Wednesday, February 6, 2013

Karin Cronjé - Alles mooi weer (2008)



Karin Cronjé. Alles mooi weerGenugtig! Uitgewers, 2008. ISBN 978 0 980 2606 8 7.

Resensent: Joan Hambidge

Die verskyning van Karin Cronjé se Alles mooi weer is ‘n prestasie vir die uitgewershuis Genugtig!. Nou onlangs het die skitterende Elders aan diens, ‘n digbundel, van Jeanne Goosen hier verskyn.

Die roman is ‘n besondere vernuftige verkenning van vertelstrategieë en binne die veld van die narratologie sal dit teoretici en gewone lesers boei.

Die verhaal van professor Hilette Barend, ‘n professor in die antropologie, se soektog na Pearl Poplin, ‘n hawelose is die oppervlak-verhaal.

Die leser beleef op ‘n unieke wyse die gemoedstoestand van die karakter. In Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan vind die gemoedskeiding plaas tussen Maria en haar skadukant, Marie. Hier, in die derdepersoon, is ons in die bewussyn van Hilette geplaas. Die roman begin:”Knap gedaan, Dame. Hier hardloop jy, aangepor deur die radio-omroeper se ontsteltenis, in jou geel uitrusting, op jou geel wankelende hofskoene, langs die grootpad”.  Sy word dus deur ‘n vertellende instansie agter die gegewe vir ons voorgestel. 

Deur die instansie se oë word daar kommentaar gelewer op die ‘profil perdu’. En later verneem ons haar kop klets (p. 11) en dan “jou kop klets. Bly ek. Geen mens het so ‘n deurmekaar gesprek nie. Man, elke mens onder die son praat so met homself. Hoe anders? Daar is hope ervarings waarop mens reageer”.

Sy is op pad Kaap toe vir ‘n gaslesing aan die UK en om ‘n vergadering by te woon oor die moontlike deïnstitusionalisering van geestesinrigtings te ondersoek, Klaus Hufnagel te sien en om Pearl Poplin op te spoor. En ook om van die ma (en dus haar verlede) te probeer ontvlug. Hierdie aspek word as’t ware die dinamo wat alles voortdryf: ons verneem later van ervarings met die broer. En ander jeugindrukke.

Sy droom van ‘n vinnig-spinnende aardbol en die leser beleef die gemoedstoestand van ‘n uiters gespanne vrou op ‘n ‘edge’.

Verbonde aan die Department Antropologie en Ontwikkelingstudies en hiermee word die politieke dimensie van die roman eweneens gelaai: van volkekunde tot ontwikkeling- of diversiteitstudies. Die ewige spanning tussen ons / hulle (polities) word uitgespeel in die opposisie tussen Hilette en Pearl.

Die opwindende aspek van die vertelstrategie is dat die leser gekonfronteer word met ‘n Banier wat lees:

Die vrou sit in eersteklas. Teen ‘n onbetaamlik hoë koste bekom. Sy neem haar lewe in oënskou.

Dit is baniere buite die bewussyn van Hilette, amper soos onthou-stiekertjies op ‘n mens se yskas.

Hierdie baniere beweeg reg deur die roman en kan gelyk gestel word aan ‘n soort ouktoriale instansie wat die vertelling beheer of manipuleer.  In die negentiende en twintigste eeuse romankuns word dit gebruik as ‘n opsomming vir die verhaal. Voor die hoofstuk begin, word daar vir die leser vertel wat gaan gebeur. Die romans van Thackeray, byvoorbeeld. In moderne romans word dit geparodieer. Daardie instansie is nie die skrywer nie. Dit is ‘n vertelinstansie wat die verskillende gegewens bymekaarhou en dikwels didaktiese kommentaar lewer op die doen en late van die karakters.

In hierdie roman is dit ‘n soort beheer oor die psigiese ineenstorting of transformasie wat die hoofkarakter gaan beleef. Sy dra immers die tekste van Pearl in haar gemoed. Deur Pearl kom sy onder andere tot ‘n ander siening van haarself en kan sy tot ‘n nuwe lewe kom: een sonder hoop of vrees.

Nec spe nec metu (nóg met hoop nóg met vrees) lui die motto.

Dus net soos dit is.

“Ek voel. Ek kyk af.

Uit my naeltjie groei ‘n sprietjie. ‘n Langneksprietjie, kyk, die moedige wasgroen blaartjies. Waai liggies op die sprietjiepunt. In die nuwe maan. Nóg met hoop, nóg met vrees” (p. 228).

Teenoor die hoogs gesofistikeerde taalgebruik van Hilette, is daar Pearl se gebruik van taal. Spelfoute, verskrywings, maar direk uit die bewussyn. En van Pearl se aliase is Maria!
Die roman se ondersoek na die middeljarige, maskerlose vrou wat ‘n intreerede moet lewer se sterk politieke kommentaar beweeg dwarsdeur die roman. Wat sy dink en sy uiter oor ons vrese, oor die spanning tussen toe en nou, word uitgebou in die verhouding met die afwesige Pearl. (Ek sou die klag van die student oor die appropriasie van materiaal sterker uitgebou het.)

Die Latynse uitsprake regdeur die roman is ander manier waarop die hoofkarakter orde probeer skep in haar gemoed. Die rol van Birdy en die verdringing van die seksuele eksperimente verdien verdere ondersoek in ‘n roman waar Hilette se verhaal met Pearl s’n gesinkopeer word. In die brief oor Hilette se ervaring van ECT (p. 212) word die leser aan ‘n mediese analise onderwerp en haar optrede – wat grens aan die obsessionele – verder onthul.

Volgens Gerrit Olivier is hierdie roman “die mees volgehoue uitbeelding in Afrikaans van ‘n persoonlikheid op die rand van rasionele beheer oor haarself”. 

Dit is inderdaad ‘n kragtoer, veral wat die unieke hantering van die vertelstrategie betref. En die gebruik van erotiese woordeskat.

Lesers wat belangstel in die narratologie, sal hierdie ‘n fassinerende teks vind waar die spanning tussen vertellende instansie en fokalisator (die een wat sien) voortreflik uitgebou word.

Die roman is voortreflik versorg deur Ria Barnard.

Dit is ‘n stunning boek.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Leopard’s Leap Mini-resensie Litnet geplaas.]