Saturday, February 2, 2013

Arja Salafranca - The thin line (2010)



Arja Salafranca. The thin lineModjadji Books, 2010. ISBN 9781920397081.

Resensent: Joan Hambidge

Arja Salafranca het reeds gedigte gepubliseer (A life stripped of Illusions en The fire in which we burn). Saam met Alan Finlay het sy ‘n bloemlesing saamgestel, glass jars among trees. Sy het al tweekeer die Sanlam-toekenning verwerf en is tans verbonde aan The Sunday Independent.

The thin line is ‘n versameling kortverhale wat ‘n mens eenvoudig nie kan neersit nie.
Die subtiele verbintenisse tussen mense word ondersoek soos vrouens wat saam koffiedrink, maar mekaar sonder woorde kritiseer, of, met giftige uitinge aanval; eks-geliefdes wat saamreis en in ‘n vreemde landskap ontdek die verhouding werk nie meer nie, en sal nooit weer werk nie; ‘n “verhouding” tussen twee mense wat liefdeloos is en tog uitloop op ‘n desperate seksuele verkenning; ‘n vrou wat haar manlike geliefde se eks-meisie seksueel begeer, najaag en ‘n slot wat uitloop op ellende; ‘n ondersoek na vetsug met ‘n jong meisie wat haarself letterlik doodeet as die sub-teks…

Daar is verhale oor die spanning tussen kulture: Joods versus Goyim en ‘n verhouding wat rondom hierdie verskille uitgespeel word. Daar is vrese oor moord en doodslag en die wete dat geweld alles tussen mense bepaal.

Dit is dan een van daardie boeke wat jy optel en letterlik nie kan neersit nie.

Die skrywer vertel jou geweldig baie van die menslike kondisie, van eensaamheid én die desperate soeke na vervulling in verhoudings, oor “body loneliness”, oor hoe die gemeenskap dikteer hoe ons moet liefhê en lyk.

Verskille tussen genders word ook sterk uitgebou. “At the table of the short story” lewer diepgaande verslag van hoe vroue verskil van mans met betrekking tot eet en liggaamlikheid. Dit is die soort verhaal wat Julia Kristeva se belangrikste teorieë oor die verhouding tussen die moeder en kind uitwys. In ‘n eweneens knap verhaal, “Ten minutes to hate”, word die impak van geweld op private verhoudings beskryf. En die sterk slot bewys dat Salafranca weet dat ‘n goeie kortverhaal op ‘n knalslot uitloop.

Daar is lewenwyshede, van mense wat ontmoet na jare en die verteller besef dat die vriendskapsontmoeting na jare in wese ‘n bestekopname is en dat bande nooit weer opgetel kan word nie (“Friends”); dit word eerder ‘n soektog na iets onbepaalds…

In “Ten minutes to hate” word ‘n verhouding onder spanning geplaas met ‘n aanval in ‘n teater. Dit word ‘n wrang kommentaar op hoe die politieke dimensie die private beïnvloed en karteer.

Indien iemand eendag hierdie teks sou optel, sou al die sosiale kodes, privaat én sosiaal, in hierdie aangrypende en goed geskrewe verhale afgelees kan word.

Die ideale leser is waarskynlik vrouelesers wat vasgevang is in die subtiele voorskrifte van vrouetydskrifte, maar tog krities daarop reageer.

Vir my was die groot bonus dat daar ‘n sterk bewussyn is van die struktuur van die kortverhaal en ‘n implisiete reaksie op die tradisie van die kortverhaal.

In “Solly Bernstein’s story” ondersoek sy ‘n verhouding wat teen die aard van ‘n karakter ingaan en hom broos en weerloos laat. ‘n Klein kragtoer. “Desire without borders”, ‘n selfrefleksiewe verhaal, getuig van soveel intelligensie oor die skryfproses wat ons sopas in die bundel meegemaak het.

The thin line aktiveer die broosheid van verbintenisse en hoe alles binne ‘n oogwenk kan verander. Dit verwys dan ook na liminaliteite, na grense.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]