Saturday, February 2, 2013

Kahlil Gibran - Die profeet (2010)



Kahlil Gibran. Die profeet(Vertaal deur Louis Fourie). Adamastor, 2010. ISBN 978 7957 0317 1.

Resensent: Joan Hambidge

Die profeet van Kahlil Gibran (1883 – 1931) word beskou as een van die mees gelese boeke naas die werke van Shakespeare en Laotse. Gebore naby die berg Libanon het hy as jong kind na die VSA verhuis en in die kunste gestudeer. Hy is in New York oorlede, maar in sy vaderland begrawe.

Hierdie spanning tussen die land van herkoms en die nuwe wêreld, gee dan aanleiding tot ‘n nostalgiese dimensie in die digter. Die digkuns bevat vele voorbeelde van digters wat hierdie spanning in hul gemoed projekteer op hul verse en in Afrikaans is die latere werk van N.P. van Wyk Louw tekenend hiervan.

Louis Fourie se vertaling lees vlot en poëties. In ‘n ónoortuigende vertaling bly die leser dikwels bewus van sinne wat nie vloei nie, lomp grammatikale seggings, steurende ritme en ‘n teks wat nie werklik van een taal na ander getransponeer is nie.

Dit is nie die geval met hierdie teks nie. Die leser word ingetrek in die vloeiende gegewe. Die teks is ‘n meditasie oor die lewe en dood, die liefde in veral ‘n geestelike dimensie.
“Almustafa, die uitverkorene en die geliefde, wat soos ‘n daeraad vir sy dag was, het twaalf jaar lank in die stad van Orphalese op die skip gewag wat sou terugkeer om hom na die eiland van sy geboorte terug te voer.” So begin hierdie beroemde teks.

In hierdie teks word daar vrae gevra oor kwessies soos die liefde, oor kinders, oor gee, oor eet en drink, ensomeer.

En Primi Piatti, die restaurant, het die motto werk is liefde sigbaar gemaak, hier gekry!
Daar is onthoubare reëls soos: Mense van Orphalese, julle kan die tamboer omfloers en die snare van die lier laat skiet, maar wie van julle kan die lewerkie beveel om nie te sing nie?” (52).

En dan: En wat is die son vir hulle behalwe die bron van skaduwees?” (52).

‘n Ander een: Net soos die pit van die vrug moet breek sodat sy hart in die son kan staan, so moet julle pyn ken”(60).

Die lewe word as ‘n reis voorgestel, ‘n gegewe wat ons terugvind in vele tekste soos die tarot waaroor vele kenners al uitgebreid geskryf het. Hierdie lieflike boek het ek gelees saam met The soul of Rumi, vertaal deur Coleman Barks (HarperSanFrancico, 2002) en Olyfwoestyn (saamgestel en vertaal deur I.A. Ben Yosef en die digter, J. Steyn, Perskor 1997).

“One-handed basket weaving” oor die derwiesj wat wag op die peerboom wat sy pere moet afgooi en nie kan wag nie. En dan die lewenswysheid van Moehammed dat die mens soos ‘n veer is wat in woestynwind gewaai word…

Die profeet is ‘n boek vir lees en herlees. Boonop bevestig dit dat daar in die huis van die digkuns vele kamers is en hoe hierdie teks afwyk van ons tradisie is fassinerend.

“Want wanneer my vlerke voor die son uitgesprei het, was hulle skaduwee op die aarde ‘n seeskilpad” (104).

Adamastor het die boek besonder mooi uitgegee met ‘n los flap om die teks en die oorspronklike vertaling het reeds in 1955 verskyn. Hopelik sal Adamastor ook kans sien om M.M. Walters se reeks Poësie uit die verre lande (met o.a. Spaanse vertalings van Uys Krige) weer vir ons uit te gee?  


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]