Saturday, February 2, 2013

André le Roux - Op die vrou af 2 (2009)



André le Roux. Op die vrou af 2. Human & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 5033 0.

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs sit ek en ‘n mede-skrywer en gesels. Hy is enigsins geïrriteerd oor skrywers wat hulle met die politiek bemoei, resensies skryf of maklik-toeganklike rubrieke vir vrouetydskrifte pleeg. Hy is ‘n man van die Erns. Hy lees net Rilke en Neruda en beskou enigiets anders as ‘n verkwisting van tyd. Skrywers wat optree in Sewende Laan laat hom koud.

Hierdie leser is van mening dat skrywers dikwels inspirasie kry juis uit hierdie aweregse optredes. Die kritiese hand voed dikwels die kreatiewe een. Kyk maar na Le Roux se Huisgenoot-artikels wat later voortreflike skryfwerk geword het in Sleep vir jou ‘n stoel nader.

André le Roux kan skryf. Hy is die meester van die snelvuur-onderhoud en –rubriek. Hy maak korte mette van pretensie, voorgee of snert.

Sy leesgehoor hier is Sarie-lesers.

Ons sit met ‘n tweede versameling, dus is daar ‘n aanvraag.

Of dit nou gaan oor G-string wat uitsteek (wat nes weerlig is, want jy kyk nie na hom nie, maar sien dit) of alledaagse indrukke van die wel-en-wee van die Sarie-vrou.

So wat ek en daardie skrywersvriend uiteindelik dink van hierdie versameling gaan niemand skeel nie.

My vriend knor oor die inhoud.

Los André uit! Hierdie is die voorstudies en vingeroefeninge vir sy ernsige werk. Soos Kom ons sit sommer by die tafel.

Verstommend dat iemand wat “dirty realism” so knap beoefen sulke dun, niksseggende rubrieke kan lewer.

Jy mis alweer die punt!

Die stukke is so lig soos Kelloggs-graanvlokkies. Soms met ‘n stoute woordspel of toespeling (soos op-en-wakker vir jy weet wat). Maar in die geheel is dit ‘n filosofie van die middelklas met hul leë gesprekke en neuroses. Wat nadink oor ‘n vakansie sonder (of met) klere…Of wat in ‘n hyser mag gebeur met selfone se manewales.

Maar my magtig man: dis bedoel vir kykers van Sewende Laan, lesers van Sarie, aanhangers van Pedro Kruger (ja daardie een met die vreemde grynslag vir ‘n glimlag).

Agterop is daar ‘n ge-photoshop-foto van die outeur.

Dit verklap mos alles.

Nie bedoel vir die aanhangers van sy prosa of digkuns nie. Wat my laat wonder: wanneer publiseer hy weer ‘n op die man af-digbundel? Struisbaai-Blues het mos al in 1977 verskyn, nie waar nie?

En Te hel met Ouma! (1980) bly maar ‘n hoogtepunt.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]