Saturday, February 2, 2013

Jaco Kirsten - Om na ‘n wit plafon te staar (2009)



Jaco Kirsten. Om na ‘n wit plafon te staar. Tafelberg Uitgewers, 2009. ISBN 9780624047117.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman word tipeer as ‘n reguit roman. Reguit? Dis bepaald wat dit is. Op die man af. Sonder draaie of swaaie. Dis ‘n satire van Naspers en die media. Dit vat regstellende aksie en die lot van die wit man aan in die huidige onseker Suid-Afrika. In hierdie opsig is die plafon van ‘n dubbelsinnige titel. Dit dui op iemand wat net staar na die plafon, maar ook die plafon van sy loopbaan bereik het. Hy kan nie hierdeur breek nie.

Die basiese storielyn handel oor Lourens se poging om ‘n roman te skryf: polities-inkorrek en in die oë van talle aanstootlik en onaanvaarbaar. Hy is die skrywer van die motorbylaag (nes die werklike skrywer op sy dag was!) en wil eintlik aan almal rondom hom bewys dat hy ‘n ernstige skrywer is…

Die eerste gedeelte beland per ongeluk op die ombudsman se lessenaar wat egter in staat is om die skryfsel te sien vir wat dit is: satire.

Die roman wentel tussen herkenbare en onherkenbare figure. Die leser kan dikwels mense herken en name is net effens aangepas of verwring.

Is dit nodig? Ek bedoel waarom het hy nodig om die grense so aan te lê? Dit is juis die punt van die roman, om hierdie spel met Barthes se vraisemblance vol te hou.
Die uwe word sommer by die naam genoem.

Ek haal graag aan:

“Ja, man, kak soos intertekstualiteit en so aan. Ek het mos paar jaar gelede ‘n kursus in skeppende skryfkuns op varsity gedoen. Jy maak heeltyd sulke side-ways verwysings na goed in ander boeke. Die resensente is mal daaroor en dit laat hulle slim voel as hulle dit raaksien. Veral Joan Hambidge is goed daarmee en miskien gooi sy ‘n bietjie van Umberto Eco en die semiotiek in. En as jy gelukkig is, dan fok sy jou nie op met ‘n verwoestende resensie nie!”(p. 64).

Aan die woord hier is MJ (Emile Joubert?) die bekende wynskrywer en kortverhaalskrywer wat die uwe eweneens in ‘n verhaal opgestuur het en toe nie die pak slae in ‘n resensie kon vat nie.

Umberto Eco se Travels in hyperreality kom hier handig te pas, net soos sy spel tussen die oop/geslote teks vir die leser relevant sal word.

Party sal meen hy gaan te ver; ander sal glimlag en hard lag oor die opstuurdery.
Die punt is ons maak die roman-in-wording mee en is uitgelewer aan Kirsten se galgehumor.

Die boek, Transformasie-medikasie, word weergegee en al die clichés en bekgevegte rondom boeke en bemarking word aan die kaak gestel. Ook hier is herkenbare figure wat die spit afbyt.

Maar van lekkerlag, kom lekkerhuil. Soos dit dikwels gesteld is met goeie satire, draai hierdie boek teen homself en haal die werklikheid van regstellende aksie mense in.

Daar is selfmoord en moord.

Meer durf ek nie verklap nie.

Op bladsy  149 wonder die skrywer of ek hom uitmekaar gaan ruk? My besluit:
Hy kan skryf. En vertel. En dus die hele punt.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]