George Weideman. Newelig. Litera Publikasies, 2007. ISBN 9780958462679.
Resensent: Joan
Hambidge
George Weideman is ‘n digter, romanskrywer,
kinderverhaalskrywer, dramaturg, koskenner – en veral ‘n begaafde
kortverhaalskrywer. Nou onlangs moes ek ‘n essay skryf oor sy digkuns en die
leser kan nie anders as om geïmponeer te wees met die tegniese beheer en
besondere woordspel nie. Hy is goed verteenwoordig in Groot verseboek en in my Honneursjaar het D.J. Opperman hoog
opgegee oor sy digkuns.
Hy is veel bekroon en besondere talent – veelkantig,
belangrik en dáár. Die M-Net-, ATKV- WA Hofmeyr- en Sanlampryse is aan hom
toegeken. En wat my betref nie altyd reg ingeskat nie, omdat veral sy kortverhale
‘n soort primordiale wêreld betree. Die
jongste verhaalbundel heet Newelig:
baie tye, streke en sfere word betrek en kragte soos liefde, onreg,
ontnugtering en vergelding word aangespreek. Newelig is sy derde bundel.
In sy kortkuns het Weideman – soos Hennie Aucamp en Abraham
H. de Vries – nog altyd op ‘n behendige wyse gekyk na die funksie van skryf.
Ons vind dan in die tweede verhaal “Deur ‘n spieël” die volgende belangrike
uitspraak: "Ek werk aan ‘n ou, onvoltooide verhaal. Dit wou destyds nie vlot
nie; dit het nou al vier keer van rekenaar na rekenaar getrek. Alles wat ‘n
mens skryf, is outobiografies het iemand gesê. Maar ‘n mens se geheue word oor
die jare in sommige opsigte onbetroubaarder; dis waarom die verhaal nie vlot
nie...”(p. 10).
Op ‘n briljante wyse word virtuele voorstellings en die
werklikheid in jukstaposisie geplaas en terselfdertyd word ‘n ou en nuwe lewe
vir ons deur die skrywer weergegee. En kommentaar gelewer op in welke mate die
virtuele wêreld die lewe “mooier” kan voorstel. In hierdie ongelooflike verhaal
wat die Freudiaanse dimensie van die “unheimliche” betree, word ‘n skokkende
onthulling so subtiel aan die leser oorgedra dat elke verdere lees, nog dieper
lae oopmaak. ‘n Ongewenste swangerskap en die besef van wié die werklike vader
was – en verantwoordelik sou/kon wees vir die tragiese einde – word subliem
belig: deur die waarneming van ‘n dertienjarige kind en die wyser, gryser
verteller / fokalisator wat deur die skryf van die verhaal by die “waarheid”
uitkom.
“Jy weet hoe loop stories. Nie padsaam nie”, p, 25 – en dit
is een van die belangrikste aanwysings vir die leser in hierdie teks. Jy lees
vorentoe en dan agtertoe. Verhale gee
nie met ‘n eerste lees sommer die “geheim” weg nie. ‘n Opvallende aspek
is dat die skrywer die vergete wêreld van sy jeug vir ons weergee: daar waar
stories in die mond van gewone mense lê. In hierdie verband dra hy dan ‘n
verhaal op aan ene Colla Swart: “Loop soek vir my ‘n mens!” wat soos volg
begin:
“Die storie van oom Jasper Sout is deur Colla aan my vertel.
Colla van Kamieskroon, einste Colla wat so knap met die lens is, wat detail en
gevoel so volmaak op film kan vaslê...(p. 39). Soos sy eweknie Aucamp wat
verhale uit die Stormberge van familielede oorvertel (vide www.litnet.co.za: Skryfsake: Agter elke
storie) is dit eintlik net ‘n truuk wat Weideman hier gebruik om die
outensiteit van die verhaal te beklemtoon. Die waarheid van die vertelling is
iets wat die leser verwag by die kontreistorie, en hier spesifiek die
vertellinge van die Namakwalanders. Die outeur gee hul outentieke ervarings en
taalgebruik weer, sonder dat daar ooit op hul neergesien word. Sy verhale praat
op ‘n besondere manier natuurlik met E. Kotze se Weskus-stories. Mense wat eenvoudig
is, sonder om simpel te wees. Mense met stories en swaarkry en wie se verhale
as’t ware vertolk word deur die sensitiewe skrywer. Wie se storie is dit
uiteindelik? Die verhaal behoort waarskynlik aan die gemeenskap.
“Die dag toe Elvis gekom het” is ‘n andersooortige
raamvertelling rondom die storie van ‘n piromaan wat tronkstraf uitdien. Sy
verhaal word ingeskryf vir ‘n kompetisie. In die Oosbloklande is daar weer
skryfprojekte om mense te help om hul psigoses te begryp en daar deur te werk.
Weideman sluit dus aan by die nuwerwetse stroming van “Memory and Trauma” en
skryf /vertel om tot heling te kom.
Die verhaal oor Marco Polo – “Die katte van Korčula” –
weifel tussen fantasie en werklikheid met die speurende skrywer wat help
interpreteer aan die gegewe. Hennie Aucamp word by die naam aangespreek in die
verhaal “Tier”. Mag ‘n mens die werklikheid betrek? Mag ‘n mens geliefdes en
herkenbares aanspreek? Reeds in sy digkuns vermitoligiseer hy sy Ouma Baai in ‘n Staning onder die sterre, maar hy
doen dit met soveel simpatie en innigheid dat dit geen herkenbare kan ontstig
nie. Die verhaal buig dus op sigself in en word ‘n belangrike kommentaar op die
belangrikste motief in hierdie bundel: die werklikheid is die grootste gewer
van stories en insette.
Die inspeel van moderne (“Memory sticks”) teenoor die
ou, vergange lewe word kanp afgewissel. Die skrywer / fotograaf kan die lewe
beheer, verbeter en verander. Neologismes soos “skermbeveiliger” Die
“unheimliche” noem hy “onheimliks”.
Dit is ‘n boek wat ten slotte kommentaar lewer op die finale
dimensie wat betree word, te wete die “newelig”, die oorgang van die lewe na
die dood.
Sewe verhale het elders verskyn en waarom, wonder ‘n mens,
het Tafelberg Uitgewers nie hierdie bundel gepubliseer nie? Is dit soos etlike
uitstaande tekste ook afgekeur?
Litera Publikasies se adres is Posbus 14690, Hatfield,
Pretoria 0028.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]