Saturday, February 2, 2013

Antjie Krog - Digter wordende (2009)



Antjie Krog. Digter wordendeHuman & Rousseau, 2009. ISBN: 978 0 7981 4926 6.

Resensent: Joan Hambidge 

Die teks Antjie Krog aktiveer die hele spektrum van vrouwees. Die jong skoolkind, die verliefde musiekstudent en moeder. Die geskeide vrou, die skrywende moeder, die politieke aktivis, die optekenaar van die VWK-ontboeseminge en ten slotte: die opstandige grootmoeder waaroor Lina Spies haar so potsierlik vervies het.

Krog is ‘n grensverskuiwende digter in Afrikaans. Sy het die grense van die digkuns verskuif: van praat- tot voordragvers. Van ‘n vrou wat ‘n twakkie lus, tot een wat bely dat haar (wel-u-weet-wat) koud is.

Haar gedigte maak vele mans onrustig, omdat dit die intieme en privaatvroulike binnedring. Onthou u nog die gefladder in die hoenderhok toe sy ‘n ovulasiekaart in Lady Anne gepubliseer het?

Skryf, het Geoffrey H. Hartman opgemerk, is by die vroulike skrywer ten nouste verweef met menses in sy lesing van Emily Dickinson.

En al beleef ons die “onbehoorlike” en die “skokkende” moet ons die vele registers van hierdie vrou se digkuns bewonder.

Sy het eweneens ‘n besondere plek ingeneem binne die Nederlandse wêreld.

Krog is ‘n besondere voordragkunstenaar en vir almal van ons is daar onthoubare gedigte.
Daar is ‘n breë register in haar digkuns: van die banale, swoele aanslag tot die gestroopte gedig. Sy is behendig met vorme soos die villanelle en rondeel. En sy het die sonnetvorm al op sy kop gedraai. Daar is gedigte oor die musiek. Daar is San-verse. Daar is herskrywings van historiese dagboeke en – figure soos Lady Anne Barnard.

Stel jou ‘n digkuns sonder Krog voor? Onder andere is daar besondere gesprekke met Elisabeth Eybers en die opstand teen ‘n “vaderdigter” soos Opperman.

Brink behandel haar tereg besonder goed in sy liefdesverklaring Groot verseboek.

In die bekende gedig “digter wordende” skryf sy: 

Om op ‘n oggend wakker te word binne-in klank
met vokaal en klinker en diftong as voelspriet
om met aarselende sorg die effenste roerings
van lig en verlies in klank te kalibreer… 

En dis wat sy al vir soveel jaar regkry: om in klank te kalibreer en vibreer.

Laat sy gerus maar praat van poetry, want dig kan sy dig.

Digter wordende, ‘n keur uit die gedigte van Antjie Krog is ‘n personlike keuse onder noemers soos “altyd jy”, “geliefde kind”, “om klank te kalibreer”, “my mooi land” en Lady Anne.  Oud en nuut word saam in rubrieke geplaas: sodat gedigte nuwe betekenisse aanstig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger  geplaas.]