Monday, February 11, 2013

Ian McEwan - On Chesil Beach (2007)



Ian McEwan. On Chesil Beach. Cape, 2007. ISBN 9 780224081184.

Resensent: Joan Hambidge

On Chesil Beach is Ian McEwan se jongste roman. Hierdie outeur is al geruime tyd besig om die landskap van die romankuns te verbreed en toe daar onlangs met sy Atonement ‘n plagiaataanklag was teen hom, het selfs Thomas Pynchon tot sy verdediging gekom. Dit bewys dat sy tydgenote hom as belangrik ag.

Ek het bykans alles van hom gelees en waarskynlik is The comfort of strangers my allergunsteling-roman, met die behendige film van Paul Scrader wat ‘n interessante skaduwee gooi oor die roman.

McEwan ontgin dimensies tussen mense: die onuitspreekbare, die pynlike herinnering, ‘n stuk onverwerkte emosies – sy boeke is op die oog af toeganklik met verwikkelde metaforiek wat betekenisse verruim. Met elke herlees, besef jy hoe fyn hy tekste konstrueer.

Die jongste heet: On Chesil beach – ‘n skamele 166 bladsye wat die eerste huweliksnag tussen ‘n man en vrou ondersoek. Sy uit ‘n ryk, verwende agtergrond en in die musiekwêreld; hy ‘n liefhebber van die kunsgeskiedenis en uit ‘n werkersklas-lewe. Die huweliksnag is ‘n ramp en in besonderhede word die maagdelike belewenisse beskryf – en die effek daarvan op (veral) die jong vrou.

Die roman word geplaas binne die periode van die sestigerjare. In hierdie hotel word daar kommentaar gelewer op die politieke en sosiale ontwikkelinge van die tyd. Die sogenaamde ‘me’-generation, die ontdekking van seksualiteit en ander vryhede is die agtergrond waarteen hierdie gedronge verhaal afspeel. En soos altyd in alle Britse romans: die klassestryd. Edward uit ‘n werkersklas-omgewing, ‘n man wat hou van sy pint en met ‘n vinnige humeur; hierteenoor Florence wat tot die hoër orde behoort.

Hierdie “clashing of armies in the night” (metafories gesproke) is natuurlik McEwan se métier. Hy plaas dikwels karakters in spanningsvolle situasies – ‘n mens dink hier aan The comfort of strangers en die twee inconnués wat uitgelewer word aan ‘n bose spel in Venesië...

Die formasie van die klippe en rotse is die sleutel vir die begryp van die roman. Vistermanne kon altyd bepaal uit die grootte van die klip waar hullle hulself bevind.

Met ‘n tweede lees let ‘n mens op die fyn motiewe in die roman: Edward se verhouding met sy brein-beseerde moeder; die beskrywing van die vuil huis van sy jeug en hoe die hele gesin saamspeel om die moeder se illusie te versterk dat alles fyn is; Edward se humeurigheid en woede uitbarstings; Florence se walging wanneer hulle tongsoen en hy selfs sy tong in ‘n gaatjie plaas waar ‘n tand verwyder is!

Meer gaan ek nie verklap nie; die boek se krag lê in klein simboliese vinjette wat oor die gedoemde verhouding hang. Soos die ete waar Edward bekend gestel word aan vreemde disse en kossoorte: hier word sy werkersklasagtergrond belig en word die leser attent gemaak op die verskille tussen die twee hoofkarakters. In hul musiekkeuse wrd dit ook uitgespeel: sy verkies klassieke musiek; hy luister na “Roll over Beethoven”. Sy is ingehoue; hy het vinnige vuiste. Die verwysing na psigoanalise op bladsy 153 is eweneens ‘n belangrike kode vir die oopmaak an die teks: die sogenaamde Freudiaanse familie-romanse wat hier voltrek word. Die roman maak, terloops ‘n skitterende analise van die Britse sosiale opset van die tyd – veral die MacMillan-era word skerp gekritiseer. Die ontdekking van die self  (met die pil in aantog) word goed belig.

Die slot van die roman is ‘n pynlike wete dat ‘n haastige keuse of oordeel Edward se lewe verander het. Hy het haar nooit kon vergeet nie en selfs verwysings na haar soos ‘n CD-boksie met haar foto, kan hy nie aanskou nie.

In ‘n nawoord maak die outeur die leser daarop attent dat die gegewe fiktief is en dat selfs die hotel waar alles afspeel, nie bestaan nie.

McEwan is in 1998 bekroon met die gesogte Booker-prys vir sy roman Amsterdam.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]