Wilma
Stockenström. Die stomme aarde. ’n Keur. Human & Rousseau, 2007. ISBN 9780798147484.
Resensent: Joan Hambidge
“Ek maak maar ‘n
gedig wat drup-
drup van
bewondering, ses keer”
1.
Wanneer ‘n mens
die resepsie van die Afrikaanse digkuns noukeurig deurgaan, is die naam van
hierdie digteres orals aanwesig. Sy is in die tagtigerjare ‘n aanwesigheid,
bykans ‘”geur van die maand”, saam met
Cloete.
Haar Monsterverse het’n hele seminaar ontlok
en “Die eland” is waarskynlik die mees geanaliseerde gedig in Afrikaans – naas
klassieke van DJO en VWL. En hoe resensente en literatore nie gespook om al die
slimmighede in hierdie bundel te ontfutsel nie! Gesiene literatore het verskil
van mekaar en daar is ‘n magdom tesisse geskryf oor monsters as ‘n monster /
voorbeeld of dier wat jy vrees.
Dit is ‘n
digterskap van die intellek, van metarefleksie, van ‘n dekonstruksie van die
mens se eiewaan gesien teen die grootsheid van die heelal.
Sy is waarskynlik
– weens haar drama-en aktrise-agtergrond – hierom ‘n voorste vertolker van haar
eie verse.
Sy is bekroon
met die Hertzogprys vir haar bundel Van
vergetelheid en van glans in 1977 – ‘n bundel wat Koekie Ziervogel, daardie
anonieme kommentator, genoem het: Van
vermetelheid en van mans!
Haar tekste is
in Engels, Frans, Nederlands, Duits, Italiaans en Hebreeus vertaal en hierdie
bundel vra dan ook om saamgelees te word met die uitstekende vertalings van die
digter Johann de Lange.
Die stomme aarde is ‘n persoonlike keur en dit is
altyd openbarend om te sien wat ‘n
digter kies uit ‘n oeuvre: wat is haar persoonlike gunstelinge. Die geskiedenis
van hierdie digterskap is fassinerend. Sy het indertyd Vir die bysiende leser (1970) gepubliseer by Wilhelm Grütter se
toenmalige uitgewershuisie, te wete Reijger uitgewers. D.J. Opperman het van
die bundel kennis geneem en die res is geskiedenis. As DJO in daardie dae
goedkeuring gegee het, was jy “gemaak”.
Brink – ‘n
leidende kritikus in die 80er jare – haar van die lewende, aktiewe digters in
Afrikaans die grootste genoem. Louise Viljoen verwys na die monumentale plek
wat sy vir haarself oopgeskryf het. En na die konkreetheid van die verse asof
jy aan hulle kan vat...
II.
‘n Keur, en meer
spesifiek, ‘n persoonlike keuse, is altyd
tersaaklik oor presies wat ‘n digter as “goed” in ‘n oeuvre beskou.
Wanneer Ted Hughes ‘n seleksie maak van Emily Dickinson, is dit verse buite
hom. Hier beskou die digter haarself: is sy outo-kritikus, -keurder,
-kanoniseerder. Die vertolkings van haar
verse, wat gebruik maak van ironie en dramatiese wendinge, belig sekere aspekte
van haar digkuns. Sy word as ‘n
“moeilike” digter beskou - ten spyte van
vele toeganklike /maklike verse in haar oeuvre. (Al die indrukke tot dusver
word gemaak sonder dat die inleiding geraadpleeg is. Ek sal my kanttekeninge
later vergelyk met Ronel Foster se opmerkings.)
“Dalk gaan niks
verlore nie”- so ‘n keur bestendig ‘n digterskap en binne die nuwe boekklimaat
word bundels wat uit druk uit is of dalk nou mag verkoop nie, ‘n nuwe lewe
gegee. Lesers wat nie werklik bekend is met haar werk nie, word nou teruggeneem
na die belangrikste gedigte en die digkuns-liefhebber vergelyk hierdie keuse
met ‘n eie persoonlike seleksie. Hoeveel universiteite doseer haar nog?
‘n Mens lees
hierdie bundel met verbystering oor die ongelooflike taalvernuf: so gepraat van
ou woorde en begrippe wat in onbruik geraak het: wat beteken “blasoen” en
“bordesse” vir die gewone leser? Of “patogeen”, anomie”, “guds”, “mastodonties”?
En die ongelooflike taalbeheer is die sterkste indruk wat hierdie bundel maak
waarin die leser geneem word op ‘n afwisseling tussen woede en onthutsing; pyn
en melancholie – met dikwels ‘n ongelooflike verdriet en weerloosheid wat
deurslaan in die latere verse, soos in die gedig “Die komeet besoek die Kaap
van verkragting” (p. 134), die slotgedig in hierdie bundel en waarskynlik ‘n
soort testament van die digter waarin die geskondenheid van die
nuwe-Suid-Afrika so voortreflik verwoord word.
‘n Mens vind veral in die latere werk dat die aanvanklike
intellektualisme met ‘n melancholie deurdrenk is – asof die voormalige
“monsters van verse” nou ‘n oorrompelende weemoed geword het (p. 132). Hoe dan
anders? In Monsterverse, o.a. is die
ongeregtigheid uitgewys; nou is daar ‘n nuwe bedeling en ‘n ander monster het
sig tuisgemaak.
Hierom is alles
“buite belydenis en vergoeding en onmagtig” (p. 131). Talle gedigte getuig van
‘n metarefleksie en verse-oor-die-verskuns waarin die spreker verwonderd staan.
In Spesmase word verse gevind op die lig van die
see....(p. 129).
III.
Kodes en temas in die hierdie digkuns:
Die mees
opvallende en bykans refeinagtige aspek is die mens se nietigheid binne die
kosmos; die mens is ‘n toevallige (melancholiese) oomblik met klippe, rotse,
Tafelberg, die natuur wat onversteurd bly voortbestaan. Die aarde gee ook
moelik sy geheime prys en slange, paddas,‘n hotnotsgot, lewe ten spyte van die
mens se politieke of sosiale drange.
In die vroeër
verse is daar satire en spotspraak oor die mens se eiewaan – in die laaste
bundel, word die mens weer as weerloos en uitgelewer aan groter magte beskou.
Die politieke veranderinge en klmaat word dus so geregistreer: só gelees, lewer
die bundel implisiete politieke en sosiale kommentaar. In Monsterverse was dit “wit skrif”en die implisiete
paranoïa wat oor alles hang; nou is dit openlike, barbaarse verkragtings,
moorde, ensomeer.
‘n Digter
herskryf waarskynlik altyd dieselfde temas. Ons vind hier ‘n preokkupasie met
verganklikheid en in die laaste bundel is daar die vrees vir mooiskrywery –
voorheen was die verse gekomponeer rondom ingewikkelde konstruksies en ‘n sterk
Germanistieke aanslag.
Die “isheid” van
alles word onder die loep geneem in ‘n digkuns wat afkerig staan teenoor die
metafisika en die vervalsings wat ideologie en mites meebring:
Hierdie isheid
van sandsteen en graniet (“Vanuit ‘n venster bekyk” uit Spesmase)
Ook taal is nie
veilig nie. Trouens, sy is “buite
belydenis en vergoeding en onmagtig” (“Vrou met snoet” uit Spesmase) en hierom in die slotvers, “Die komeet besoek
die Kaap van verkragting” die volledige onmag om iets deur middel van ‘n gedig
te besweer. Hierdie bundel het teer
oomblikke en die gevaar van mooiskrywery is iets waaroor die self-dekonstruerende
digter bly tob.
Daar is in hierdie poëtika altyd sprake van ‘n
dubbelloop-aksie, van dig en skepties wees oor die effek van die proses. Daar
is dus spotspraak èn deernis. Met ‘n pynlike bewuswees van die verganklikheid
van alles. Die aanvanklik ingehoue, verintellektuele digter van o.a. Van vergetelheid en van glans en Monsterverse word in die latere bundels
‘n belydend-openbarende stem.
Die tema van
verganklikheid is ‘n deurlopende binding in hierdie oeuvre. Jong mense verwoes
‘n lewe van foto’s in orgie van opruimingsgeweld – ‘n hele lewe in’n swiepslag verwoes.
Dieselfde geld die mens en sy artefakte – uitgelewer aan groter magte. Ronel
Foster maak tereg ‘n verwysing na die “raaiselagtige boodskappe” en dat die
verse soms bruusk en brutaal opklink. Maar dat dit ‘n verbysterende sublimiteit
geteig (p. 15). Ek wil dit tipeer as ‘n digkuns van die primordialiteit wat die
metafisika op sy kop keer.
IV.
Daar is
verruklike verse in hierdie bundel en my gunstelinge is te veel om op te noem.
Die gedigte
speel op mekaar in hierdie keur en vergete verse meld sig weer aan. Ironie is
waarskynlik ook een van die sterkste kenmerke van hierdie digterskap:
“Pret vir ‘n
aand was die leeftyd van ‘n mens” lui
die slot van “Lêer van ‘n leeftyd”.
Skreeusnaaks is
haar “Politikus” met sy “volksdit, volksdat, / volksvinger-in-die-hol,
volkspêredrol”. Die leser is ‘n bysiende een ja, wat dikwels te staan kom voor
ruite, afkaatsings wat weer ‘n Lacaniaanse lesing signifieer. Daar is immers ‘n
spieël van water. Die digkuns skep
afstand; die spreker in die gedigte is deurgaans bewus van haar eie
af-standelikheid, onthegting wat – as ons Jacques Lacan betrek – dui op die
spieëlfase wanneer die “ek” sig self herken (vide o.a die Écrits.) (Dit sou ‘n hele studieveld kon wees vir ‘n jong navorser hierdie
obsessie met spieëls en ruite.)
Ook die obsessie
met taal en betekenis / stolling maak Lacan eweneens relevant.
Hoe verruklik
bly die verse in Van vergetelheid en van
glans nie! Die besef dat sy eenmaal ‘n mens was en kon deel aan die
vreugdes en pyn van hierdie ‘stomme aarde’ maak van hierdei bundel steeds ‘n
hoogtepunt. “Met my wysvingertop” waar daar met teerheid en geduld getrek word,
spreek my steeds aan.
“Alles is eers
wanneer beskryf”, lees ons op bladsy 116. So is dit, ja.
Wilma Stockenström
– soos Peter Blum – het ‘n enorme bydrae gelewer tot die Afrikaanse digkuns.
Hulle is nie populêr nie, omdat die persepsie bestaan dat hulle gedigte
“moeilik” is. Hierom verkoop die bundels
glo nie. Hierdie keuse sal waarskynlik hierdie mite die nek inslaan. Daar is
ingewikkelde verse, maar ook toeganklike gedigte. Mooi om hul eenvoud, roerend in die menslikheid
wat dit openbaar. Van ‘n sardonies-sarkastiese of skeptiese aanslag tot ‘n
weemoedige refleksie oor ‘n land se verval.
Van die
intellektueel-peinsende verse (soos Monsterverse) tot die
laaste bundel waarin ons ‘n weerlose spreker sien: van buitespraak tot
binnespraak.
En die
oorwegende indruk vir hierdie leser dan, is die verbysterende tegniese beheer.
Elke woord is op sy plek. Vorm en inhoud is hier in alle opsigte één.
Johann de Lange
se uitmuntende vertalings sal hopelik die bundel aan ‘n groter leespubliek
voorstel.
Ek doseer haar
tans in my Kreatiewe Skryfwerk-klasse en die reaksie van my studente op haar
werk, is uiters positief.
Bron:
Lacan, Jacques: Écrits - A Selection. Vertaal deur
Alan Sheridan. Tavistock, Londen. 1966/1977.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]