Saturday, February 2, 2013

Lina Spies - Tydelose gety (2010)



Lina Spies. Tydelose getyProtea Boekehuis, 2010. ISBN 978 1 86919 383 6.

Resensent: Joan Hambidge

Die jongste bundel van Lina Spies heet Tydelose gety: die tydeloos aktiveer tydelik én tydloos, die hier én die ewige. Hierdie spanning vind ons regdeur die digter se oeuvre en veral in die bundel Hiermaals word die gesprek tussen die lewe op aarde en die Ewige bestaan ‘n digterlike onderwerp.

Spies spreek in hierdie bundel die toestand of aard van die ouer persoon aan. Die vrou sonder masker en in hierdie opsig tree sy in gesprek met twee ander vrouedigters wat hierdie onderwerpe behandel: Elisabeth Eybers en Antjie Krog.

By Eybers is daar die vormvastheid wat bekoor; by Krog die woede en kompromislose siening van die lyflike ontglansing.

‘n Vers soos “Vraag” (28) spreek Eybers se “Taalles” aan, terwyl die belewenis van die liggaam gelees kan word as ‘n implisiete antwoord op Krog se verse waar kragwoorde gedy. In “Leeftyd” (12) kom sy in opstand teen die siening dat liefdesverse nie behoort tot haar tyd nie. Sy verset haar teen die klaagliedere wat hierdie tydvak kenmerk.

Die digter kies dan beelde waarin sy haar lewensvreugde weergee, en hierom haar oorgee aan die “eb en vloed” wat in elke gety stu.

By Lina Spies is daar van meet af aan ‘n sivolle gesprek met ander digters. ‘n Mens dink aan haar Emily Dickinson herdigtings (Die enkel taak: Die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson (1995) en in hierdie bundel vind ons eweneens vertalings, herdigtings en indigtings van bekende gedigte: Paul Celan se “Todesfuge” (“Fuga van die dood”), Pavel Friedmann se “Die skoenlapper” waarin Spies haar liriese kwaliteite ten toon stel.

Daar is beelddigte oor Nelson Mandela en Anne Frank.

Hierdie bundel wil sig teen die steoretipiese en die geykte van die lewe stel soos die digter dan ook skryf in die programgedig “Lectori Salutem” (11). Die liefdesverse is onthoubaar soos die gesprekke met twee groot digters, Elisabeth Eybers en Vasalis in die aangrypende vers “By wyse van vergelyking” wat inspeel op die voorblad van die bundel(23):

Vasalis het haar geliefde
met ‘n landskap vergelyk
waarin sy haar neer kon lê
en uit kon strek
maar toe besluit hy lyk
nog meer na die lug daarbo
waar ruimte is vir wolke.

Ek sou jou kon benoem
met dieselfde metafore
maar ek het jou lief
met my eie hart
en ek sien jou met my eie oë
en vir my lyk jy
die meeste op ‘n kroonden
met sy hoë stam
en sondeurstraalde kruin:
‘n boom waarna mens op moet kyk
en waarteen jy aan kan leun –
sonder vrae, sonder beloeftes, sonder vrees.

Die eiesoortige praatvers wat sy skryf, is in hierdie bundel nie altyd ewe suksesvol nie. Vir my gevoel is die verse dikwels spanningsloos en die opdrag en uitdaging aan die leser in die programvers word nie orals nagekom nie. ‘n Vers soos “Gewoon” (19) en sy inspelings op Eleanor Farjeon se geestelike lied, wat deur Cat Stevens gepopulariseer is, klink flets op.
Daar is gesprekke met Emily Dickinson en Philip Larkin – selfs ‘n herdigting Maya Angelou. Die gevaar is immer dat die oervers kragtiger mag opklink vir sommige lesers. In ‘n gedig word die band met Afrikaans besing (“Moedertaal”, 54) en verse vir Degenaar en Elisabeth Eybers, twee duidelike mentors vir Lina Spies. Ook Audrey Blignault word vereer.

Tipies Spies is daar verse met ‘n religieuse strekking (soos “Kategismus”, 67) en natuurlik: Anne Frank. 

Vir Lina Spies-bewonderaars is die bekende temas (liefde, godsdiens, vrouwees, ouerword, die dood) daar en getroue volgelinge sal steeds iets put uit hierdie bundel wat deur Protea Boekehuis uitgegee is.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]