Thursday, February 7, 2013

Linda Joubert - Meulenhof se mense (2008)



Linda Joubert. Meulenhof se menseHuman & Rousseau, 2008. ISBN 13 978 0 7981 4912 9.

Resensent: Joan Hambidge

I.

Hierdie roman word bemark as eg menslike, tydlose verhaal wat vandag nog steeds helder tot die leser spreek. As ‘n mens net verby die soet voorblad kan kyk van ‘n Leefstyl-troufoto – want dit is Linda Joubert / Henriette Grové beslis nie – bly hierdie teks ‘n aangename, sober leeservaring. Die roman het oorspronklik in 1956 in Sarie verskyn en is ‘n briefroman.

Dis 1904 en Annemarie Herbst kom uit die Karoo in die Boland aan om skool te hou. Die dorpie heet De Rust en sy loseer by drie oujongnooisusters wat weens finansiële probleme gedwing word om haar in te neem. Sy betaal drie pond per maand vir haar losies.

Meulenhof is ‘n Ou-Kaapse opstal en hiermee waaier die teks uit (onbewustelik) na die Springbokradio-verhaal Die geheim van Nantes en al die mitologieë rondom die Bolandse bestaan.

Annemarie vertel vir haar kêrel die verhaal van Meulenhof en alles wat hier uitspeel.
Sarah se se verlowing van vyftien jaar gelede, die verbreking van die verlowing aan ‘n paddastoeldelwer uit Kimberley en die impak wat hierdie gebeurde op hul lewens gehad het. “Unrequited” of onbeantwoorde liefde, of liefde wat misgeloop het, is een van die belangrikste temas van die belydenisroman waaroor ek my eerste akademiese studie geskryf het! Ons dink hier aan die briefroman Dangerous liaisons en die gelyknamige film en by die lees van hierdie roman wag ons op ‘n volwaardige e-pos-roman waarin alles per e-pos onthul of vertel word.

Die roman verwys eweneens na Sy kom met die sekelmaan van Hettie Smit, daardie onnabootsbare, pynlike en hartvergrypende roman oor onbeantwoorde liefde en hartstog. Waarskynlik een van die grootste mylpale in Afrikaans betreffende die belydenisteks.
Hier word die hartstog egter deur ‘n buitestaander vertel of ‘dikteer’ en die roman leen sig tot relevante psigoanalitiese diskoerse weens die aanwesigheid van bekende simbole soos die maan, die spieël, die huis (eers ‘n gevangenis) wat later brand.


II.

Daar is skitterende vinjette in hierdie roman waarvan die dobbeltoneel tussen die twee mans wat die hele problematiek as ‘n klassestryd uitbeeld.

Die Bolandse meerderwaardigheid teenoor die Ondervelder uit Kimberley wat dus nie kan aanspraak maak op dieselfde stand nie. (Die roman sou ook herskryf kan word as’n rasverskil tussen die twee mans).

Nordien teenoor Malan du Toit. Die outeur gebruik Bybelse verwysings om die teks te laai soos Josef die dromer en Jacob wat veertien jaar vir Lea gewag het.

Die liefde wat misgeloop het, word vergeld deur die eiendom wat nie meer bekostig kan word nie. En hier word die verhaal behendig vertel in die briewe van Annemarie aan Jan. Die intrige word in brief na brief verduidelik tot met die dénouement wanneer Meulenhof se verband oorgeneem word deur die eens vernederde Ondervelder en die huis wat brand. Dit word dan ‘n simbool van die gekoesterde wrok wat as’t ware aan die psige vreet. Die huis is dikwels ‘n voorstelling van die self in die psigoanalise.

Die intrige tussen die twee geliefdes word gesinkopeer met Nellie se verbintenis met sy neef.


III.

Die verband word deur die verstote, afgewysde man word gekanselleer met sy woorde aan haar: “Bly in Meulenhof, Sarah, tot in lengte van dae. En alle voorspoed. Jy sal dit nodig hê, Sarah, in die lang jare wat voorlê, want die haat is ‘n bar bedgenoot” (p. 124). Hoor ons die slotwoorde uit Gone with the wind? “

“Frankly my dear, I don’t give a damn…”

Die roman speel vernuftig in op die kodes van die liefdesverhaal en hoe afgelope passie dikwels oorgaan in haat en ontnugtering.


IV.

Die roman is oorspronklik in 1961 gepubliseer en dit bly ‘n lofwaardige teks: beheersd geskryf en met subtiele toespelings op die konvensies van sowel die liefdes- as belydenisroman. Die roman word na die Boereoorlog gesitueer en die drie oujongsusters was eens gesiene Vermeulens. Sarah se wrok, Nellie se verlange na ‘n krygsgevangene op Bermuda en die borduurwerk van Pauline word weergegee deur Annemarie aan haar liefste Jan, wat haar al vyf jaar ken en haar briewe vanuit De Rust versend.

Dit begin met ‘n kraak wat sy raaksien in die muur. ‘n Soort waarskuwing vir dit wat kom, naamlik die opstal se vernietiging.

Sy is nog bitterjonk (22 jaar oud) en kry ook inligting van Bill. Vir my gevoel is haar skryfstyl en insigte dikwels te gelade vir so ‘n jong persoon en dis waarskynlik die implisiete outeur wat hier deurslaan. Maar dis ‘n klein beswaar.

En die hoedjie met die parmantige veer kry later ‘n nuwe aanslag in die roman Niggie!
Dit was vir my ‘n aangename leeservaring.


Bron:

Hambidge, Joan. 1982. "Die ek-verteller in die belydenisroman". MA, UP.  (Studieleier: Elize Botha).


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]