Jaco Kirsten. Mý kant van die saak. Tafelberg Uitgewers, . ISBN 9780624 046394
Rachelle Greeff. Alles behalwe die geheim van my whiskies. Human en Rousseau, . ISBN 978 0 7981 4937 2
Resensent: Joan
Hambidge
Twee onderhoudende rubriekskrywers binne die Afrikaanse
dagbladpers is Rachelle Greeff en Jaco Kirsten. Kirsten se loopbaan het ek
begin volg toe hy as motorrubriekskrywer week na week in Die Burger op ‘n
Donderdag my aandag kon hou. Rachelle Greeff skryf deesdae insigryke
letterkundige rubrieke, soos in Rapport. Nou onlangs het sy nie geskroom om
Imraam Coovadia aan te vat oor sy enigsins bitsige en oningelige resensie oor
‘n Breyenbach prosateks nie.
‘n Mens koop ‘n koerant om ‘n rubriekskrywer te lees. Hoeveel
rubriekskrywers kry dit reg om ‘n leser te wen vir sy / haar saak?
En hoeveel rubriekskrywers se tekste kan die toets van die
tyd deurstaan? Ek dink een so ‘n tydlose, belangrike rubriekskrywer is Audrey
Blignault. Haar essay oor die rooi rok of die vertelling van die tante wat geva
het dat sy een dag onderstebo begrawe moet word sodat sy die ou mal, deurmekaar
wêreld kan verstaan, is so ‘n een. Op sy dag het André P. Brink sout en peper
gesprinkel en vele mense die harnas ingejaag.
Hier te lande is David Bullard se satire in die Sunday Times
misgelees en sy mond gesnoer. Elke week gaap daar ‘n afwesige grafsteen waar
Bullard moes staan en ons lees mindere talente se politiek korrekte menings.
‘n Goeie rubriekskrywer moet wel, goed kan skryf.
Beide Kirsten en Greeff kan dit doen.
Dit sit nie in almal se rubriekbroek om week na week kopie te
lewer wat die toets van die tyd sal deurstaan nie òf ‘n leser sal boei nie. Op
die Jaco Kirsten voorblad staan daar ‘n Elvis Presley-kloon wat ‘n voorstelling
is van ‘n ander rubriekskrywer, Emile Joubert, wat klappe kan uitdeel, maar
hulle nie kan vat nie.
‘n Goeie rubriekskrywer het ‘n mening. Al is dit dwars,
aweregs, selfbehep, stroom-op, ikonklasties soos Koos Kombuis).
Maar dit mag nie niksseggend wees nie.
Kirsten is deur Tafelberg gepubliseer en Greeff deur Human
& Rousseau.
Kirsten is pittig. Sy CV verraai ‘n loopbaan van wydlopende
ervarings van brandweerman tot veiligheidswag; reklameman tot kopieskrywer en
joernalis.
Greeff is ‘n kortverhaalskrywer en romansier.
Marita van der Vyver beskryf die Greeff-versameling as
sjokolade wat jy as ‘n lekseltjie op ‘n slag kan benader. Maar as jy alles op
een slag verorber, maak dit nie vet of veroorsaak skuldgevoelens nie.
Kirsten se tekste kan waarskynlik met ‘n bier-beeld verduidelik
word as ‘n mens die kroeg-buiteblad in ag neem.
Met ‘n rubriekskrywer is dit soos met ‘n digter of ‘n sanger.
Jy moet van die stem hou en dan kan daar maar enigiets uitgepak of opgedis
word.
Natuurlik is hier ‘n gender-konstruksie ter sprake: waarskynlik
sal die manne eerder Kirsten aanskaf.
‘n Letterkunde het sy rubriekskrywers nodig, veral diegene
wat dwars, aweregs of stroomop is.
Vanselfsprekend is die bestes in so ‘n versameling die tekste
wat verby die onmiddellike of partikuliere indruk / belewenis /insident handel.
Greeff se “Wie wil anyway piepie soos Parker Bowles?” gee ‘n verslag van
toilette, en die verskille tussen Afrika en Londen. Nou weet elke leser dat ‘n
koerant / tydskrif ‘n maksimum van 800, dalk ‘n 1000 woorde duld. Die rubriek
moet dus binne die kort bestek sy draai gooi en sy punt maak.
Soms sou ‘n mens meer wou hoor…
Kirsten se “Twee wêrelde langs mekaar” lewer verslag van hoe
min ons weet van mekaar in hierdie land. Dit sou uiteindelik eendag as ‘n
tydsdokument gelees kan word van verblyf in Londen, terugkeer na Afrika en ons
skisofreniese land.
“So gemaak of so gebore?” sal waarskynlik in ‘n
eksamenvraestel vir jong skoliere land. Greeff skryf hier as ma: sarkasme is
uit, humor is in.
Jaco Kirsten se humor het my nogal gekielie.
Hy is onpretensieus, op die man af en macho.
By Greeff is daar weer ‘n feministiese / vroulike blik.
‘n Goeie rubriekskrywer skep sy / haar lesers.
En dit is die getroue lesers wat hierdie boeke gaan aanskaf.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]