Thursday, February 7, 2013

Wendy Woodward - Love, Hades & Other Animals (2008)



Wendy Woodward. Love, Hades & Other AnimalsProtea Boekehuis, 2008. ISBN 978 1 86919 249 5.

Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad van Wendy Woodward se digbundel Love, Hades & Other Animals is daar ‘n freskoe. Dit heet “Fresco in die house of the Golden Bracelet, Pompeii”. Dit is ‘n voorblad wat onmiddellik die leser se aandag trek  en die bundel word soos die titel aandui in drie afdelings verdeel.

In die derde afdeling staan daar ‘n gedig “Gare du Nord” (61) waarin die dood van ‘n vrou op die platform beskryf word. Die gedig egter fokus op die hond se “unutterable loss”. En dit is wat die meeste van hierdie gedigte kenmerk: ‘n nuwe blik op die reeds bekende, geykte ervaring.

En dit is waarskynlik na al die jare nog steeds die waarborg vir ‘n goeie gedig: om ‘n nuwe of vars aanslag vir die leser aan te bied.

In “Who speaks for the Jaguar?” (61) en in “The Pain of Crickets” (60) draai sy eweneens die konvensionele blik op sy kop: die jong kind, syself, lees boeke van oorwinnings, onbewus en afgesluit van die krieke se pyn.

In die natuurwaarnemngs aktiveer sy verliese. Is dit byvoorbeeld haar vader se gees?, wonder sy en hier is in die bundel verwysings na karma en reïnkarnasie. Die verse word gedra deur ‘n sterk gevoel van spiritualiteit.

“Dog in an Empty House (55) tree in gesprek met Wislawa Szymborska se “Cat in an Empty Apartment”, ‘n interessante tweeluik ontstaan dan op hierdie manier.

Die leser raak bewus van die digter se konneksie met “ancient-almond hemispheres / of my life”(52). Sy karteer haar verhoudings met haar ouers, haar metgesel, ‘n kind, die diereryk, die natuur en ons posisie alhier. Die gedigte aktiveer ‘n spanning tussen die aardse en die metafisiese; ons bly deurgaans bewus in die verse van die twee hemisfeer, by wyse van skrywe.

So gelees word die gedigte, soos sy skryf, ‘n totem. In die aangrypende “Dog Day Afternoon” (51) word die verlies van ‘n hond in die herinnering geroep. Wat is werklik, wat is gefabriseerde leuen of verdraaiing in die herinnering? Die bundel aktiveer ‘n sterk Freudiaanse verwysingsveld soos in die reeds genoemde “Object Relations (15) met die spel tussen Fort / Da – Freud se interpretasie van verlies en die hantering daarvan – alreeds aantoon.

In “Water Buffalo at Tashi Jong, Himachal Pradesh” (46) sien ‘n mens ‘n verbluffende beskrywing van spiritualiteit en ‘n besef van hoe van waar mense inpas teenoor die is-heid van die waterbuffels:

I prefer the older buffalo teachings –
their enlightened sentience
beyond human egos,
their absolute presence
in each growing moment.

In hierdie bundel word vreemde landskappe gekarteer en die digter werk op ‘n briljante wyse met Freudiaanse verwysings oor verlies soos in die gedig “Object relations” (15), omdat verlies waarskynlik een van die grootste dryfvere is vir die skryf van gedigte. Die digter gee ‘n besondere feministiese perspektief op haar jeug en konneksies met haar verlede:

Reaching further into the dark
I find other things
that I bring from the backs of drawers,
my grandmother’s once-silver mirror
Now in two pieces,
my mother’s heirloom ring
missing a diamond

Ons bly eweneens deurgaans bewus van ‘n spirituele blik op die lewe – die verwysings na karma onder andere – en in ‘n gedig soos “Reading the bones”(19) en “Going against Tao” (16) word dit besonder helder beskryf.

I know what the Tao says
about change,
that it’s the essence of life itself

Die titelgedig is waarskynlik eern van die mees uitstaande verse in hierdie bundel en die knap hantering van die mitologiese verwysings is indrukwekkend.

Die digter is ook die outeur Van The Animal Gaze in Southern African Narratives, ‘n teoretiese studie wat by die Witwatersrand University Press verskyn het.

Dit is ‘n helder, deurgekomponeerde bundel waarin die digter met filosofiese kwessies op konkrete, digterlike wyse omgaan. Dit bring eweneens ‘n tematiese vernuwing binne die Engels-Suid-Afrikaanse digkuns.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]