Tobea Brink: Die hemelklip. Kwela, 2007. ISBN 0 7957 0249
3.
Resensent: Joan
Hambidge
Jan van Tonder
se Roepman gee ‘n intense blik op
die jong kind wat op die rand van volwassenheid staan – met al die onsekerhede
van identiteit wat daarmee gepaardgaan. Sopas het daar ‘n vroulike pendant van Roepman verskyn: Die hemelklip van Tobea Brink wat deur Kwela uitgegee is.
‘n Jong meisie,
‘n ek-verteller soos by Van Tonder (daar wel ‘n seun), lewer verslag oor haar
sieninge van die lewe, en meer spesifiek, die ervaring van ‘n
Mongool-tweelingbroer en die impak daaran op haar lewe. Dit is dus ‘n komplekse
siening van identiteit, want die boetie is haar –ling, haar aanhangsel. Sy
versorg en beskerm hom; sy ervaar die spot van ander kinders wanneer hy, ten
spyte van sy gestremdheid, skoolgaan en o.a. ‘n wind laat op die bus of ander
grensoorskrydende gedrag openbaar.
Háár emosies oor
hom is kompleks. Enersyds wil en probeer sy hom beskerm; andersyds is hy ‘n
verleentheid en lewer hy haar uit aan kinders se spotspraak.
Die jong kind se
soeke na aanvaarding word egter gekompliseer deur die –ling, haar ekstensie
as’t ware. In hierdie opsig word die emosionele belewenis van die karakter so
raak beskryf – met min en helder woorde word ‘n suggestieryke atmosfeer geskep.
Daar is fyn
poëtiese oomblikke wanneer sy in die beespaadjie afstap:
“Ek las nog name
by. Gielie se koeiname. Hoesa se name, terwyl ek saam met Pa in die beespaadjie
loop...Modemeid. Kleintjie. Uitsuip. Agterkamp. Kuifkop. Lelieveld. Bontrok.
Droëdam. Meireën. Snotneus...Rooiwater...Donderweer...Blombos...Spikkeljas...Voorspeen...Laat...lam...Aand...blo...m...”(p.
44).
Ook die
innerlike ervarings word goed geregistreer sonder om ooit verminderend of neerbuigend te wees teenoor die kind se
ervaring van haar oorgang van jong kind na amper-volwassene. Die intense
emosies wat jong kinders ervaar word besonder goed weergegee.
Anna se ervaring
van Danie se belangstelling in haar – met die oopmaak van ‘n dubbel gevoude
briefie! – is eweneens knap beskryf. En die leser weet by voorbaat hoe dit gaan
ontvou wanneer hy met diensplig
begin....
Die roman is
tweeledig: ‘n toe en nou. Die hele boek wentel dus om ‘n soort tweelingskap van
Adam en Anna, broer versus suster; gestremd versus normaal, klip teenoor
ligtheid. ‘n Stilistiese tweelingskap dus.
Die leser beweeg
voortdurend tussen twee dimensies of ‘n binariteit in hierdie teks. Maar daar
is vanselfsprekend ‘n derde vlak: die outeur wat alles vir ons weergee,
interpreteer en agter die opposisies skuilhou.
Daar word vanuit
die kind se perspektief insigryke beskrywings gegee van die Mongool se ervaring
van die lewe en die besondere eise wat dit aan ‘n familie stel: ofskoon
liefdevol, moet alles dadelik en volgens Adam se behoeftes gebeur.
In die tweede
gedeelte word die politieke dimensie ingebring: ‘n Nuwe skaamte vir Anna dus,
wat gekonfronteer word met haar broer se lewe. Nou wil ek nie meer verklap nie.
Hierdie gedeelte buig terug op die eerste en lewer kommentaar op aanvaarding en
die ervaring van jeugongerymdhede. Pas dit
binne die opset van die teks? Die leser word subtiel voorberei hierop; ook
Danie se diensplig is ‘n ingebedde kommentaar op die ou-Suid-Afrika.
Less is more.
Die boek lees soos ‘n gedig: elke motief is met sorg daar. Dit is bekend aan die novelle dat dit fyn
gestruktureer is.
Die slot waar
die klip met haar naam ontdek word, verwys na die klip aan die begin van die
verhaal. Hiermee maak sy haar los van haar broer en haar verlede: sy is nou
Anna. Nie meer Anna-Adam nie. Hierom kan
die briewe verbrand word wat weer aansluit by ‘n vuur wat sy in haar jeug
meegemaak het.
Die romantitel
aktiveer vanselfsprekend Fanus Rautenbach se benaming “hemelkinders’. Maar by
Brink word dit ‘n sterker, minder emosionele titel.
Dit is ‘n suiwer
boek. Sonder pretensie òf voorgee.
Geskryf uit die
hart. Soos ‘n Carson McCullers of ‘n jong Truman Capote.
Dit is geskryf
met ‘n vaste, digterlike hand. In suiwer Afrikaans. Dis ‘n wonderskone boek met
vinjette wat ek nooit sal vergeet nie: ‘n vrou wat haar dooie man se naels met
‘n knippie skoon maak; ‘n kind wat ‘n Tante se vreemde taal nie begryp nie en
verlang na die vreemde land waarin sy woon; ‘n kind wat na ‘n Oom se plate
luister; vir Anna se woede by haar ma se graf. En Adam wat die boektoets nie
maak nie.
En natuurlik: wanneer
die klip waarop haar naam staan, weer gevind word.
Lees dit. Vir
die suggesties. Vir dit wat nie vertel word tussen die eerste en tweede
afdeling nie.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]