niekerk – Portrette in my gang (2015)


Dolf van Niekerk – Portrette in my gang. Protea Boekhuis, 2015. ISBN 978-1-4853-0230-8 (gedrukte boek) / ISBN 978-1-4853-0231-5 (e-boek) / ISBN 978-1-4853-0482-1 (ePub)

Resensent: Joan Hambidge

Dolf van Niekerk se Nag op ‘n kaal plein (2006) en sy verse oor die Karoo bly állergunstelinge vir hierdie leser.

Op die voorblad van die jongste bundel Portrette in my gang word ‘n afdruk van die moeder, aan wie die bundel opgedra word, weergegee. Daardie portrette van die swygende voorouers wat in die gang van 'n ou huis hang en 'n verlede opvang langs die breede en smalle weg, word hiermee geaktiveer.

Die portretvers is ‘n gedig wat aansluit by die tradisie van die beelddig, ‘n vers wat oor ‘n beroemde of bekende persoon handel. In hierdie bundel word die portret sowel gekoppel aan die intiem-persoonlike, te wete die moederfiguur, en aan beroemdes soos filosowe, skrywers, musici en kunstenaars met 'n hoogtepunt oor Dostojefski (21). Vanselfsprekend is daar ook ‘n slotvers wat “Selfportret” (62) heet: dit wat die digter oor ander skryf, kan ook op hóm van toepassing gemaak word:

Kan die gesig tog sê,
moet ek eers leer wie ek is?
beelde aan die vergetelheid ontruk
vorm, kleur en lyn
aan ‘n enigma gee?

In ‘n gedig soos “nobilis” word die portrettering van Raphael weergegee. Die Mona Lisa is die al-vrou. Michelangelo, Van Gogh, Itzhak Perlman, Domingo, Mehta, o.a. kom aan bod in 'n ryk, geskakeerde bundel wat die stommiteite van die massamens uitdaag via Ortega y Gasset.

Dit is 'n sterk filosofiese bundel wat die “diktators en handeldrywers in die niks – /monsterspruite van geheiligde -ismes” kritiseer (33). Hierdie idee speel in op die werk van bekende Afrikaanse filosowe, Fanie de Beer en Danie Goosen. Die digter self is eweneens bekend vir sy filosofiese werk oor Dostojefski. In die hele bundel is daar 'n spanning te bespeur tussen die filosofie en die digkuns soos uitsonderlik verwoord in “Muse” (34).

“Nagwind”(43) tree in gesprek met Adriaan Roland Holst; “Slaap” parodieer Malherbe, met 'n ironiese wending (49). Klaas Geswind en Die Weduwee Viljee gooi 'n draai in “Langs die see” (57). Van Wyk Louw se halwe kring word voltooi (14). Nietzsche word aan die woord gestel:

alles keer in siklusse terug,
alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is môre soos dit was.  (16)

Hiermee sluit hy aan by die tradisie van intertekste wat nou hoogty vier, maar in die geheel is sy verse modernisties; in hul eie spel afgesluit.

“Wind word winde van veranderinge”, dui op 'n veranderde wêreld waaroor die digter besin (24), 'n gedig wat sterk resoneer met ons huidige geestesklimaat van onrus en protes.

“Mastos”, 'n sentrale vers oor die moederfiguur, wat hy nooit geken het nie, word die basis van die digterskap (18):

Vergulde bronsraam, ovaal.
Gepatineer; agter geboë glas
die bolyf van ’n vrou
in somerbloes, oop voorkop
onder sober swart kapsel;
alkante in kleiner rame
twee kinders, haar skenking
aan die lewe. Voortydig afgesny,
dat sy onbekend vir my moes bly.
Verskyn verbeeld in prosa
en poësie; woorde word gees,
gesig, hande, borste
en oë; oplaas litanieë
vir die onsterflike onvoltooid.

“Oestyd”, 29 handel oor GA Watermeyer wie se digterstalent opgedoek is deur die reklamewêreld, ja, hy wat so aangrypend kon dig oor die liefde se bitter glas en die reën in die voorwinter.

“(D)ie nou se durende verlede” kan as 'n mantra in hierdie bundel gesien word en hoe niks uiteindelik verbygaan nie.

Ook die ekologie kom aan bod (Karoo: “Swartberg”, 30) en Kruie en plante selfs word in 'n portret verewig.

Of hy dig oor die panta rei of die Karoo of nadink oor waar hy vandaan kom, bly Dolf van Niekerk se jongste bundel 'n beleë, waardige toevoeging tot sy oeuvre en tot ons Afrikaanse digkuns. Daar is 'n misterie en soeke na die “God wat Is” en 'n wete dat lewe (soos die dood) 'n sirkelgang is.

Daar is hartgrypende verse waarin kruie, die vag van 'n skaap, die reuk van 'n Karoo raak beskryf word. Met 'n vertaling van die Onse Vader uit Aramees via Engels.

Oplaas leer hy van Carl Jung:
Wat jy sien kan jy nie navors nie,
die eintlike gebeure lê diep verborge,
deur almal beleef, deur niemand waargeneem. (“Circa 1933”, 55).

Hierdie úitstekende bundel illustreer 'n fyn balans tussen konkrete beeld en filosofiese idee wat nooit onder blote abstraksies swig nie. Telkens keer 'n mens terug na 'n vers wat met onderstelling werk en met elke herlees iets nuuts verklap.



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)