Michiel Heyns. Bodies Politic. Jonathan Ball, 2008. ISBN 978 1 86842 298 2.
Resensent: Joan Hambidge
Michiel Heyns binne ‘n kort bestek
‘n ryk geskakeerde romankuns tot stand gebring soos The Children’s Day, The
Reluctant Passenger en The Typewriter’s Tale, my gunstelingroman, waarin die
Henry James-gesprek met ander tekste uitvoerig bespreek is. As vertaler is hy
al bekroon en hy word deur die meeste romanskrywers as ‘n gesogte en
verantwoordelike vertaler beskou. Sy jongste roman heet Bodies Politic en in
die nawoord erken hy die bydrae van Lynda Gilfillan se redigeerwerk en dat
hierdie roman sy ontstaan gehad het binne die kreatiewe skryfkursus van Marlene
van Niekerk aan die US.
Die roman leen sig tot besondere
genderanalises. ‘n Manlike skrywer skryf ‘n roman oor stemreg vir vroue en drie
vroue se lewens word onder die loep geneem. Emmeline Pankhurst, die leier van
die Vrouebeweging; haar dogter Sylvia, die “weeping suffragette”; en Helen, wat
betrokke was by Harry, die seun van Emmeline en die broer van Sylvia. (In ‘n mindere
mate is Christabel ook daar.)
Die titel Bodies Politic is ‘n
slim gekose titel, omdat daar in die militante feminisme alreeds ‘n saak
uitgemaak word oor die politiek van die liggaam. ‘n Mens dink hier aan die
Nederlandse uitspraak van “baas in eigen buik” en veral ‘n Amerikaanse
feminisme wat sterk glo aan die politiek rondom liggaamlike waarin die private
keuses alreeds as ‘n ideologiese posisie gesien word.
Heyns se métier is om die
historiese gegewe te herinterpreteer en te fiksionaliseer soos hy in die
skitterende The Typewriter’s Tale gedoen het. Hy gebruik James se lewe as
uitgangspunt, maar hy vul vir die leser in en gee interessante wendinge aan dit
wat dikwels net by bespiegeling bly.
In die voorwoord word ons bewus
gemaak van die gebruik van Martin Pugh se The Pankhursts en Sylvia Pankhurst se
The Suffragette Movement. Vir die navorser is hierdie waardevolle wenke en daar
word ‘n verdere bronnelys verskaf. Boonop bely die outeur dat hy insidente
uitgelaat het wat nie noodsaaklik was vir sý vertelling nie. Hy skryf: "This was
to prevent cluttering my narrative with characters and incidents not germane to
my purpose”.
In The Typewriter’s Tale is alles
waargegee deur die oë van die tikster Frieda Wroth. Nou buikspreek Heyns as’t
ware deur ander vroue; ‘n tersaaklike genderkwessie vir navorsers.
Heyns kan vertel. Van die eerste
oomblik af betrek hy jou by sy karakters se lot en die roman bevat ‘n handige
“stamboom” met karakters sodat jy nie deurmekaar raak nie.
Die belangrike toets vir ‘n roman wat
op historiese gegewens / feite steun, is dat dit ook die leser wat nie die
fyner nuanses van die geskiedenis ken of verstaan nie, moet boei. Die inconnue
en ingeligte moet dus eweveel plesier aan die storie hê. Dit beteken dan die
skrywer as’t ware die gegewe so moet distilleer dat alles op ‘n storievlak sin
maak en véral boei. Ek is dikwels langtand wanneer dit kom by historiese
romans, veral as die atmosfeer bedompig is. Maar Heyns beweeg hiervan weg. Hy
fokus op die innerlike stryd tussen die karakters en die hiate wat ontstaan
tussen die persoonlike en die politieke dimensies. Wat gee mee of word
opgeoffer in ‘n politieke stryd? (Die omhelsing van die moeder word met ‘n
“pillar of salt” vergelyk om die verbittering te beskryf, 187).
Uiteraard het hierdie feministe
geweldig baie tyd spandeer aan die aanspreek van sosiale ongeregtighede sodat
kinders en die gesin in die proses verwaarloos is. Tronkbesoeke, onder andere,
het die gesinslewe verander.
“You know that I must weigh up
what you call my role as a mother against my public function. I cannot simply
ignore the fact that my duty is now in America” (61) is ‘n kernuitspraak in
hierdie roman.
Gesprekke rondom die viering van
‘n verjaarsdag of ouderdom word ter wille van die saak as irrelevant afgemaak. Alles die saak ontwille. In die stryd is
moeder en dogter kamerade; agter die skerms teenstanders (197).
Van Emmeline se perspektief,
beweeg die roman na Sylvia se weergawe wat as ‘n boek aangebied word. Die tyd
het beweeg van 1928 na 1952. In die slotvertelling (“Helen”) is die tydsduur
die sestigerjare.
Hierdie perspektiefwisseling en
tydsverandering bring uiteraard korreksies en nuanses op ervarings. (In hierdie
verband het Patrick White in The solid mandala die ekstreme gedoen waar twee
ekke mekaar so weerspreek dat die leser die eerste een as ‘n leuenaar beleef en
afmaak.) Op ‘n interessante wyse word Shakespeare, en veral King Lear, gebruik
as ‘n interteks om verdere drakrag aan die verhaal te gee. En Dickens word
gebruik om te wys hoé moeilik dit vir ‘n jong mens is om te sterf.
Die beskrywing van ‘n sekstoneel
met ‘n sieke (268) is ‘n hoogtepunt in die roman en die implikasies wat hier
gebeur en die effek op die mede-karakters. Die roman se slot is ‘n hoogtepunt:
die stryd tussen Helen en Emmeline wat uitgespeel word in die verhouding met
Fred.
‘n Man wat nie kon deel wees van
die WSPU (Women’s Social and Political Union) nie.
En nou vertel ‘n man vir ons
hierdie komplekse geskiedenis en hy doen dit uitmuntend. En, wonder ‘n mens
saam met Fred ten slotte:
In welke mate het die vroue se
militantheid die stemreg vir vroue uitgestel?
‘n Boeiende roman wat veral siekte
besonder goed uitbeeld.
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]