J.C. Steyn. Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu. Tafelberg Uitgewers, 2008. ISBN 9 780624 046486.
Resensent: Joan Hambidge
Op dieselfde tyd
wat ek gevra word om die Sonkyker van J.C. Steyn te resenseer, behandel ek met
my MA studente in kreatiewe skryfwerk Die grammatika van liefhê (1975), daardie
imposante bundel van hierdie taalman. Steyn is ‘n hoogs bekroonde skrywer en sy
biografie oor N.P. van Wyk Louw bly vir my een van die grootste biografieë
geskryf in enige taal. Tuiste in eie taal (1980) is ‘n belangwekkende baken oor
taalpolitiek, ‘n studie wat deesdae weer vra om ‘n herwaardering. Wanneer ‘n
taal sy amptelike status verpand, dan…
Sonkyker
(letterlik klipsalmander) is metafoor
vir Steyn, ‘n sku persoon, maar ‘n stip, intelligente waarnemer van hierdie
komplekse samelewing waarin die Afrikaner vanaf die Boereoorlog tot nou in ‘n
posisie van stryd, herdefinisie, veragting, stryd staan. Die
Afrikaneridentiteit wat ‘n taalidentiteit is, lei tot simplistiese stellings,
soos dat Afrikaans die taal van die onderdrukker, verdrukker is. Wat is Antjie
Krog, wonder ‘n mens? Maar vra maar die gemiddelde Engelssprekende oor
Afrikaans en 1976 word as ‘n strydpunt voorgehou.
Ek begin dus my
bespreking as ‘n bewonderaar en as ‘n jong student skryf ek in ‘n
MA-verhandeling oor Dagboek van ‘n verraaier (1978) – natuurlik onder wyle
Elize Botha wat Sonkyker as ‘n boek tipeer wat haar aangegryp het. In hierdie
boek word die leser bewus van hoeveel keer Botha flink agter die skerms
opgetree het.
Die hoofstukke
word geanker rondom ‘n foto van ‘n vriend of familielid. Anekdotes,
herinneringe word dan weergegee sodat die leser ‘n besondere insig kan kry in
hoe Steyn na die lewe kyk. Vir my is die aangrypendste gedeelte die vertellinge
oor die moeder en haar versorging.
Die skuheid vir
lof en aanprysing is ‘n familie-kwaal.
Rondom die Van
Wyk Louw-biografie se navorsing en uitvoering van hierdie fenomenale taak, kry
die leser ‘n blik agter die gebeurde om. Heerlik humoristies (en menslik) is
die erkenning van foute. En ‘n beskaafde reaksie op negatiewe kritiek op sy
werk. (‘n Tersyde: Carlo Ponti was die vervaardiger van Doctor Zhivago. David
Lean is die regisseur.)
Vir hierdie
leser was dit eweneens aangenaam om vertellinge oor kollegas te hoor, soos oor
die perfeksionisme van Harrie Müller, ‘n voorste literatuurwetenskaplike wat
nooit op loop gegaan het met die jongste modes en grille binne die bedryf nie.
Soms word mense se magsposisies uitgewys. Die kwessie van Afrikaans en die
amptelike status (eers deur net ‘n handvol ondersteun) en later ‘n sterker
gevoel van eensgesindheid, word ook behandel. Ons verneem waar die bynaam die
“die groot krokodil” vandaan gekom het en die waardevolle werk van ‘n uitgewer
soos Danie van Niekerk word geboekstaaf.
Die boek
handhaaf ‘n balans tussen historiese feite en ‘n persoonlike interpretasie en
siening daarvan. Dis ‘n outobiografie, ‘n lewensherinnering. Die outeur besef
die gevaar van naamsmousery en soms word name verswyg. Of moet die leser self
besluit was die jeugvriend se dood selfmoord of nie?
Privaatheid word
eerbiedig, soos in die geval van ‘n predikant se redelik dubieuse optrede
tydens en ná ‘n aanval. Die leser lees wel tussen die lyne wat werklik gebeur
het.
Die leser word
verryk met historiese gegewens en hoe die landskap van ons politiek verander
het: Dr. Verwoerd, die ontugwet, sensuur, die verbod op Kennis van die aand,
outydse waardes, wetenswaardighede – soos oor Christaan de Wet – die ou Sappe,
verlig versus verkramp, en dies meer.
Sy beskrywing
van Jan Spies is wonderlik. Sy blik op Daniel Hugo in die kol. So ook die
vriendskappe met gewaardeerde kollegas. Daar is dikwels suggesties en
innuendo’s wat die leser self moet voltooi in die gemoed. Waarskynlik uit
respek vir naasbestaandes.
Die boek is
besonder mooi uitgegee met ‘n foto van ‘n pragtige witkopseuntjie op die
voorblad en ‘n ouer Steyn op die agterblad.
Vir my was dit
openbarend dat daar kritici was wat koel was oor sy digbundel. Vaderland, kon
hulle nie lees nie?
‘n Mens raak
bewus van ‘n leergierige man wat letterlik die hele moderne wêreld van perdekar
tot internet meegemaak het.
Dit is goed dat
hierdie boek verskyn het. Dis ‘n historiese verslag geskryf uit die perspektief
van taalgevoelige en sensitiewe mens wat Afrikaans op soveel vlakke verryk het.
Danie Botha se
monnikewerk as redakteur word uitgewys.
Die boek is
bedoel vir ‘n nismark, maar dit is ‘n belangrike dokument, pragtig uitgegee en
taalkundig goed versorg.
Dit is bekend
dat daar ideologiese teenstand was vanagter die skerms, maar dat daar danksy
wyer denke besluit is om die boek te publiseer.
Dit is ‘n
Afrikaner-blik op die geskiedenis. Maar die geskiedenis moet steeds kennis neem
van boereadel wat met onverdrote ywer hul werk gedoen het.
Dit is die werk
van ‘n alleenloper, ‘n alleenstander, ‘n sonkyker.
‘n Skugter
Vrystaatse klipsalmander.
In Johannesburg
en in Nederland.
9 Augustus 2008
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die
Kerkbode geplaas.]